
GEBORE
21 Maart 1925
OORLEDE
12 Januarie 2009
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1949
ORDEN
1950
standplase
1950 Boksburg-Noord
1956 Forest Hill
1958 Laeveld
1960 Roodepoort-Noord
1962 Zastron
1964 Kemptonpark
1973 Witbank
1977 Alberton-Wes
Emeritus
–
Jacobus Louis Potgieter is op 21 Maart 1925 gebore; sy ouers is gelowige mense wat hulle kinders in die vrese van die Here opvoed. Klein Kootjie voel geroepe om predikant te word, en na sy skoolopleiding studeer hy aan die Universiteit Pretoria, waar hy ‘n BA-graad verwerf wat hom toegang verleen tot die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies. Dit is wonderlike jare, en hy word aan die einde van 1949 as proponent gelegitimeer.
Prop JL Potgieter ontvang ‘n beroep na die NG Gemeente Boksburg-Noord, waar hy in 1950 ontvang en met handoplegging bevestig word. Na ses jaar loop sy pad na die NG Gemeente Forest Hill in Johannesburg, waar hy met ywer die Woord bedien. Hierna bedien hy ses gemeentes, waar hy in die meeste gevalle net twee jaar lank op ‘n keer bly. So trek hy in 1958 na Oos-Transvaal, as leraar by die NG Gemeente Laeveld en met standplaas Duiwelskloof. Op 20 April 1960 word hy leraar by die NG Gemeente Roodepoort-Noord, ‘n gemeente met groot uitdagings.
Op 18 Augustus 1962 word hy medeleraar in die NG Gemeente Zastron in die Suidoos-Vrystaat. Hier bedien hy ‘n groot distrik, waar die pragtige historiese kerkgebou die gemeenskap saamsnoer. Op 25 Oktober 1964 word hy leraar by die NG Gemeente Kemptonpark, in die hart van ‘n nuwe uitbreiding met vele uitdagings. Hy pak die werk met oorgawe aan. ‘n bediening van vier jaar hier, is hy betrokke by die afstigting van die NG Gemeente Kemptonpark-Suurfontein, waar hy op 28 Julie 1968 bevestig word en die nuwe gemeente help opstaan en voortgaan.
Na. vyf jaar aanvaar hy ‘n beroep na die NG Gemeente Witbank, waar hy met oorgawe die Woord bedien en op voetsoolvlak by die gemeenskap betrokke raak.
Die laaste beroep wat Kootjie aanvaar, is die na die NG Gemeente Alberton-Wes, waar hy op 10 September 1977 bevestig word en op 9 Junie 1991 ook sy emeritaat aanvaar.
Kootjie en sy vrou, Susie, beleef ‘n goeie aftreetyd by Glenvista, maar hulle moet ook erge beproewing trotseer: Hulle dogter, Esther, sterf na ‘n dekade lange kankerstryd; hulle seun, Klasie, sterf in 2008. Hierna word die egpaar bygestaan deur ‘n dogter, Ansie Minnie van Potchefstroom.
Kootjie Potgieter sterf op 12 Januarie 2009. Dr Gerdrie van der Merwe VDM