Rossouw, Hendrik Willem

Prof Hennie Rossouw

GEBORE

7 Des. 1933

OoRLEDE

9 Jan 2021

UNIVERSITEIT

BA; MA; Dip Teol.; BD (US); Th D (Vrije Univ Amsterdam)

gelegitimeer

ORDEN

standplase

 EMERITEER

Prof Hendrik Willem (Hennie) Rossouw is op 7 Desember 1933 te De Rust naby Oudtshoorn gebore. Hy matrikuleer in 1950 aan die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch met ses onderskeidings en eerste plek op die Kaaplandse merietelys.

In 1951 skryf hy by Maties in vir die graad BA (Admissie) met hoofvakke Grieks, Latyn en Filosofie, en behaal dit in 1953. In 1955 behaal hy ‘n MA in Filosofie, in 1956 die Kandidaatsdiploma van die Teologiese Seminarie en in 1957 die BD, almal cum laude. In 1958 vertrek hy na Nederland waar hy sy telogiese studies aan die Vrije Universiteit van Amsterdam voortsit. Daar behaal hy in 1963 ‘n doktorsgraad in Teologie summa cum laude. Sy proefskrif, onder promotorskap van GC Berkhouwer is getiteld Klaarheid en Interpretasie. Dit handel oor die vraag na die helderheid of toeganklikheid van die Bybel in die tradisie tot en met die Reformasie.

Met sy terugkeer in 1963 word hy aangestel as senior lektor in filosofie aan die US. In 1972 word hy bevorder tot professor en van 1985 tot 1993 dien hy as eerste viserektor (akademies) van die US. Hy het in 1993 afgetree, waarna hy vir drie jaar as ereprofessor in Filosofie aan die Randse Afrikaanse Universiteit gedien het. In 1998 is ‘n eredoktorsgraad (D.Phil honoris causa) deur die Universiteit Stellenbosch aan hom toegeken.

In 1984 ontvang hy die Andrew Murray-prys vir Christelike literatuur vir Die sin van die lewe. Hy het ook die Stalsprys vir filosofie (1998), die NP van Wyk Louw-prys vir die Geesteswetenskappe en ’n medalje van die Sentrum vir Wetenskaplike Ontwikkeling (RGN) ontvang. Hennie Rossouw het ook in die rade van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, die Rade van die Suid-Afrikaanse Biblioteek, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Universiteit van Wes-Kaapland gedien.

Hennie Rossouw was getroud met Hester Heese, wat hom reeds in Januarie 1971 ontval het. Uit die huwelik is vyf kinders gebore, nl Henk, Hans (in 1981 op 19-jarige ouderdom oorlede), Linda, Gerda en Hester. In Desember 1974 trou hy met Leonora de Kock (née Naudé).

Hennie Rossouw is op 9 Januarie 2021 oorlede weens ‘n gevorderde stadium van Parkinson se siekte.

Sien ook: https://ecke.co.za/rossouw-hendrik-willem-hennie/