Pienaar, Hugo Olivier

Ds. H.O. PIenaar

GEBORE

23 Nov. 1923

OORLEDE

25 Mrt. 1996

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1948

ORDEN

1949

standplase

1949 Tweeling

1958 Parkheuwel

1962 Estoire

Emeritus

Ds. Hugo Olivier Pienaar BA Hons 23.11.1923 – 25.03.1996

Gebore op 23 November 1923 op Colesberg, ontvang Hugo Pienaar sy skoolopleiding ook op Colesberg, waar sy vader ‘n ambagsman was. Hy skryf matriek aan die einde van 1941.

Hy gaan eers na die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (destyds die UKOVS) en behaal daar sy BA-graad met die oog op Admissie in 1944. Vanaf 1945 tot 1948 studeer hy aan die Kweekskool op Stellenbosch en word in 1948 gelegitimeer. Later studeer hy verder aan die UOVS in sosiologie en staatsleer en behaal sy Honneursgraad in 1964 met ‘n studie oor die Sub-ekonomiese behuising in Hollandpark, Port Elizabeth.

Hy tree op 8 Januarie 1949 in die huwelik met Gertruida Aletta Malan Pietersen. Uit die huwelik is drie kinders gebore, naamlik Margaretha Maria (22.2.1950); Jacob Johannes Wernich (7.2.1952) en Susara Johanna (5.3.1957); Hulle vorm ‘n baie gelukkige huisgesin.

Sy eerste gemeente is. Tweeling, waar hy op 12 Maart 1949 georden en bevestig word. Daarna bedien hy die gemeentes Parkheuwel, Port Elizabeth (sedert 18 Oktober 1959); Estoire (27 Januarie 1962); Dordrecht (6 April, 1968) en Warden (4 Desember 1971); Hy aanvaar sy emeritaat, na 40 jaar diens, in 1989.

Hy het veral belang gestel in sendingwerk en het in die sendingkommissies van die kerk gedien. Hy was ook skriba van die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake van die Vrystaat. Hy het ‘n baie gelukkige bediening gehad. Behalwe die laaste ses jaar toe hy ‘n medeleraar gehad het op Warden, was hy altyd alleen in groot gemeentes, waar hy baie hard gewerk het. Hy was ‘n goeie prediker wat sy preke in eenvoudige en verstaanbare taal en idiome aangebied het. In sy huisbesoek was hy baie getrou. Hy was ‘n liefdevolle en nederige mens en sy omgang met sy gemeentelede was baie goed. Hy was veral ‘n goeie pa vir sy huisgesin.

Toe hulle met vakansie was te Margate het hy van ‘n vakansiehuis se trappe afgeval en sy heupbeen gebreek. Later het sy bekkenbeen ook seergekry. Sy eggenote het hom in hulle huis in Rustenburg, waar hulle na sy emeritaat gaan bly het, getrou opgepas tot sy dood op 25 Maart 1996. – DJ Viljoen, uit verskillende bronne en gesprek met mev. G Pienaar.