Prinsloo, Willem Sterrenberg

Ds. Prinsloo Willem

GEBORE

19 Aug. 1944

OORLEDE

05 Okt. 1997

UNIVERSITEIT

BA, BD, DD

gelegitimeer

1969

ORDEN

1971

standplase

 1971 Standerton

1975 Dosent UP

Emeritus

Die wyse waarop prof Riempies Prinsloo, briljante akademikus, voortreflike en joviale mens, gesterf het, het die hele kerk en die akademiese wêreld verslae gelaat. Op die aand van 5 Oktober 1997 het hy homself op 53-jarige ouderdom op die Universiteitsterrein vergas. Vir almal was dit onverklaarbaar en ondenkbaar. Tog word hierdie daad, hoe onaanvaarbaar dit ook al is, juis deur mense wat hom goed geken het, gesien as ‘n getuienis van die innerlike adel van hierdie man. Daar was gerugte wat hom verbind het aan ‘n ander vrou. Al was dit onwaar, het hy dit (volgens sommige) gesien as ‘n skadu wat oor sy lewe en die kerk gekom het en waarmee hy nie wou saamleef nie. Wie sal werklik weet? Die feit is egter dat die muis Riempies Prinsloo onthou en waardeer word en nie hierdie skadudaad nie.

Willem Prinsloo is op 19 Augustus1944 op Vrede gebore. Na sy skoolloopbaan is hy na die Universiteit van Pretoria waar hy as student ‘n belangrike rol gespeel het. Hy was onder andere primarius van Sonop, en het ook in die Studenteraad in 1968 en 1969 gedien. Hy het, benewens die BA- en BD-grade, ook sy DD-graad aldaar in die Ou Testament verwerf. Sy liefde vir die universiteit het hy oor en oor verklaar. Vir hom was die Universiteit van Pretoria baie meer as net geboue en klaskamers. Dit was eerder ‘n ruimte waarin hy kon gedy, ‘n ruimte waarin hy hom met al sy talente volledig kon uitleef. Daarom was hy so lief vir hierdie plek en al sy mense. Hy was ‘n Tukkie in murg en been.

Hy is in 1969 in Pretoria gelegitimeer en sy eerste en enigste gemeente was Standerton waar hy op 17 April 1971 georden en bevestig is. Die kerk het egter sy bekwaamhede raakgesien. Daarom was hy sedert 1 Januarie 1975 as senior lektor in Bybelkunde aan die Teologiese Fakulteit van Pretoria aangestel. In 1976 het hy senior lektor in Ou-Testamentiese Teologie en Eksegese geword en in Maart 1978 is hy tot medeprofessor in die Fakulteit Teologie bevorder. In 1989 het hy dekaan van die Teologiese Fakulteit (Afd B) geword. Hy bly dit tot op 31 Desember 1996 toe hy as dekaan uitgetree het. Daarna het hy steeds lesings gegee.

Riempies Prinsloo was student, skrywer, internasionaal erkende Psalm-kenner, redaksielid van plaaslike en buitelandse vaktydskrifte en voorsitter van die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid Afrika. Hy was ‘n uiters knap departementshoof en dekaan wat die Teologiese Fakulteit tot nuwe hoogtes gevoer het. Hy kon mense opgewonde maak oor Hebreeus, die Ou Testament en die Psalms.

As Ou-Testamentikus by uitnemendheid, was hy verantwoordelik vir talle publikasies en het hy pas voor sy dood ʼn Kommentaar oor die Psalms voltooi. In 1994 het hy die Totius-prys vir Teologie en die grondtale van die Bybel van die Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. In 1982 het hy die Von Humboldtbeurs vir navorsing in Duitsland verwerf. Hy sou in 1998 vir die tweede been van hierdie studies na Bamberg in Duitsland vertrek het.

Vir sy medeprofessore was Riempies ‘n hooggeagte kollega en vriend. Hulle skryf met die grootste respek van hom: Iemand soos Riempies Prinsloo kom dalk net een maal in ‘n leeftyd. Mense soos hy is maar yl gesaai. Vir min is dit gegun om hulle leefwêreld te omvorm, mense te beïnvloed en duidelike spore na te laat. Riempies was so iemand. Waar hy gekom het, het hy ‘n verskil gemaak. Wie hom geken het, sal hom lewenslank onthou. Wat hy geleer en geskryf het, sal nog lank voortbestaan. Hy het diep spore in ons mensewêreld getrap en ons sal dit nog lank sien en daarin wandel.

`Hy was ‘n wonderlike vriend. Soms reguit en op die man af, maar hy het vir sy mense, sy vriende, omgegee. Daarom was hy altyd bereid om te help en tegemoet te kom. Die pad vorentoe is onseker, maar die mooi herinnerings sal ons troos. Talle studente sal ook sy denke tot voltooiing bring.’

Riempies word oorleef deur sy eggenote, Avrille, twee dogters en ‘n seun. Al treur die fakulteit en die hele kerk, word die rou oortref en versag deur die wete dat hierdie besondere mens se einde ook ‘n boodskap van persoonlike integriteit wil oordra. – Dirk Viljoen, aan die hand van berigte in Die Kerkbode, koerante en huldeblyke onder andere deur Conrad Wethmar, Jurie le Roux en Christina Landman.