GEBORE
19 Nov. 1932
OORLEDE
26 Jun. 2006
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1957
ORDEN
1958
standplase
1958 Calvinia
1959 Richmond
Emeritus
–
Ds. Gideon Pieterse (BA, BA (Hons) (19/11/1932 – 26/06/2006)
Gideon Jacobus Pieterse is op 19 November 1932 in die distrik Kenhardt gebore, waar sy voorgeslag met vee boer. Gideon se ouers was Cornelis Louwrens Pieterse en Maria Johanna Burger, wat ook die Here dien as boere. Gideon was die vierde van sewe kinders, twee dogters en vyf seuns. Sy ouers was baie gelowig en het die toewyding aan hulle kinders oorgedra. Hy woon in 1938-1939 verskeie plaasskole in die distrik by en ook sedert 1940 op Kenhardt waar hy in 1950 matrikuleer. Hy was intens betrokke by die CSV, waar hy die roeping ervaar om sendeling te word. Dit is veral ds. JZ Eloff wat tot sy bekering en roeping tot die bediening ‘n bydrae lewer.
Dit was moeilike jare en sy ouers kon nie finansieel tot sy studie bydra nie. In 1951 vertrek hy na Wellington waar hy aan die destydse Hugenote-Universiteitskollege studeer en die BA-graad verwerf. In 1976 behaal hy die BA (Honneurs); Dit was ‘n besondere ervaring om van 1954 tot 1957 ‘n student aan die Sending-Instituut op Wellington te wees en aan die voete van ervare professore te sit. As student blink hy uit in rugby en toneel, iemand met uitstekende menseverhoudinge.
Na sy legitimasie aan die einde van 1957 word hy beroep as sendeling na die NGSK Calvinia in die Hantam. Sy medeleraar was eerw. Gerrie Uys. Na slegs twee jaar vertrek hy na die NGSK Richmond waar hy tien jaar lank hard werk in die Groot-Karoo. In die tyd word ‘n nuwe sendingkerk ingewy, waar die gemeente tot vandag toe vergader. In 1969 ontvang hy verskeie beroepe. Een daarvan was in die herfs toe hy na die NG Gemeente Bellville-Vallei beroep is. In 1974 is hy ook betrokke by die Jeug-tot-Jeugaksie in die gebied en bied ‘n uitstekende ondersteuningsbasis. In Bellville werk hy ook tien jaar, bou die gemeente geestelik, betaal die kerkskuld en bou ‘n kerksaal wat tot vandag toe gebruik word. In 1979 word hy aangestel as Direkteur Ontwikkeling vir Dowes op Worcester, die kantoor vir skakeling en geldinsameling is in die Skiereiland gesetel.
Hy verrig hierdie taak met volle oorgawe en toewyding en reis die land deur in belang van die Instituut vir Dowes. Hy het ‘n passie gehad vir hierdie werk en was baie suksesvol, iemand wat tot met die aanvaarding van sy emeritaat op I Julie 1993 alles vir die saak gee. Na sy aftrede bly die egpaar tot in 1996 in Durbanville en tot met sy dood in Bellville. In die tyd is hy ook betrokke by die bediening van senior burgers in die NG Gemeente Stellenberg, ‘n taak wat hy met oorgawe vervul het.
Hy is op 19 April 1958 getroud met Catharina Wilhelmina van Jaarsveld, ‘n verpleegkundige. Uit die huwelik is drie kinders gebore: Carina is getroud met Rudie Grobbelaar; Lourens is getroud met Yolandi Luiters; Chris is getroud met Susan Nel.
Ds. Gideon Pieterse sterf skielik en onverwags op 26 Junie 2006. Sy vrou skryf: “Hy was baie gesondheidsbewus en het nooit gekla nie. Die laaste vakansie saam met vriende in die Kruger Wildtuin was onvergeetlik en hy was blakend gesond tot die oomblik dat die aar op sy brein pad gegee het en hy `binne minute’ in ‘n diep koma was waarna hy gesterf het.” ‘n Roudiens word op 4 Julie 2006 in Stellenberg gehou deur dr Francois Swart van die NG Gemeente Bellville-Uitsig, terwyl dr Braam Hanekom van Stellenberg die plasing van die as waarneem.
Dr Annes Nel onthou ds. Gideon se bediening in Bellville en skryf oor die invloed op sy lewe: “Albert Schweitzer het geskryf dat ons soms beleef dat die vuur binne ons doodgaan. Dan, sê hy, bars dit weer in vlamme uit deur ‘n ontmoeting met iemand anders. Ons moet dankbaar wees teenoor die mense wat ons gees weer laat herlewe. Oom Gideon, jy het dit vir my gedoen toe ek as jong seun geborgenheid, liefde en rigting nodig gehad het. Jou entoesiasme, humor, liefdevolle aanvaarding en erns was alles dinge wat my laat voel het dat ek deel van die kerk van Jesus Christus is en wil wees.” ds. Gideon Pieterse het op die wyse baie mense aangeraak.