Raubenheimer, Pieter Jacobus

 

GEBORE

01 Apr. 1910

OORLEDE

01 Jan. 1997

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1948

ORDEN

1949

standplase

1949 Bredasdorp

1951 Bellville-Wes

1960 Wellington

Emeritus

Ds. Pieter Jacobus Raubenheimer HPOD, BA, BTh 01.04.1910 – 01.01.1997

Pieter Raubenheimer is op 1 April 1910 gebore op Vlakteplaas in die distrik Oudtshoorn. Sy vader, Helgaard, was ‘n boer. Hy deurloop sy skoolloopbaan aan die laerskool en hoërskool op De Rust vanaf 1917 en matrikuleer in 1929. Hy neem deel aan sport, voordrag en sang en ook die debatsvereniging.

In 1932 gaan hy na Stellenbosch waar hy in 1934 ‘n HPOD-Diploma behaal, daarna BA in 1944 en BTh in 1948. In die studiejaar neem hy deel aan die Strewersvereniging, dien in die Polumniabestuur, wen ‘n redenaarskompetisie en doen sendingwerk op plase.

In 1930 en 1931 werk hy eers in die bank en nadat hy sy Diploma behaal het, gee hy onderwys (1935 tot 1941).

Hy trou op 2 Julie 1940 met Elizabeth Johanna Louw en hulle het sewe kinders, naamlik Helgard, Paul (Louis); Petro, Suzette, Pieter, Elsabe en Lydia. By sy oorlye was daar reeds twaalf kleinkinders, agt seuns en vier meisies.

Hy word op 25 Februarie 1949 op Bredasdorp georden en bedien daardie gemeente tot in 1951. In 1951 aanvaar hy ‘n beroep na Bellville-Wes waar hy tot in Augustus1960 arbei. Van 19 Augustus1960 dien by tot sy emeritaat op 27 April 1980, in die Moedergemeente op Wellington. Hy was toe reeds 70 jaar oud.

Na sy aftrede doen hy nog vir 12 jaar geestelike werk in Wellington deur die bejaardes van Silwerkruin, die tehuis van die ACVV, en die woonstelle Fyngoud en Saffier, pastoraal te versorg.

Hy was ‘n deeglike mens wat sy preke baie goed voorberei het en hy het baie waarde geheg aan huis- en siekebesoek. Persoonlike kontak met sy mense was vir hom baie belangrik. Hy het ook baie aandag aan die jeug gegee. Volgens sy huisgesin kon ‘n mens nie ‘n beter pa kry nie.

Sy familie skryf in ‘n huldeblyk aan hom onder meer die volgende: Vir ons as gesin en familie was sy pligsgetrouheid en toewyding aan waaraan hy geglo het, byna spreekwoordelik. Vir opgesmuktheid en aanstellings was daar eenvoudig nie plek in sy lewe nie. As mens was hy reguit, opreg en eg. Selde, indien ooit, het hy probeer om die kalklig vir homself op te eis. Die teenoorgestelde was waar. Hy het graag bewondering vir prestasies van andere uitgespreek en was nie suinig met sy komplimente nie. Die kalmte en rustigheid van sy daaglikse lewe was aansteeklik en het wyer uitgekring. Hy het ‘n deurleefde geloof gehad en dit beoefen saam met ‘n absolute lojaliteit teenoor almal. Negatiwiteit was nie in sy woordeskat nie. Volgehoue bemoediging en aansporing van mense, veral die na aan hom, was kenmerkend. Die erkenning van die bestuur van die Almagtige Skepper van hemel en aarde en die aanvaarding van ons beperkte rol as mense, het sy lewe gerig. So het hy, ondanks lyding aan die einde van sy lewe, sy laaste reis met oorgawe en aanvaarding aangepak. (DJ Viljoen, aan die hand van biografiese gegewens deur sy eggenote en seun, Louis, voorsien.)