Piek, Hendrik Johannes

Ds HJ Piek

GEBORE

31 Des. 1905

OORLEDE

22 Sep. 1981

UNIVERSITEIT

US

gelegitimeer

1932

ORDEN

1933

standplase

 1933 Chubut (Argentinië)

1935 George (Hpr.)

1936 Hendrina

1942 Johannesburg-Oos

1949 Armesorgsekr., Tvl.

1957 Armesorgsek. Noordstreek, Tvl.

1966 Sekr. AKDB

Emeritus

1970

Dr Hendrik Johannes Piek (31.12.1905 – 22.9.1981); wie se loopbaan van Argentinië tot in die Senaat gestrek het en wat veral vir sy groot werk op die gebied van die NG Kerk se barmhartigheidsdiens onthou sal word, is op Hennopskraal in die distrik De Aar gebore. Eers gaan hy na ‘n plaasskooltjie en daarna na die dorpskool waar hy een van die vyf leerlinge in De Aar se eerste matriekklas is. Omdat hy toe reeds van die nood onder sy mense bewus was, samel hy in die tyd al vir die Helpmekaarfonds geld in. Verder draf hy daar as geesdriftige rugbyspeler vir die skool se eerste span sowel as vir die dorpspan uit. Op Stellenbosch word hy as gewilde student spoedig ‘n lid van die studenteraad en ook voorsitter van die Universiteitsdebatsvereniging. Verder is hy leier van die Nasionale Partygroep in die studenteparlement. Terwyl hy ywerig studeer en met verloop van tyd ‘n meestersgraad in die sosiale wetenskappe verwerf, glo hy terselfdertyd aan die heilsaamheid van gesonde ontspanning. Hy speel in die eerste hokkiespan en ook omdat die Bolandse berge en die natuur van die Kaapse Skiereiland vir hom ‘n geweldige bekoring ingehou en hy graag seldsame blom- en grassoorte gesoek het, word hy ‘n stigterslid van die bekende Stellenbosse Berg- en Toerklub. Met die voltooiing van sy teologiese studie word hy einde 1932 gelegitimeer. Sy eerste gemeentelike werkkring is die groot gemeente George, waar hy van Februarie 1933 af as hulpprediker optree. Grootliks as gevolg van die bemoeienis van George se leraar, wyle ds. J A Hurter, wat lid van die Kaapse Sinodale Armesorgkommissie was en kort tevore van ‘n besoek aan die Afrikaners in Argentinië teruggekeer het, beroep die kerkraad van Kaapstad namens die van die gemeente Chubut in Argentinië die jong proponent voorlopig vir twee jaar. Hy aanvaar die uitdaging en ‘n week nadat hy op 13.1O. 1933 op De Aar georden en bevestig is, vertrek hy met ‘n Japannese boot uit Tafelbaai na sy bestemming in Suid-Amerika. In die twee jaar wat hy daardie verafgeleë gemeente van die NG Kerk bedien, kom hy so diep onder die indruk van die behoeftes en node van die klein gemeenskap daar in die vreemde en dikwels onvriendelike land, dat hy hom na sy terugkeer na Suid-Afrika daadwerklik vir hul repatriasie na hul vaderland beywer. Na ‘n studiebesoek aan Engeland en die Europese vasteland in verband met welsynwerk keer hy in Oktober 1935 na Suid-Afrika terug om as hulpprediker in George bevestig te word, maar enkele maande daarna neem hy ‘n beroep aan na Hendrina in die Oos-Transvaal, waar hy ‘n groot en geseënde werk doen. Hy stel baie belang in die onderwys en deur sy toedoen word daar ‘n nuwe skool en koshuis gebou. Ook word daar in sy tyd ‘n nuwe kerkgebou opgerig en sonder skuld ingewy. Vanaf Augustus1942 staan hy saam met ds. A M Meiring in Johannesburg-Oos (Irenekerk); Terwyl hy hier ‘n lid van die Witwatersrandse Skoolraad is en ‘n leidende rol in die jeug- en kultuurorganisasies speel, kring sy belangstelling in die minderbevoorregte Afrikaner wyer uit, met die gevolg dat hy voorsitter van die Randse Armesorgraad en lid van die Blanke Werkersbeskermingsbond word. In 1949 onderneem hy ‘n studiereis in verband met kinderinrigtings deur Europa en die VSA en in dieselfde jaar word hy tot Armesorgsekretaris van die Transvaalse Kerk benoem – ‘n betrekking wat hy beklee totdat hy in 1957 in dieselfde hoedanigheid vir Noord-Transvaal diens aanvaar. Nadat hy lank reeds die nood van die jongmense in die stede en nywerheidsgebiede ook ten opsigte van geskikte huisvesting aangevoel het, bring die tragiese dood van ‘n jongman hom in die gedagte van jeugsentrums en so word die groot sentrum in Pretoria opgerig. Teen 1959 lê hy hom in die besonder op die beplanning van kerklike kinderinrigtings en die oprigting van jeugsentrums sowel as van tehuise vir bejaardes toe. Onder sy leiding kom etlike oue- en jeugtehuise dan ook in die Transvaal tot stand, terwyl hy verder die desentralisasie van die Abraham Kriel-Kinderhuis – van die beheerraad waarvan hy voorsitter was – beplan en deurvoer. Reeds vroeër verskyn Ons Kerk se Skatte, ‘n boekie oor die kerklike inrigtingsorg, uit sy pen. In 1959 verwerf hy aan die Universiteit van Pretoria die graad DPhil op ‘n proefskrif Egskeiding in Suid-Afrika – ‘n sosiologiese ondersoek. Die ondersoek is op ‘n wetenskaplike wyse uitgevoer en die studie is destyds as ‘n waardevolle bydrae tot die sosiologiese vakliteratuur beskou. Die laaste vier jaar van sy mooi en uiters vrugbare bediening van 38 jaar – 22 waarvan hy voltyds met die kerklike barmhartigheidsdiens gemoeid was – totdat hy op 31.1O. 1970 sy emeritaat aanvaar, is ‘n besonder bedrywige tyd, aangesien hy in 1966 sekretaris van die Algemene Sinode se Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid geword het. In die tyd pak hy weer ‘n studietoer na Europa aan – nou in verband met die opvoeding en onderwys van die gestremde kind. Onder die belangrike kerklike liggame waarin hy gedien het, kan die bestuursraad van die Hugenote-Kollege op Wellington, die Voorligterkommissie (26 jaar) en die Algemene Kommissie vir Kerklike Tydskrifte vermeld word. Daarby was hy elf jaar voorsitter van Die Voorligter se redaksiekommissie en ook die man wat die aanvoorwerk vir die kerklike inligtingsburo in die Transvaal gedoen het. Toe die SAUK in Julie 1950 met ‘n weeklikse kerknuusbulletin begin, word hy gevra om verantwoordelikheid te aanvaar vir die “Kerklike Persburo” wat elke week die nuus moet voorsien. Met die oog daarop stel hy ook ondersoek na die funksionering van sulke inligtingsdienste in die buiteland in. Hy behartig die taak die eerste vier en ‘n half jaar totdat daar in 1955 ‘n voltydse inligtingsbeampte aangestel word. Dat sy bekwaamheid, deeglike vakkennis en rype ervaring ook deur instansies buite die Kerk besef en erken is, blyk daaruit dat hy onder andere ‘n geruime tyd voorsitter van die Nasionale Welsynsraad sowel as van die kommissie van ondersoek na gesinstoelaes was en ook lank hoofkommissaris van die SA Noodhulpliga. Origens was hy onder meer lid van die Transoranje-Instituut vir Buitengewone Onderwys, fakulteitslid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en lid van die H F Verwoerd-Hospitaalraad, sowel as van die nasionale rade vir die versorging van kinders, kreupeles, dowes, blindes en epileptici, asook van die Kultuurraad van die FAK. Verder is hy kort na sy emeritaatsaanvaarding as Transvaalse senator aangewys. Nadat hy vier jaar in die hoë raad gedien het, tree hy as hoofvakkundige nog ‘n keer by die AKDB in diens. Die laaste paar jaar van sy lewe gaan sy gesondheid so agteruit dat hy in die groot H J Piek-tehuis vir verswakte bejaardes in Pretoria, wat sy naam dra, versorg moet word en daar is hy ook Oorlede. Hy het sy eggenote slegs ‘n maand na haar skielike heengaan gevolg. Prof Ben Piek van die Randse Afrikaanse Universiteit is een van hul twee seuns. (Jaarboek 1983/265).