’n Welgestelde weduwee, Margaretha Anna Moller (1743–1815), het vroeg in die 19de eeu, aan die Kaapse regering voorgestel dat hulle ’n gebou oprig waarin ou, afgeleefde en behoeftige vroue opgeneem kon word. Sy sou self daarvoor ’n som geld afstaan, waarvan die rente vir die bedryf van die ouetehuis gebruik sou kon word.
Die owerheid het geredelik ’n stuk grond beskikbaar gestel aan die bopunt van Langstraat, aan die westekant langsaan die perseel waarop die Duitse Evangelies-Lutherse kerk Sint Martini later gebou wou word.
Moller het vanaf omstreeks 1808 af en toe aansienlike bedrae bygedra en ná vyf jaar het die direksie £3 500 byeen gehad, waarvan sy die meeste geskenk het. Tog het dit nog nie tot die oprigting van ’n bepaalde gebou gekom nie, om meer as een rede. Intussen is sommige bejaarde vroue wel uit die rente van die ingesamelde bedrag onderhou.
Enkele jare later besluit die weduwee Moller toe om ’n weesinrigting daar te stel en £1 200 daarvoor te skenk. Die grond wat bestem was vir Het Oude Vrouwen Huis, kon hiervoor aangewend word.
Goewerneur Caledon (1807–1811) was besonder ingenome met die plan en dra uit sy eie sak 5 000 riksdaalders daartoe by, terwyl sy opvolger, lord Charles Somerset, in Julie 1814 ’n rentelose voorskot van 8 000 riksdaalders uit die fonds van die Weeskamer beskikbaarstel.
Dit het egter nog langer as ’n jaar geduur voor die gebou, ontwerp deur die Franse argitek Louis Thibault, voltooi is. Kort voor Thibault se dood in November 1815 het ds. J.P. Serrurier van die Groote Kerk op 20 September 1815 die gebou in Kotzestraat ingewy en die weeshuis amptelik geopen.
’n Kollekte ná die plegtigheid het £160 opgelewer. Die weduwee Moller se bydrae met die jare was nie minder nie as £6 000.
Die weeshuis het in 1923 na ’n ander perseel in die Tuine verhuis. Mettertyd is die ou gebou so verander dat, teen die tyd dat dit in 1981 gesloop is, dit onherkenbaar was. (Geskryf deur Morne van Rooyen).