GEBORE
21 Feb. 1920
OORLEDE
30 Mei 2001
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1956
ORDEN
1957
standplase
1957 Herschel (Bantoe)
Emeritus
–
Ds. Willem Jacobus Pieterse (BA) 21/02/1920 – 30/05/2001
“Dit was ‘n goeie plan van die Vader in die hemel om ‘n man soos Willem JacobusPieterse meer as tagtig jaar gelede te maak. Hy het ook aan hom die wedergeboorte geskenk sodat hy sy baie talente op baie terreine kon uitleef. Elkeen van ons sou seker ʼn boek kon skryf oor wat ons daarvan ervaar het. Party van ons, drie boeke vol. Ons lê vandag sy liggaam in die aarde ter ruste Wanneer die trompette klink, op die laaste dag, wanneer Jesusweer op die wolke terugkom, sal Willem sy hoof lig en met sy twee groot blou oë, die Here self sien.”
So het dr Willie van Wyk, sy vriend van meer as vyftig jaar, van ds. Pieterse afskeid geneem. Dit sê iets van die opregte vroomheid waarmee hy geleef het.
Willie Pieterse is op 21 Februarie 1920 op Marquard gebore. Sy ouers was Bartel en Lettie Pieterse. Sy vader was ‘n boer.
Willie het sy skoolloopbaan op Marquard by die Laerskool Vegkop begin. Nadat hy matriek aan die Hoërskool Heilbron (1938) geslaag het, is hy na die Universiteit van Pretoria (UP) waar hy hom in 1948 as landdros bekwaam het. Later het hy buitemuurs gestudeer en sy BA-Admissie graad in 1952 aan UP behaal terwyl hy in die Departement van Justisie (1939 – 1952) gewerk het. In 1953 is hy na die Kweekskool op Stellenbosch om sy teologiese studies te voltooi waarna hy in 1956 gelegitimeer is.
Ds. Pieterse se eerste beroep was na die Transkei-sending waar hy in Januarie 1957 bevestig is. Onder sy leiding het die sendingstasie en twee hospitale op Sterkspruit tot stand gekom. Die Herschel-gemeente is ook in hierdie tyd gestig.
In Mei 1964 is hy deur die NG Kerk in die Vrystaat beroep vir die Kampong sending in die Vrystaatse Goudvelde, met standplaas Odendaalsrus-Allanridge. Hy het ook die gemeente Merafong van 1968 af bedien. In 1974 het hy in die Kampong sending van Sasolburg gewerk en was hy leraar van Viljoens drif se NG Kerk in Afrika. Hy was steeds in die gemeente toe hy in 1986 emeritaat aanvaar het. Hy was by verskeie evangelisasie veldtogte betrokke en het onder andere ook ‘n koshuis vir straatkinders in Soweto (van Anglo American) bedien.
Na sy aftrede is hy en sy vrou eers na Sasolburg en later na Bloemfontein waar hulle tot in 1994 gebly het. Daarna het hulle na Centurion verhuis waar hulle seun gebly het. Ds. Pieterse het na sy aftrede nie stilgesit nie, maar leiding geneem by evangelisasie kampe vir huiswerkers en tuinwerkers wat deur die NG Gemeente Moreletapark gereël is. Hy en sy seuns was ook nog saam betrokke by die oprigting van huise vir minderbevoorregtes.
Hy het groot bewondering onder die Sothosprekende gemeenskap afgedwing en kon Suid-Sotho vlot praat. Hulle het hom die ere bynaam, Mora Mosjesjwe (“seun van die Basoetoe-staatsman, Mosjesjwe”) gegee. Hy het ‘n spesiale charisma in sy bediening uitgeleef.
Tot op 81 jaar was Willie Pieterse eintlik nooit siek nie, maar toe word prostaatkanker by hom gediagnoseer en word hy vier keer in die Unitas-hospitaal geopereer. Op 30 Mei 2001 het die Here Willie kom haal.
Sy begrafnisdiens is gelei deur sy swaer, dr Japie Gerber in Verwoerdburgstad en by die begrafnis het ds. Johannes RamoIatIehi van Kroonstad namens die NGKA-sinode, en ds. Ernst Moletsi, vriend en kollega, getuig van die besondere plek wat hierdie vroom dienskneg van die Here in die NG Kerk van Afrika beklee het.
Hy het ‘n dag nadat hy by die Transkei-sending begin werk het, met Anna Smith getrou. Hulle het drie kinders gehad: Bartel Wilhelm (1957); Hermanus (1960) en Helette (1964); Daar was reeds 8 kleinkinders in 1997.
Willie Pieterse was ‘n mooi regop en sterk man, wat met sy vriendelike en waardige aanslag altyd aandag getrek het. Sodra hy gepraat het, het almal besef dat hy met sy hele wese aan die Here behoort en orals en altyd vir Hom getuig. Hy was nooit skaam vir sy Christenskap of die kerk nie.
Sy lewe en sy getuienis sal nog vir baie jare voortleef. – Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 17 Maart 1997 ingevul het en aantekeninge oor sy begrafnis wat dr WB van Wyk beskikbaar gestel is.