GEBORE
8 Okt., 1852
OORLEDE
6 Okt. 1927
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1880
ORDEN
1881
standplase
1888 Wynberg (Hpr.)
1889 Wynberg
1897 Sekr. S.A. Bybelver.
Emeritus
1918
Eerw. B. Pienaar. 8 Oktober, 1852 – 6 Oktober 1927. Eerw. Barend Pienaar is op 8 Oktober 1852 in die distrik Murraysburg gebore. Hy is langs die weg van private studie tot die evangeliebediening opgelei en het op 31 Maart 1881 die sendelingseksamen op Stellenbosch afgelê. Eers was hy vir jaar werksaam op Aberdeen en op 2 Oktober 1881 is hy op Murraysburg georden en deur wyle ds. A. A. Louw bevestig as leraar van die plaaslike sendinggemeente wat hy tien jaar bedien het. Op 2 Mei 1888 is hy in die Wynbergse sendinggemeente bevestig as hulpprediker van wyle eerw. J.H. Buytenbeek, wie se opvolger hy kort daarop geword het. In 1897 is eerw. Pienaar aangestel as sekretaris van die Suid-Afrikaanse Bybelvereniging wat toe groteliks in ‘n kwynende toestand was. Met groot moed en ywer het hy hom daarop toegelê om hierdie inrigting van die vadere prominent voor die aandag van die Kerk te bring. Gedurende sy sekretariaat wat ruim een-en-twintig jaar geduur het, is die werk van die Vereniging uitermate uitgebrei, waartoe sy besoeke in die buitegemeentes en sy toesprake oor die waarde van Christelike leesstof in die woninge baie bygedra het. Veral ook is dit hom geluk om die fondse van die Vereniging op so ‘n grondslag te bring dat sy publikasies baie goedkoper verkrygbaar kan gestel word as wat anders die geval sou gewees het. In 1918 het hy weens klimmende jare op pensioen afgetree. Eerw. Pienaar het die moedergemeente in die Kaapstad jarelank as ouderling gedien en haar verskeie male in die Sinode met waardigheid verteenwoordig. Gedurende sy emeritusskap het hy etlike vakante gemeentes van ons Kerk bedien. Hy was woonagtig in die moedergemeente Wynberg, wat hy gedurende die laaste maande van sy lewe in die afwesigheid van die leraar bedien het en aan wie hy nog die laaste Sondag voor sy plotselinge dood die evangelie verkondig het. Hy was hooggeag deur almal wat hom van, naby geken het en het die Heer en Sy Kerk vir byna vyftig jaar met erns, getrouheid en toegewydheid gedien.