Pienaar, Johannes Theodorus

Ds. Pienaar Johannes

GEBORE

14 Mrt. 1938

OORLEDE

10 Mrt. 2004

UNIVERSITEIT

BA, Dipl. Teol

gelegitimeer

ORDEN

standplase

Emeritus

Johannes Theodorus Pienaar is op 14 Maart 1938 op Schweizer-Reneke gebore, sy vader was ‘n geliefde maar streng onderwyser wat die onderskeid tussen reg en verkeerd by sy kinders vasgelê het. Sy moeder was ‘n skeppende en gelowige vrou wat haar kreatiewe gawes en geloof aan haar kinders oorgedra het. Sy het hulle van kleins af aangemoedig om hulle gawes en talente ten volle uit te leef. Theo het in 1956 aan die Hoërskool Westonaria gematrikuleer en het reeds op skool aan talle kerklike en Christelike aktiwiteite deelgeneem.

In 1958 het hy ‘n tweejarige kursusin Handelskuns en Ontwerp aan die Kunsskool van die Witwatersrandse Tegniese Kollege voltooi. Hy het van 1960 tot 1965 as administratiewe klerk by die Departement van Vervoer en Publieke Werke gewerk terwyl hy deeltyds aan die Universiteit van Pretoria gestudeer het om sy BA-graad te behaal. In 1966 het Theo se pad na Stellenbosch gelei waar hy aan die Teologiese Fakulteit begin studeer het. Sy proponents verhandeling het hy gedoen onder leiding van prof Johan Heyns. Die tema was: “Die Verhouding van Religie en Kuns.” Op Stellenbosch het hy ook sy talent in die kunste uitgeleef deur die voorblaaie van die Kweekskoolblad Polumnia en onder meer die plateomslag van die Stellenbosse Universiteitskoor te ontwerp. Theo het ook in die Kweekskoolkoor gesing en in die koor- en Polumniabestuur gedien. Aan die einde van 1968 het hy met Zurika Spamer getrou, ‘n gekwalifiseerde onderwyser wat later met groot seën wetenskap en wiskunde doseer het. In haar het Theo ‘n besondere lewensmaat gevind, ‘n ware spanmaat in die Here se diens. Op 28 November 1969 is prop Theo Pienaar in die Moederkerk op Stellenbosch gelegitimeer.

Hy is op 14 Februarie 1970 met handoplegging in die NG Gemeente Kimberley-Noord ontvang en bevestig, die begin van vyf besondere jare in die Diamantstad. In die tyd het hy deelgeneem aan die jaarlikse uitstallings van die Kimberleyse Kunsvereniging, met tema die historiese geboue in Kimberley. Die leraarspaar se pad het daarna na die gemeente Hartswater geloop, waar hy op 5 September 1975 bevestig is. Na ʼn goeie dienstydperk is ds. Theo op 9 Februarie 1979 as medeleraar in die Moedergemeente op Lichtenburg in die Wes-Transvaal bevestig. In die gemeente het Zurika haar deel as predikantsvrou gebring, iemand met ‘n natuurlike vermoë om te organiseer en voor mense op te tree. Sy kollega, ds. HA Hutton, skryf met die eeufees van die gemeente in 1985: “Dat ds. Pienaar ‘n fyn mens is, blyk uit die skilder- stukke wat hy stilweg produseer. Dit blyk ook uit die besondere wyse waarop hy soms ‘n waarheid in woordbeelde giet. Ek het dikwels uit ‘n erediens wat hy gelei het, as ‘n geestelik versterkte mens gekom. Hy is ‘n bereikbare mens vir oud en jonk. Met pastorale bewoënheid en ‘n herderlike hart, kan hy ‘n mens in nood aan die hand neem en saam soek na die pad van die lewe.”

Ds. Theo was lid van die Lichtenburgse Kunsvereniging en sy werk oor die dorp se historiese geboue, omgewing en landskappe is kosbare versamelstukke.

Weens swak gesondheid is hy op 1 April 1992 genoodsaak om sy emeritaat te aanvaar. Hierna het die egpaar hulle in Pretoria gevestig waar hy voortgegaan het met skilder en in 2000 sy eerste solo-uitstalling in Faerie Glen gehou het. Ds. Theo Pienaar het op 10 Maart 2004 gesterf en sy vrou en twee kinders agtergelaat. Christoff is ‘n regsgeleerde en Thene ‘n mediese sekretaresse. Die roudiens is op 15 Maart 2004 in die NG Kerk Elarduspark in Pretoria gehou. Ds. Kobie Fourie het die Woord uit 2 Tim 4:7 bedien.

Sy vrou Zurika onthou haar man so: “Theo was ‘n egte pastor wat ure by mense met hartseer en probleme kon deurbring, hy het altyd ‘n oor vir die lydendes gehad. In ‘n een-tot-een verhouding was sy deernis en bemoediging van groot waarde vir elkeen wat sy lewenspad gekruis het. Hy was ‘n fynbesnaarde mens wat altyd met waardigheid en integriteit opgetree het. Huisbesoek was vir hom van die grootste prioriteite. Hy was lief vir die jeug en het goeie aansluiting by hulle gevind, ook by bejaardes en eensames. Sy prediking het hoë voorrang geniet en hy het snags ure lank geworstel in sy voorbereiding om die Woord te laat spreek tot die gemeente.”Dr Gerdrie van der Merwe.