
GEBORE
08 Jul. 1902
OORLEDE
25 Jul. 1993
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1931
ORDEN
1935
standplase
1935 Messina
1938 Nelspruit
1941 Malvern
1945 Sekr. vir Evangelisasie, Tvl.
1950 Pretoria
1952 Arcadia
1959 Olifantsfontein (werkkring Esselenpark)
1962 Johannesburg-Oos
Emeritus
–
Ds. Andries Jacobus Pienaar (BA) (08.07.1902 – 25.07.1993)
Ds. A J Pienaar, oom Pine soos alombekend by predikante, is op 25 Julie 1993 in die ouderdom van 91 jaar Oorlede. Hy is op 8 Julie 1902 in Pretoria gebore. In die Bosmanstraat-kerk het sy ouers hom ten doop gebring en daar het hy ook belydenis van geloof afgelê. Min het hy as jong seun besef dat hy jare later in dieselfde kerkgebou as leraar bevestig sou word.
In 1931 het hy sy studie aan die Kweekskool op Stellenbosch voltooi en is hy as predikant gelegitimeer.
Die eerste drie gemeentes waarin hy en sy vrou, Clara Nel, met wie hy in 1933 in die huwelik bevestig is, saam gearbei het, was Messina, Nelspruit en Malvem. In 1945 is ds. Pienaar bevestig as Sekretaris vir Evangelisasie van die Transvaalse Sinode. Hy het die Transvaal van hoek tot kant deurkruis om die evangelie te verkondig en vandag nog word getuienisse verneem van die vrug wat op sy prediking gerushet.
Daarna was hy in vier ander gemeentes werksaam: Pretoria (Bosmanstraat); Arcadia, die Esselenpark Spoorweg-gedeelte van die gemeente Olifantsfontein, en toe evangelisasie-predikant in die middestad-gemeente Johannesburg-Oos. Dit was ook ‘n besonder vrugbare tydperk in ds. en mev. Pienaar se bediening.
In 1967 het ds. Pienaar op 65-jarige ouderdom sy emeritaat aanvaar. Hy en sy eggenote het toe in diens van die Bybelgenootskap van SA getree: oom Pine as tweede hulpsekretaris vir wyle ds. Lieb Loots en mev. Pienaar as assistente in die Bybelwinkel in Breëstraat, Johannesburg.
Vir vyfjaar het hy onskatbare diens gelewer in belang van die werk van Bybelverspreiding. Die belangrike saak het hom dwarsdeur sy lewe baie na aan die hart gelê.
Maar weer was daar nie sprake van dat hy en mev. Pienaar die tuig sou neerlê nie. Agtereenvolgens was hy vyf jaar lank hulpleraar in Randburg-Suid en drie jaar waarnemende leraar in Belgravia totdat die gemeente ontbind is. Hy het terselfdertyd die evangelisasie-spreekkamer in Pretoria behartig.
Mev. Pienaar het nog vir baie jare daarna in verskeie hoedanighede onskatbare diens aan die Bybelgenootskap gelewer. Sy en oom Pine het per motor na die Bybelhuis in Kemptonpark gery, en vandaar het hy stasie toe gestap en die trein Pretoria toe gehaal om die hele dag in die Evangelisasie-spreekkamer beskikbaar te wees. En in die namiddag is die proses weer omgekeerd herhaal – terug na Belgravia vir huisbesoek. Menslik gesproke sou geen mens op die ouderdom die pas so kon volhou nie. Maar die Here het aan hulle albei besondere genade gegee.
Na mev. Pienaar se aftrede by die Bybelgenootskap het hulle voortgegaan om diens-werk te lewer in die gemeente Mooifontein. Oom Pine en mev. Pienaar se lewensfilosofie van diens en liefde aan hulle medemens, wat spruit uit hulle liefde vir die Here Jesus, was die grondslag van hulle lewes.
Dit sou vanjaar 60 jaar gewees het wat die Here vir ds. Pienaar en sy vrou saam gespaar en so kragdadig in sy diens gebruik het. Wat ‘n heerlike voorreg was hulle beskore om byna 60 jaar saam vir die Here in sy wingerd hier op aarde te kon arbei! Hulle het twee seuns wat getroud is en hulle eie gesinne het.
Oom Pine se onkreukbare lojaliteit aan sy werk, waaraan hy sy lewe gewy het, sal altyd vir ons wat hom geken het ‘n monument tot sy nagedagtenis bly.
In Ps. 1 16:15 lees ons “Vir die Here is die dood van sy getroue dienaars geen geringe saak nie.”
So glo ons is die dood van ds. A J Pienaar vir die Here geen geringe saak nie en ons bede is dat dit vir mev. Pienaar en haar kinders tot vertroosting sal dien (- Christo H Delport)