
GEBORE
12 Mrt. 1921
OORLEDE
24 Aug. 2010
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1951
ORDEN
1952
standplase
1952 Vanderbijlpark
1959 Allanridge
1962 Reitzpark
1965 Kroonstad-Wes
1970 Kroonstad-Môrewag
1974 Leraar vir Gevangenes OVS
1977 Kroonstad-Morewag (Kommandementskpln. met opdrag: gevangenisbearbeiding Kommandement Kroonstad)
Emeritus
1984
Ds. Peet Pretorius (BA) 12 Maart 1921 – 24 Augustus 2010
Petrus Johannes Pretorius is op 12 Maart 1921 in die distrik Heilbron gebore. Sy pa, Abraham JacobusPretorius, was ‘n boer en sy ma, Helena Johanna Christina Catharina de Beer, ‘n huisvrou. Peet het sy skoolopleiding op Heilbron begin, maar later het sy ouers na die distrik Bothaville en later na die plaas Soetvlei-Oos in die distrik Kroonstad getrek.
Peet moes ‘n jaar lank die skool verlaat om sy pa op die plaas te help, maar het na die skoolbanke teruggekeer om sy matriek op Kroonstad te voltooi. Peet het na skool eers in Germiston gewerk en later by die Departement Waterwese by die Vaaldam. Hy het van vroeg af die roeping gehad om predikant te word en het buitemuurs begin studeer aan die Universiteit Pretoria. Hy het hom sterk daarvoor beywer dat Grieks en Hebreeus buitemuurs gedoseer word, wat toe wel so gebeur het tot voordeel van baie toekomstige studente. Aan die begin van 1948 het hy toelating tot die Fakulteit Teologie (Afd. B) gekry en sterk leiding geneem in die Deo Gloria-redaksie. Dit was ‘n groot oomblik toe hy op 25 November 1951 as proponent gelegitimeer is.
Sy eerste gemeente was die NG Gemeente Vanderbijlpark, waar hy op 19 Julie 1952 met handoplegging ontvang en bevestig is. Hier het hy die eerste Moederkerk op Vanderbijlpark gehelp ontwerp en bou. Hierna het sy bedieningspad na die NG Gemeente Allanridge geloop, waar hy op 31 Oktober 1959 bevestig is. Op 15 September 1962 het hy leraar van die NG Gemeente Reitzpark in Welkom geword, waar hy ‘n gemeente in nood en armoede moes ondersteun.
Op 18 September 1965 het Peet die geleentheid gekry om na sy tuisdorp terug te keer toe hy leraar van die NG Gemeente Kroonstad-Wes geword het, daarna is hy op 7 Augustus1970 as eerste leraar van die NG Gemeente Kroonstad-Môrewag bevestig, ‘n besondere geleentheid om die gemeente in sy vormingsjare op te bou. Onder sy leiding is ‘n nuwe kerkgebou opgerig. Die geskiedkundige ou preekstoel van die NG Moedergemeente Heilbron is deur hom opgekoop, oor jare heen gerestoureer en het toe ‘n ereplek in die nuwe kerkgebou gekry.
Op 24 November 1974 het ‘n nuwe bedienings terrein begin toe hy kapelaan in die Gevangenisdiens op Kroonstad geword het. Op hierdie terrein het hy sulke diep spore getrap dat hy op 16 Januarie 1977 streek kapelaan van die Kommandement Kroonstad geword het, ‘n werk wat hy met oorgawe verrig het totdat hy op 18 Maart 1984 emeritaat aanvaar het. Die egpaar het op Kroonstad gebly en Peet het nog ‘n jaar lank as hulpleraar in die NG Gemeente Kroonstad-Suid uitgehelp.
Ds. Peet Pretorius is op 37-jarige leeftyd op 12 April 1958 met Dini Goote, ‘n maatskaplike werker van die Abraham Kriel-Kinderhuis, getroud. Sy was ‘n wonderlike lewensmaat vir hom en hulle was 52 jaar lank getroud. Uit die huwelik is vyf dogters gebore: Ronell Leonard, Heleen Saaiman, Dini Prinsloo, Annemarie Pretorius en Petra Pieters. Twee van sy dogters boer afsonderlik op die familieplaas Soetvlei-Oos in die distrik Kroonstad. Ds. Peet is op 24 Augustus2010 in die ouderdom van 89 jaar Oorlede. ‘n Dankdiens is in die NG Gemeente Môrewag op Kroonstad gehou en die teraardebestelling was op die familieplaas Soetvlei-Oos.
Sy dogters onthou: “Ons pa was waarlik ‘n man van God. Hy sal onthou word vir sy liefde vir sy Skepper, vir sy volk, maar ook die liefde en deernis vir sy medemens. Hy het as mens waarlik die vrug van die Gees uitgestraal.”
Hulle onthou hoe hy altyd op die preekstoel sy toga met sy hande oor sy bors gevou het, ‘n toonbeeld van sy nederige en saggeaarde menswees terwyl hy God se almag verkondig. Een van sy kleinkinders vertel: “My oupa was nie die tipiese boepens-omie met ‘n welige snor en pyp in die mond nie. Hy was klein en skraal, amper benerig. Met sy waardige gestaltetjie en vinnige stappie het hy by menige mense die grootste respek afgedwing: nie omdat hy groot van gestalte of dominerend van geaardheid was nie, maar juis omdat hy op sy sagte en innemende manier ‘n indruk op die mense om hom gemaak het.” – Dr Gerdrie van der Merwe.