Pretorius, Jan Lodewyk

Ds. Pretorius Jan

GEBORE

05 Okt. 1916

OORLEDE

06 Aug. 1998

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1940

ORDEN

1941

standplase

 1941 Christiana

1948 Petrusburg

1962 Sekr. Diens van Barmhartigheid O.V.S.

Emeritus

Ds. Jan Lodewyk Pretorius (BA) 05/10/1916 – 06/08/1998

DS Louwtjie Pretorius was in sy laaste dienstyd ‘n hoogsgewaardeerde predikant in sinodale diens met opdrag: diens van barmhartigheid in die Vrystaatse Kerk.

Hy is op 5 Oktober 1918 op die plaas De Dam in die distrik Bloemfontein gebore en was die enigste seun van wyle senator Willem Pretorius na wie die Willem Pretorius-Wildtuin vernoem is. Hy het skool gegaan aan die Grey Kollege (sekondêr) waar hy ook sy matriek behaal het. Daarna het hy na die Vrystaatse Universiteit gegaan en sy BA-graad verwerf. Hy het sy teologiese studies aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi en is in 1940 gelegitimeer.

Nadat hy tydelike diens in die NG Gemeente Uniondale verrig het, is hy op 8 November 1941 in die NG Gemeente Christiana georden en bevestig. Hy het vir byna sewe jaar daar gearbei en toe ‘n beroep aangeneem na die NG Gemeente Petrusburg waar hy op 3 April 1948 bevestig is.

Na veertien jaar diens in daardie gemeente, word hy benoem as sekretaris vir die Diens van Barmhartigheid in die OVS. Hy het hierdie pos tot met sy aftrede op 30 September 1977 beklee.

Hy het in 1942 in die huwelik getree met Susan Swanepoel van Senekal. Sy was in eie reg ‘n besondere mens. Sy was onder andere presidente van die Kindersendingkrans in die OVS, stigter van Rigting, die blad van die KSK in die OVS en jare lank lid van die bestuur van die Oranje-Vroue-Sendingbond. Sy is op 1 Julie 1968 Oorlede. Uit die huwelik is ‘n dogter en drie seuns gebore: Elsa, Willem, Koos en Loot. Daar is reeds twaalf klein-kinders.

By sy aftrede was hy voorsitter van die destydse Vrystaatse Streekwelsynsraad, lid van die Suid-Afrikaanse Welsynsraad en hy was ook na die 1974-vloed lid van die komitee wat die staat se rampfonds bestuur het. Hy het ‘n wesenlike bydrae gelewer tot die kerk se barmhartigheidsdiens in die Vrystaat. Die Volksblad se Kersfonds is deur sy toedoen op ‘n georganiseerde grondslag geplaas. Hy het ook ‘n nuwe verhouding tussen die barmhartigheidsdienste, die kerk en die Oranje-Vrouevereniging bewerkstellig en was die stigter van die Susanna Coetzee-huis vir Ongehude Moeders. Hy was ‘n goed belese man en daar kon altyd op hom staatgemaak word.

Van hom is gesê dat hy ‘n baie bekwame persoon was, en daarby ‘n edel Christen en ‘n simpatieke mens. Hy het ‘n besonder skerp brein gehad. By geleentheid het dit gelyk of hy in ‘n vergadering sit en slaap, maar toe hy later gevra is om op te som wat gesê is, kon hy sowat twintig sprekers presies aanhaal.

Hy is op 6 Augustus 1998 in die ouderdom van 81 jaar oorlede nadat hy ‘n operasie ondergaan het en daar komplikasies ingetree het. Hy was sowat nege weke in die waakeenheid. – Dirk Viljoen, na aanleiding van berigte in die Volksblad, Die Kerkbode en Sendingblad en ‘n gesprek met sy seun.