Pauw, Jacobus Cornelius Christoff

 

GEBORE

26 Apr. 1909

OORLEDE

23 Apr. 1985

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1935

ORDEN

1935

standplase

1935 Kamoto

1938 Madzimoyo

1942 Nyanje, Noord-Rhodesië

1948 Fort Jameson

1954 Sendinggemeente Oostelike Pretoria

1961 Teologiese Skool Decoligny)

Emeritus

Ds. Jacobus Cornelis Christoff Pauw (26.4.1909 – 23.4.1985); wat die grootste gedeelte van sy geseënde bediening aan die sending gewy het, is as seun van ‘n sendeling, wyle ds. C P Pauw (later van die Strand); en kleinseun van die stamvader van die geëerde familie in ons land, die eerbiedige eerw. J C (Vader) Pauw van Wellington, op Fort Jameson in Noordoos-Rhodesië (nou Zambië) gebore. Tot st. 5 hou sy moeder vir hom skool, maar toe gaan hy na Pretoria waar hy in 1926 die skooleindeksamen in die eerste klas slaag. In die hoofstad behaal hy in 1929 die BA-graad met Grieks en Latyn (met lof) as hoofvakke en die jaar daarna ook die HOD. In 1931 tree hy as reisende sekretaris van die CSV in Oos-Kaapland op, voordat hy die volgende jaar Kweekskool toe gaan. Einde 1935 word hy gelegitimeer en op 8.4.1936 vind sy plegtige ordening “tot arbeider in die sendingveld”, met toestemming van die Ring van Caledon en na ‘n rede deur sy vader, in die kerkgebou aan die Strand plaas. In die Vrystaat se sendingveld in Noord-Rhodesië word hy aanvanklik op die klein, “harde” en eensame stasie Kamoto in ‘n warm en digbeboste streek geplaas om daar saam met mnr. later die bekende ,,professor van UPE – J P van S (Hannes) Bruwer te arbei. Van 1938 tot 1942 staan hy op die hoofstasie Madzimoyo aan die hoof van die normaalskool vir die opleiding van onderwysers vir die sendingskole. Toe sy vader in 1909 deur die Vrystaatse Sendingkommissie as eerste “hoof van die Sending” in Noordoos-Rhodesië benoem is, word hy ook voorsitter van die pasgestigte Uitvoerende Raad van die sending. Toe die kommissie genoemde amp teen 1944 afskaf en dit aan die raad opdra om sy eie voorsitter te kies, val die keuse op die eerste voorsitter se oudste seun. Vir etlike jare was hy ook as sekretaris vir onderwys in die Noordoos-Rhodesiese sending die skakel tussen die plaaslike regering en die sending en vir sy groot bydrae op onderwysgebied is die MBE aan hom toegeken. Daarna is hy leraar van Nyanje en toe van Fort Jameson (tans Chipata) (Desember 1947); totdat hy sy geboorteland verlaat om in Oktober 1954 leraar van die destydse gemeente Oostelike Pretoria van die Transvaalse Sendingkerk te word. Hier werk hy ruim sewe jaar en toe gaan hy as dosent na die Teologiese Skool Stofberg op Decoligny in die Transkei. Sedert begin April 1967 beklee hy – wat self ‘n paar Swart tale magtig was – by die Bybelgenootskap van SA in Kaapstad die belangrike nuwe betrekking van sekretaris van die vertalingsafdeling (daar was toe ‘n stuk of 13 vertalingskommissies aan die werk); Na ‘n vol en vrugbare bediening met groot seën vir die Swart kerke, moes hy die tuig in Junie 1971 weens verswakte gesondheid neerlê. Hy is in Pretoria oorlede waar hy en sy eggenote later gewoon het. Die verswakking van sy liggaamskragte het al in Zambië begin, maar die doring in die vlees ten spyt, sit hy die werk van sy Meester volhardend voort totdat dit vir hom onmoontlik word om aan te gaan. Sy persoon en werk is deur toegewydheid aan die Here se diens, ‘n besondere stiptheid en deeglikheid en ‘n onkreukbare opregtheid gekenmerk. Dr C M Pauw, senior lektor in die sendingvakke aan die Kweekskool en vroeër in Malawi en Zambië werksaam, was sy oudste seun, terwyl dr B A Pauw, vroeër sendingleraar en tans professor in Volkekunde aan Unisa, sy jongste broer was.