Papenfus, Francois Paulus

 

GEBORE

6 Des. 1910

OORLEDE

26 Aug. 1981

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1935

ORDEN

1945

standplase

1936 Maitland

1937 Studie oorsee

1938 Hulppr. Oudtshoorn

1941 Hulppr. Keetmanshoop

1943 Hulppr. Worcester

1945 Reis. sekr. Strewers

1945 Grootdrink

Emeritus

1973

Ds. Francois Paulus Papenfus (6.12.1910 – 26.8.1981); gedurende baie jare die minsame, blymoedige en begaafde leraar van Grootdrink in Noord-Kaapland, is op Upington Oorlede. Nadat hy om gesondheidsredes op 14.6.1973 uitgespan en hy en sy eggenote einde September daardie jaar van hul gemeente afskeid geneem het, het hulle op Keidebees by Upington gaan woon. Hy is uit ‘n bekende en gesiene Oos-Vrystaatse Boerefamilie op Harrismith gebore. Eers woon hy ‘n klein skooltjie by en daarna die groot laerskool op Arbeid Adelt in Witsieshoek, nie ver van hul plaas af nie. Vervolgens gaan hy op Harrismith verder skool en toe op Senekal waar hy st 10 behaal. Sy studie op Stellenbosch word met ‘n BA, ‘n MA in filosofie (1934) en sy legitimasie einde 1935 bekroon. In 1936 word hy hulpprediker in Maitland, maar nog dieselfde jaar vertrek hy na die VSA om aan die Moody-Bybelskool in Chicago te studeer. Die jaar daarna gaan hy na Nederland, waar hy aan die Vrije Universiteit in Amsterdam sekere kursusse volg. Einde 1938 keer hy na Suid-Afrika terug en vroeg 1939 begin sy dienstyd as hulpprediker in Oudtshoorn. Twee jaar later is hy in dieselfde hoedanigheid in Keetmanshoop werksaam en 1942 in Worcester, waar hy bly totdat hy 1945 tot reisende sekretaris van die Christelike Strewersvereniging benoem word. Volgens sy eie verklaring het hy hom daarin verlustig om vir Christusen die Kerk op reis te gaan. Terwyl hy in SWA die Strewerstakke besoek, kry hy die beroep na Grootdrink en op 29.9.1945 volg sy bevestiging in die enigste gemeente wat hy op ‘n vaste basis sou bedien. Daar bly dit vir hom 28 jaar lank ‘n voorreg om die Woord van die kansel te verkondig en dit met huisbesoek uit te dra. In die onderrig en bevestiging van nuwe belydende lidmate vind hy groot vreugde, terwyl Pinkster en Nagmaal vir hom hoogwatertye van verkwikking is. In die laaste jare van sy bediening preek hy dikwels oor die Wederkoms van Christus. Deur sy vrou daartoe aangemoedig en voortvloeiende uit sy studie van die eerste drie van die “groot profete”, haal hy toe ook meer preke uit die Ou Testament. By geleentheid dien hy in die Kaapse Sinodale Kommissie en ook as verteenwoordiger van die Ringe van Kenhardt en Upington in beide die SSK en die SKDB. Verder was hy ‘n lid van die Algemene Sinode van 1966. Intussen onderneem hy in 1954 nog ‘n studiereis na die Verenigde State. Hierdie keer voltooi hy by die Dale Carnegie-Instituut in New York kursusse in spraakkuns en menseverhoudings, terwyl hy by ‘n ander inrigting ook klasse in fotografie neem. Al die tyd bly hy student en reis hy verskeie kere oorsee. (Jaarboek 1983/264).