GEBORE
28 Apr. 1912
OORLEDE
9 Des. 1988
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1951
ORDEN
1952
standplase
1952 Merwe, N.R.
1953 Philippolis
1956 Montagu
1959 Loeriesfontein
1961 Philadelphia
Emeritus
–
Ds. Willem Andries Rossouw (28.4.1912 – 9.12.1988).
Hy is op 28 April 1912 te Springbok gebore en is op 9 Desember 1988 te Delareyville oorlede waar hy op 13 Desember 1988 te ruste gelê is. Hy het in 1945 in die huwelik getree met Mimmie Brand van Moorreesburg. Hulle seun is op 27 November 1946 gebore en is op 21- jarige ouderdom in ‘n tragiese motorongeluk Oorlede. Die Rossouw-egpaar het nooit werklik oor die dood van hierdie seun gekom nie. Hulle het hom ‘n paar jaar gelede op Delareyville laat herbegrawe. Ds. Rossouw is langs sy seun begrawe. Ds. en mev. Rossouw het as oefenaarspaar op Springbok, De Doorns en Touwsrivier gewerk. Hulle gaan as sendelingspaar na Midde-Afrika en werk vir agt en ‘n half jaar by die sendingstasie Merwe. Daarna bedien hulle die gemeentes Philippolis, Montagu, Loeriesfontein, Philadelphia, Northam, Merlindale en Glaudina. Hy aanvaar sy emeritaat op 20 Augustus1977 en vestig hom op Delareyville. Sedert 1977 werk hy saam met die leraar van Delareyville-Oos. Hy werk ook in die gemeentes Tswaing en Kunana van die NG Kerk in Afrika. Gedurende die afgelope elf jaar het ds. Rossouw onder blank en nie-blank werk van onskatbare waarde gelewer. Sedert 1980 tot en met sy dood het hy ‘n groot rol gespeel in die Wêreld-sendingprojek van die Sinode van Wes-Transvaal. Hy het in die jare al die bedankingsbriewe vir al die donateurs geskrywe. Dit is in totaal nagenoeg 4 000 briewe. Hy het ook die Verre-Ooste twee keer besoek. Tydens een van sy besoeke het hy by die Christene in die noorde van Sri-Lanka huisbesoek gedoen. Daar het ook meer as een artikel oor Wêreldsending uit sy pen gekom. Sy skielike afsterwe was ‘n groot skok vir die mense van Sri-Lanka. Daar is dan ook spesiale gedenkdienste ter ere van hom in Sri-Lanka gehou. Sy laaste lewensjare was gekenmerk deur ‘n verlamming van albei sy bene. Hy het baie swaar oor die weg gekom en het eers met krukke geloop, maar moes teen die einde van ‘n rystoel gebruik maak. Daar was min dae dat hy nie onder pyn gebuk gegaan het nie. Ten spyte hiervan het hy volhard met sy dagtaak en het hy elke dag siekes besoek. Sy vriendelikheid en sy mooi sin vir humor het ‘n baie diep indruk gemaak op almal met wie hy in aanraking gekom het. As sendeling was hy ‘n getroue dienskneg. Hy het uitgemunt as ‘n besondere begaafde prediker. Sy administratiewe bevoegdhede was goed bekend. Hy was ‘n goeie spreker op sinodale vergaderings en het nie geskroom om sy saak met oortuiging te stel nie. Hy het in vele kommissies gedien van sowel ringe as sinodes in wie se gebiede hy gewerk het. Hy was ook bekend as ‘n volksman en het dikwels as spreker opgetree by volksfeeste. Ds. Rossouw sal onthou word as pioniersending in Afrika, ‘n geliefde Leraar en kollega in die gemeentes waar hy gewerk het, ‘n grootwildjagter in Afrika, ‘n groot kindervriend, ‘n vriend in nood, ‘n vader in sy huis, ‘n volksman, ‘n stoere Afrikaner, ‘n harde werker en ‘n man wat altyd vir ander omgegee het.