
GEBORE
08 Jul. 1913
OORLEDE
15 Okt. 2006
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1939
ORDEN
1941
standplase
1941 Clarens
1946 Boshof
Emeritus
–
DS HANNES OTTO (BA, MA) (08/07/1913 – 15/10/2006)
HENDRIK JOHANNES OTTO is op 8 Julie 1913 op Dewetsdorp gebore as die vierde van ses kinders. Sy vader was Hendrik Johannes Otto en sy moeder Susara Wilhelmina du Plessis. Hannes was baie geheg aan die boerdery en het tot sy oudag sy liefde vir die plaaslewe behou. Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902) was sy ouma en moeder in ‘n konsentrasiekamp, en sy vader is as krygsgevangene na Indië gestuur. Na die oorlog het die gesin teruggekeerna ‘n plaas wat heeltemal verwoes was, maar met ywer en volharding het hulle aan ‘n nuwe lewe gebou. Ds. Hannes het altyd op sy kenmerkende manier vertel: “Geld was min, maar liefde was altyd volop.”
In 1918 het Hannes die skielike afsterwe van sy oudste suster beleef. Sy is as I 3-jarige tydens die Groot Griep Oorlede. Die verlies het hom tot die einde van sy lewe bygebly, hy het daaroor gepraat asof dit gister gebeur het. As jong seun het hy sy skoolopleiding in 1921 aan die Laerskool Ethelia in die distrik Dewetsdorp begin, en in 1932 het hy matriek in die eerste klas aan die Hoërskool Dewetsdorp geslaag. Hy het ‘n OVV-beurs gekry om hom te help om teologie op Stellenbosch te studeer. Hannes was ‘n briljante student wat die grade BA en MA (Wysbegeerte) verwerf het met die tema: “Die etiese invloed van die masjienproses op die moderne lewe.”
Na sy teologiese studies is hy aan die einde van 1939 as proponent gelegitimeer. Op Stellenbosch was hy lid van die Berg-en-toerklub, CSV-leier en 1 id van die Debatsvereniging. Hier het hy sy vrou, Chrissie Lombard, ontmoet. Sy was ‘n regsgeleerde en boorling van Adelaide in die Oos-Kaap. Hulle is op 7 Junie 1941 getroud.
In die tyd was beroepe skaars en Hannes Otto het in 1940 as hulpleraar in die NG Gemeente De Bloem begin werk, waar hy met ‘n fiets op die hoewes en plase huisbesoek gedoen het. Hy het ‘n beroep na die NG Gemeente Clarens aanvaar, waar hy op 7 Julie 1941 met handoplegging ontvang en bevestig is. Ds. WA Roux (Fouriesburg) het die rede gelewer, terwyl ds. JJ le Roux (Kestell) en ds. DP Ackerman aan die handoplegging deelgeneem het. Na ‘n geseënde bediening in die Oos-Vrystaat het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Boshof aanvaar, waar hy op 18 Mei 1946 bevestig is. Dit was die begin van ‘n geseënde bediening van byna veertig jaar. Op 25 April 1985 het hy sy emeritaat aanvaar en het hy sy afskeidspreek uit Handelinge 11:23 gelewer, waarna ds. Hannes en Chrissie Otto op die dorp bly woon het. Dit is minder bekend dat die leraar van Boshof ‘n finansiële yster op die aandelebeurs was, iemand wat altyd die mark reg kon lees en wat met sy dood miljoene rande sterk was.
‘n Verdere twee dekades op die Vrystaatse dorpie is gelaai met meelewing en liefde; hy was ‘n geestelike vader wat gesinne van die doopvont tot by die graf begelei het. Hy het met liefde sy opvolgers in die bediening op Boshof ondersteun. Ds. Hannes het op 6 April 2003 die laaste keer in die kerkgebouop Boshof gepreek. Hy kon nie meer op die kansel kom nie en het onder by die kateder gestaan. Na ‘n inbraak by sy huis het hy onveilig gevoel, en na 59 jaar op Boshof het ds. Hannes as ‘n 92-jarige na Stellenbosch verhuis waar sy enigste dogter woon.
Na ‘n siekbed het hy ‘n inwoner van die Geluksoord-tehuis vir Bejaardes geword, waar hy op 15 Oktober 2006 gesterf het.
Ds. Hannes Otto is op 20 Oktober 2006 onder blyke van groot waardering op die kerkterrein te Boshof begrawe. In ‘n treffende huldeblyk getuig leierouderling Paul Roode: “Ons onthou hom vir sy werksywer, gelykmatige temperament, fyn sin vir humor en gebalanseerde lewensuitkyk. Huisbesoek was vir hom ‘n vreugde.”
Ds. FD Hugo, toe moderator van die NG Kerk in Noord-Kaapland, getuig as gemeenteseun: “Ek onthou sy wit hare, swart toga en vriendelike oë op die preekstoel. Op sy fiets met sy worshonde agter hom aan. Sy preke was getrou aan die gereformeerde leer uit die Woord. Hy was ‘n filosofiese denker, ‘n begaafde student, baie Iief vir lees en het ‘n wye algemene kennis gehad. Jy kon met hom oor enige onderwerp gesels en sou telkens verras wees oor sy ingeligtheid. As jy hom sou vra wat hy ons wou leer, sou hy die Heidelbergse Kategismus aanhaal: My enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes betaal.'”