Scheffler, Andreas Martin

Ds. Scheffler Andreas

GEBORE

16 Jul. 1911

OORLEDE

23 Nov. 2002

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1935

ORDEN

1936

standplase

1936 Lusaka

1941 Wes-Rand

1943 Saulspoort

1948 Naturelle-Sending, Kaapse Skiereiland

1957 Queenstown

Emeritus

Ds. Andreas Martin Scheffler (Teol. Dipl., DVD goud) 16/07/1911 – 23/11/2002

Ds. AM Scheffler was ‘n bekende en gerespekteerde werker in kommissies vir sending en diens van barmhartigheid. In sy lang aktiewe sendingloopbaan van 45 jaar het hy toegewyde diens in verskeie sendingvelde gelewer. Hy het veral baanbrekerswerk op die gebied van barmhartigheidsdiens, opvoeding, gesondheid en werkverskaffing in swart gemeenskappe gedoen.

Hiervoor, en vir ander gemeenskapsdiens, is hy in Maart 1987 met die Dekorasie vir Voortreflike Diens (goud) deur die staatspresident vereer. In 1988 het hy ook die RW Bowen-medalje van die SA Nasionale Raad vir Blindes ontvang. Hy was ‘n lid van die uitvoerende komitee van die raad en was ook betrokke by verskillende instansies wat diens aan gestremdes gelewer het.

Hy was onder andere die stigter en jare lange voorsitter van Mfesane, die kerklike organisasie wat barmhartigheidsdiens aan veral swartes lewer. Daar is in liefde na hom as “die vader van Mfesane” verwys. Mfesane het ook aan hom, uit diepe dankbaarheid en erkenning, ‘n oorkonde oorhandig en hy is eenparig verkies as eerste lewenslange erelid van die direksie van Mfesane.

Andre Scheffier is op 16 Julie 191 I op Herbertsdale gebore. Sy vader was Friedrich Carl Scheffler en sy moeder was Lydia Staklies wat as sendelinge van die Berlynse Lutherse Sending vanuit die verre Oos-Pruise na Suid Afrika gekom het. Hy het grootgeword op Haarlem in die Langkloof en later op Mosselbaai, waar sy ouers sendelinge was. Hy het sy skoolopleiding aan die laerskole op Haarlem en Mosselbaai (1917 tot 1924) ontvang en in 1928 by laasgenoemde gematrikuleer.

As kind reeds het hy ‘n duidelike sendingroeping gehad. In die winter van 1929 het hy hom as sewentienjarige seun in Bloemfontein bevind waar hy tydens die groot depressie in die Akteskantoor werk gekry het. Maar na die Here sy roeping bevestig het, het hy in 1932, met die seën van sy vader, vir ʼn sendingkursusaan die Sendinginstituut van die NG Kerk op Wellington ingeskryf.

Hy het ‘n Diploma in die teologie in 1935 aan die Hugenote-Kollege verwerf en is in die jaar gelegitimeer. As student het hy in die hoofbestuur van die Christen-Studentevereniging gedien en gehelp om CSV-konferensies te organiseer. Hy was ook ʼn lid van ‘n Stranddienspan en het bergklimuitstappies geniet.

In 1936, toe hy vir ‘n aantal maande ‘n kort mediese kursusvir sendelinge aan die Livingstone College in Londen gevolg het, het hy onder andere Bielefeld in Duitsland besoek. Daar het die werk van die Bethel-inrigting vir epileptici ‘n onuitwisbare indruk op hom gemaak. ‘n Saadjie is in sy hart gesaai wat hom bygebly en mettertyd gegroei het tot die Sinodale Kommissie van die destydse NG Bantoekerk se besluit in 1954 om die Efata-skool te vestig.

In Julie 1936 het hy na sy eerste werkkring in Zambië vertrek. Die sending in Zambië het deur die jare baie na aan sy hart gelê. In Lusaka het hy vir Catharina Jacoba Steenkamp ontmoet, wat later as medesendeling ʼn sleutelrol is sy lewe gespeel het. Sy het aan hom lewensruimte gegee om te doen waarvoor die Here hom bestem het. Hulle is op 17 Oktober 1939 getroud. Haar ondersteuning in hulle gesinslewe, in die gemeente, in sy verantwoordelikhede op sinodale en Algemene Sinodale vlak asook by Efata en Mfesane was onontbeerlik. Uit hierdie geseënde huwelik is drie kinders gebore, Catharina Jacoba (Rini, 14 Februarie 1941); Friedrich Edward Andre (27 April 1942) Eddie, wat ook predikant is, en Erica Charlotte. Daar is ook ses kleinkinders.

Ds. Scheffler se eerste standplaas was Brokenhill en Lusaka met plasing te Komato in Zambië namens die Sending van die Vrystaatse NG Kerk. Hy is in 1936 daar georden. In 1941 is hy na Suid-Afrika beroep om aan die Wes-Rand sendingwerk te doen. In 1943 het hy diens in die gemeente Saulspoort van die Bakgatla-sending aanvaar, maar in 1948 is hy verplaas na Langa en Nyanga in die Kaapse NG Kerk.

In 1957 het ds. Scheffler verskuif na die NG Kerk in Afrika se gemeentes in Ciskei en Queenstown. Hier ervaar hy pragtige sendingoplewings. In 1961 is hy terugberoep na Langa en Nyanga. Hier het hy kerke help bou in Langa en Guguletu. Sy laaste standplaas, waar hy kosbare werk gedoen het, was die gemeeente Mfuleni in die Hottentotsholland-streek. Ook hier het hy gehelp kerk bou. Hy was verantwoordelik vir die oprigting van inrigtings vir dowes en blindes, die Efata-skool in Umtata, die Khanyisa-skool vir blindes in Port Elizabeth en die Noluthando-skool vir dowes in die Kaapse Skiereiland.

Ds. Scheffler sal egter die beste onthou word vir sy betrokkenheid by Efata en Mfesane. Saam met dr Koot Oosthuisen het hy, in opdrag van die sinode, die reusetaak aangepak om met die oprigting van die skool vir blindes en dowes by Efata te begin. Daar was talle uitdagings: geld, geboue, toerusting en personeel. Hulle het egter die visie gehad om die skynbaar onmoontlike vir God te doen. Hulle het letterlik die land deurkruis om geld en steun vir Efata te kry. Die kerk was aangegryp deur die nood van die kinders. Deur die genade van die Here het hulle meesterlik in hulle werk geslaag. Vandag staan daar skole vir blindes, dowes, en gestremdes in Umtata, Oos-Londen, Port Elizabeth en Kaapstad.

Ds. Scheffler het die vermoë gehad om met sy aansteeklike entoesiasme, mense en instansies betrokke te maak by die sake wat vir hom belangrik was.

Hy het in die Sinodale Kommissies van die NG Kerk in Afrika (NGKA) gedien en was moderator van die Kaaplandse Sinode van die NGKA, sowel as van die Algemene Sinode van die NGKA. Hy het ook in die Kerkkantoorkommissie gedien en was voorsitter van die Sendingpers van die NGKA in Bloemfontein. Ds. Scheffler was die eerste voorsitter van die NG Kerk se Lektuurfonds en was ook in ‘n stadium die voorsitter van die NG Kerk se Sendingkommissie.

Ten spyte van al sy verpligtinge, het ds. Scheffler nooit sy bediening in sy gemeente afgeskeep nie. Sy bediening het hom ook na Robbeneiland geneem waar hy ʼn persoonlike vriend van oudpres Nelson Mandela geword het. Met sy heengaan, het mnr. Mandela geskakel om sy simpatie met die familie te betuig.

In 1980 het ds. Scheffler emeritaat aanvaar. Hy was toe reeds 69. Daarna het hulle in die Strand gaan woon, maar ds. Scheffler was steeds betrokke as bestuurslid van die Efataskool- en Nasorgdienste, die Vakuhambaskool vir Kreupeles in Oos-Londen, die Umtataskool vir Blindes en Dowes, die Khamizaskool vir Blindes in Port Elizabeth en die Noluthandoskool vir Dowes in Kaapstad.

Hy is op 23 November 2001 in die Serenitas-aftreeoord in die Strand Oorlede. Sy eggenote is minder as ‘n jaar vroeër, op 15 Desember 2000, ook in die Strand Oorlede.

Vir sy kinders was hy ‘n liefdevolle pa wat so veel as moontlik tyd saam met hulle bestee het. (Die strafwerk het hy glo aan sy vrou oorgelaat.) Hy was lief om in die huis doenig te wees en kon lekker kook. Verder was hy ʼn ywerige tuinmaker.

Ds Andre Scheffler sal onthou word weens sy kinderlike geloof in God, sy hart vir die nood van sy naaste, sy vermoë om sy visie met mense te deel en hulle daaroor opgewonde te maak, sy deursettingsvermoë en sy ongelooflike werkvermoë.

(Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 27/01/1997 ingevul het, sowel as artikels oor hom, na van ds. Giep Louw, wat voorsien is deur Rini Scheffler, en ‘n gesprek met sy seun.)