Potgieter, Frederik Johannes Mentz

 

GEBORE

09 Okt. 1907

OORLEDE

29 Aug. 1992

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1935

ORDEN

1940

standplase

1940 Steynsburg

1943 Robertson

1946 Prof. Teol. Kweekskool, Stellenbosch

Emeritus

Prof Dr Frederik Johannes Mentz Potgieter (MA, PhD, Th Dr) (09.1O. 1907 – 29.08.1992)

Prof F J M Potgieter, emeritus-hoogleraar van die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch, is op 9 Oktober 1992 in die ouderdom van 85 jaar na ‘n kort siekbed Oorlede. Prof Potgieter het in 1977 afgetree nadat hy een en dertig jaar lank aan die Teologiese Kweekskool verbonde was.

Hy was ‘n groot kenner van Johannes Calvyn en het as Gereformeerde teoloog landwyd erkenning geniet. In die jare sestig en sewentig was hy by verskeie geleenthede ‘n afgevaardig van die Ned Geref. Kerk na ekumeniese vergaderings hier en in die buiteland.

Frederik Johannes Mentz Potgieter is op Barkly-Oos gebore. Sy moeder is oorlede toe hy 18 dae oud was en sy ouma en oupa het hom grootgemaak. Hy matrikuleer op Zastron en gaan daarna na die Universiteit van Kaapstad. Hy studeer in die Sielkunde en voltooi gedurende sy eerste jaar as student aan die Kweekskool op Stellenbosch sy doktors proefskrif in die Sielkunde.

Na sy Kweekskoolopleiding studeer hy drie en ‘n halwe jaar in Amsterdam en promoveer op 20 Oktober 1939 met as proefskrif “Die verhouding tussen die teologie en die filosofie by Calvyn”. Nadat hy predikant op Steynsburg en Robertson was, het hy in 1946 professor in Kerkgeskiedenis aan die Teologiese Kweekskool geword. In 1959 het hy die leerstoel in Dogmatiek by prof B B Keet oorgeneem.

Sy seun, Pieter – die latere professor in Dogmatiek aan die Teologiese Fakulteit van die Vrystaatse Universiteit en moderator van die Algemene Sinode van 1990 – het in 1973 onder hom gepromoveer.

Prof F J M Potgieter het in sy lang kerklike en akademiese loopbaan by een en almal wat met hom te doen gekry het, die grootste agting afgedwing. Nie almal het altyd oor alles met hom saamgestem nie – in die laaste jare van sy lewe het hy gevind dat die teologiese hoofstroom in die kerk wegbeweeg het van sommige van die standpunte wat hy gehuldig het – maar elkeen wat sy pad gekruis het, het geweet: hier is ‘n egte Christenmens wie se geloof ‘n wesensdeel van sy bestaan is, hier is ‘n akademikus wat sy akademie en sy persoonlike vroomheid volledig geïntegreer het, hier is ‘n ware heer wat in sy handel en wandel ‘n suiwer voorbeeld vir sy vriende en kollegas en studente gestel het. Wie aan sy voete gesit het, het geweet dat hy aan die voete van sy Here sit.

Die NG Kerk dank die Here vir die lewe van ‘n man wat sy kerk met toewyding gedien het en in wie se hart die vlam van die geloof tot die einde hoog en helder gebrand het.

Lees ‘n mens verslae oor wat destyds by die Kerke beraad by Cottesloe gebeur het (1960); is dit opvallend dat prof Potgieter (en hy was soos die meeste ander afgevaardigdes van die NG Kerk daarvan oortuig dat ‘n stelsel van afsonderlike ontwikkeling in ons land, reg toegepas, ‘n oplossing vir ons probleme kon bied) se Christelike (en Calvinistiese!) sin vir geregtigheid hom nooit in die steek gelaat het nie. Swart mense wat in Suid-Afrika gebore is en geen ander tuiste het nie, het hy byvoorbeeld tydens die beraad gesê, sal uiteindelik stemreg moet kry waar hulle woon. Komende van hom en in daardie tyd, moes dit ‘n opmerking gewees het wat onder die ander afgevaardigdes baie gewig gedra het.

Deesdae word daar dikwels ruikers uitgedeel aan die kerkmense wat vroeg-vroeg gesê het dat “apartheid” nie sal werk nie en dat dit nie op Bybelse gronde geregverdig kan word nie. Ek lê ook ‘n kransie op die graf van ‘n man wat wel anders geoordeel het, maar oor wie se Christenskap, integriteit, respek vir die gesag van die Skrif, en regverdigheidsin daar nooit enige twyfel bestaan het nie. Prof Potgieter laat sy vrou, Johanna, twee seuns, en vier getroude dogters agter. (- Frits Gaum).