GEBORE
27 Jun. 1883
OORLEDE
23 Des. 1941
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1919
ORDEN
1920
standplase
1925 Keetmanshoop
1930 Uniondale
1938 Ladismith (Kaap)
Emeritus
–
Ds. Hermanus Jacobus Potgieter het die eerste lewenslig gesien op 27 Junie 1883 te Utrecht, Natal, waar hy opgegroei het en sy eerste skoolonderwys ontvang het. Vir verdere opleiding is hy later na Wellington en Stellenbosch. Aan die einde van 1919 is hy gelegitimeer en daarna het hy in Maart 1920 as hulpprediker na Ceres gegaan waar hy egter nie te lank was nie toe hy ‘n beroep na Nieuwoudtville aangeneem het waar hy in Augustus 1920 georden en bevestig is. Hier het hy vir byna vyf jaar gewerk toe hy hom ‘n beroep na Keetmanshoop laat welgeval het waar die dienstyd ‘n bietjie meer as vyf jaar was. Uniondale het toe die voorreg gehad om hom as leraar te kry en hier het hy gedien tot 1938 toe hy ‘n beroep aangeneem het na Ladismith (Kaap); Van hom kan getuig word dat hy in al sy gemeentes met die grootste getrouheid en toegewydheid gearbei het. Oral waar hy was, was die gemeentes besonder geheg aan hom. Hy was groot van hart en het gelewe vir sy medemens. Sy boodskappe as prediker was altyd kort, kragtig en duidelik. In sy laaste gemeente was hy nog besig om ‘n „sierlike tempel vir die Here te bou” toe hy so onverwags op 23 Desember 1941 die tyd met die ewigheid verwissel het om te gaan na die Tempel wat nie met hande gemaak is nie.