GEBORE
03 Jul. 1931
OORLEDE
04 Mei 2006
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1963
ORDEN
1964
standplase
1964 Njassa-Sending
Emeritus
–
Ds. Henry Page (03/07/1931 – 04/05/2006)
Henry Thomas Somerset Page is op 3 Julie 1931 op Franschhoek gebore, die oudste kind en enigste seun met vyf susters. Sy ouers was Henry Somerset Page, ‘n direkte nasaat van die Britse Setlaars en sy moeder Susanna Willemina Page (Roux); ‘n nasaat van die Franse Hugenote van die plaas Goede Rust by Franschhoek. Henry en Sannie Page maak hulle kinders met liefde groot en hulle geestelike nalatenskap het ‘n blywende invloed op die kinders. Henry word groot in die pragtige Boland en deurloop sy skoolopleiding op Franschhoek waar hy einde 1948 matrikuleer. Hierna boer hy sewe jaar op die familieplaas en is in die tyd intens betrokke by die Skiereilandse Hulpsendingvereniging. Dit het ‘n groot invloed op sy geestelike lewe. Tydens een Paasnaweek hou hulle ‘n kamp op Goede Rust, wat bydra tot sy finale besluit om sendeling te word en die Here op die wyse te dien.
Na Henry se voorstudie word hy toegelaat tot die Teologiese Seminarium op Stellenbosch, waar hy einde 1963 as proponent gelegitimeer word. Dit is ook die jaar waarin die Seminarium ‘n volwaardige Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Stellenbosch word. Sy vrou Kitty skryf: “Tydens sy studentejare was hy baie betrokke by die sendingweek en sal veral onthou word vir die talle sendingtoere dwarsdeur Afrika waarin hy ‘n leidende rol gespeel het. Hy herstel en ombou eiehandig twee busse om te gebruik tydens die toere. Besoeke word gebring aan Transkei, Lesotho, Mosambiek, Zimbabwe, Zambië, Malawi, Tanzanië, Kenia, Uganda, die Kongo, Ethiopië en Eritrea. Hy neem ook ‘n studentetoer saam met prof JP Bruwer na Suidwes-Afrika, waar die stu-dente kosbare ervaring in Volkekunde opdoen.” Hy trou in die winter van 1960 met Kitty Moodie nadat sy haar studie (BA en SOD) voltooi het. Oor hulle kinders skryf Kitty: “Willemien, Henry en Tom en vier kleinkinders woon nog in Namibië, terwyl Griet verbonde is aan Petra-Kollege buite Witrivier in Mpumalanga.”
In 1964 word hy sendeling in Malawi, waar hy baie hard werk en ook intens betrokke is as dosent by die Bybelskool. In die winter van 1970 word hy predikant van die NG Gemeente Grootfontein in die noorde van die destydse Suidwes-Afrika, waar hy die gemeente bedien tot met die aanvaarding van sy emeritaat in 1989. Die gemeente het ook Rundu, ongeveer 250 kilometer noord tot aan die grens van Angola ingesluit. Hy was ook konsulent van die NG Gemeente Oshakati in Ovamboland en het gedien in die eksamenkommissie van die Teologiese Skool op Orumana in Kaokaland. In sy dienstyd op Grootfontein was hy ook betrokke by die bosoorlog en het as kapelaan diens gedoen. Na 18 jaar as herder en leraar op Grootfontein aanvaar hy in 1989 vervoegde emeritaat weens swak gesondheid as gevolg van Parkinson se siekte. Henry en Kitty woon in een van die dorp se oudste kliphuise en hy word tot sy dood op 4 Mei 2006 deur sy vrou versorg.
Ds. Henry Page se begrafnisdiens word op 9 Mei 2006 vanuit die NG Kerk Grootfontein deur ds. Dirk de Vos waargeneem. Sy begrafnisbrief lui: “Vir 7 jaar het hy geboer. Toe vir 7 jaar studeer. Daarna in Malawi sendingwerk gedoen vir 7 jaar. Toe het hy hier in Grootfontein se wêreld wortel geskiet en vir ongeveer 35 jaar gedien. Sy lewe was ‘n preek. Sy nederigheid sal ons altyd bybly. Hy het nie probeer beïndruk nie, maar gedien. Deur sy wysheid kon ons leer. Hy was ‘n geduldige mens, ook in sy siekte. Sy deursettingsvermoë was bewonderenswaardig, ook in die klein dingetjies. Hy was murg en been ‘n boer. Vir harde handearbeid het hy nie geskrik nie. Hy het ook baie deernis met mense. Tydens plaasbesoeke het hy nie net die Brood van die Lewe gebring nie, maar ook ‘n regte brood en Coke. Ons het Jesusin hom gesien – en wil sy voorbeeld navolg. Ons dank aan ons Hemelse Vader wat hom so lank vir ons geleen het”.