Sandenbergh, Hercules Alexander

Ds. Sandbergh Hercules

GEBORE

7 Sep. 1910

OORLEDE

26 Aug. 1983

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1938

ORDEN

1939

standplase

1939 Jeppestown

1940 Boksburg

1947 Bellville

1948 Bellville-Wes

1950 Alberton

1958 Lambton (Germiston)

Emeritus

Ds. Hercules Alexander (Santie) Sandenbergh (7.9.1910 – 26.8.1983) het, behalwe drie jaar in Bellville by Kaapstad, die orige van sy 38-jarige bediening aan die Witwatersrand deurgebring. Hy was uit Murraysburg afkomstig en matrikuleer op Prieska. Van die Universiteit Stellenbosch kry hy ‘n BA- (1934) en MA-graad (1937); terwyl hy in 1938 daar aan die Kweekskool ook die proponentseksamen met welslae aflê. Op Oujaarsdag daardie jaar kom hy in Johannesburg aan om as hulpleraar in Jeppestown diens te aanvaar. Weldra word hy as medeleraar daarheen beroep en op 29.4.1939 in sy amp bevestig. In September 1940 volg hy ds. J M Louw op, wat nege maande tevore oorlede is na ‘n dienstyd van nagenoeg 41 jaar in Boksburg. Begin Maart 1947 word hy as medeleraar in Bellville bevestig en na die afstigting van Bellville-Wes later dieselfde jaar, word hy op Skrikkeldag 1948 as leraar van die nuwe gemeente bevestig. In November 1950 keer hy na die Rand terug om predikant van Alberton te word en begin Februarie 1958 van Lambton wat pas die vorige jaar vir die grootste gedeelte van Germiston-Suid afgestig is en waarheen hy twee keer beroep is. Hy en sy tweede eggenote ‘n dogter van wyle ds. R J B Feenstra wat lank in Benoni gestaan het vestig hulle na sy aftrede op 29.5.1977 in Elarduspark, Pretoria, maar hy sterf skielik aan hartaanval op Piet Retief waar hy na sy vrou se heengaan in 1982 by sy dogter gaan woon het. Reeds in sy studentejare het hy deur sy netjiese voorkoms, sy vriendelike geaardheid en sy wellewendheid altyd ‘n aangename indruk gemaak. Hy het sy studie ernstig opgeneem en toe al die verwagting gekoester om ‘n stadspredikant te word. Dwarsdeur sy bediening was sy besondere kenmerk sy hartstogtelike toewyding aan sy taak as herder en leraar van sy gemeente, terwyl sy werkywer andere meermale verstom het. Vir homself was die bediening altyd ‘n uitdaging en hy het geglo dat, naas die prediking, besoekwerk en die persoonlike omgang met mense ‘n leraar se allerbelangrikste werk was. Saam met sy innige hartlikheid, sy opgewektheid en die liefde wat onder alle omstandighede van hom uitgegaan het, het die bruisende geesdrif waarmee hy enige taak aangepak het, sy deeglikheid en noukeurigheid, sy evangeliese ywer en sy goed voorbereide preke ‘n blywende indruk gemaak en vir baie tot besieling gedien. Van sy uitmuntende administrasievermoë en goeie kennis van finansies het die Transvaalse Kerk goed gebruik gemaak en hy dien dusnie alleen 15 jaar in die Sinodale Kommissie nie, maar ook lank en met onderskeiding in die Sinodale Kommissie vir Finansies en as voorsitter van beide die Kerkkantoor- en die Sinodale Begrotingskommissie. In die Ring van Germiston het hy feitlik sinoniem geword met die Finansiële Kommissie. Van die Ring van Boksburg was hy skriba en van die ring, sowel as van die Ring van Germiston, ‘n geruime tyd voorsitter. Nadat die gemeente in die eerste byna 2½ jaar van sy bestaan in die skoolsaal aanbid het waarin sy eerste pastoriepaar ook verwelkom is, neem Lambton op 7.11.1959 sy kerkgebou in gebruik. Verder getuig die kerkorrel en die kerksaal van die dryfkrag en die veelsydige organisasietalent van die gemeente se eerste leraar. Ook het haas elke openbare liggaam hom as ‘n bedrywige. En waaksame lid geken. Ds. J S (Kobus) Sandenbergh van Unitaspark was die jongste van die vier kinders uit sy tweede huwelik.