
GEBORE
6 Apr. 1895
OORLEDE
17 Mei 1986
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1920
ORDEN
1925
standplase
1925 Soedan
Emeritus
1964
Ds. Johannes Francois (Jan) Orffer (6.4.1895 – 17.5.1986); wat sy hele bediening van meer as 40 jaar aan die eertydse Soedansending van die Kaapse Kerk gewy het, was die oudste van die leraars wat in die afgelope jaar tot hoër diens geroep is. Hy is op Malmesbury gebore en word einde 1920 na voltooiing van sy studie aan die Sendinginstituut tot die bediening toegelaat. Nadat hy, soos verskeie sendelinge voor en na hom, die ses-maande-lange mediese kursusveral in tropiese oogsiektes aan die Livingstone College in Londen afgelê het, kom hy in Augustus1921 in Noord-Nigerië aan. In Maart 1925 trou hy op Beaufort-Wes met mej. Esther Pienaar wat reeds in 1920 een van ons eerste twee onderwyseresse in die Soedan was. Kort daarna, op 1 Mei, vind sy plegtige ordening in die woorde van ds. A C Murray, die Kaapse Kerk se Algemene Zending-sekretaris” tot Zendeling in de Soedan’ in die NG kerk op Moorreesburg plaas. In die Soedan staan hy op die stasies (later gemeente’s van die Tivkerk) Zaki Biam, Serav, Adikpo en Mkar, terwyl hy en sy eggenote ten tyde van die Bybelvertalingswerk ook jare lank op Kunav en op Shangev woon. Terwyl die egpaar op Adikpo werksaam is, word hul enigste seun, ook Johannes Francois, in Februarie 1927 op Mkar gebore. Later smaak hulle die vreugde om Francois – vandag leraar van die Sendingkerk op De Doorns – na die Soedan te sien terugkeer en met die stigting van die gemeente Adikpo in 1952 is hy die leraar daar. Reeds vanaf 1928 help die vader met die hersiening van ds. (later dr) W A Malherbe se vertaling van die Nuwe Testament in die taal van die Tivvolk en in April 1937 word hy aangestel as vertaler van die Ou Testament in Tiv ‘n groot taak wat hy einde 1949 voltooi. In Februarie 1953 sonder die Sendingraad hom en wyle eerw. W M Scott as voltydse hersieners van die hele vertaalde Bybel af. Met die reusewerk bly hulle tot Januarie 1961 besig en op 4.11.1964 word die gedrukte Bybel in Tiv in een band amptelik in ontvangs geneem. In Julie 1950 onderteken hy saam met eerw. A J (Attie) Brink en ds. W D Gerryts van die kant van die NG Kerksending en twee leraars namens die Christian Reformed Church van Amerika se sending in die konsistorie op Mkar ‘n ooreenkoms waarvolgens die CRC die verantwoordelikheid vir die werk in die gebied oos van die Katsina Alarivier aanvaar. Hoewel nie so bedoel nie, maak die gedeeltelike oorgawe die deur oop vir die uiteindelike algehele oorgawe van ons Kerk se werk in die Soedan aan die bevriende Amerikaanse genootskap in November 1961. Die Orffers en nog ‘n aantal van ons werkers bly onder die laaste ooreenkoms nog ‘n tyd in die veld agter, maar toe mev. Orffer behandeling moet kry vir beserings wat sy in ‘n motorongeluk opgedoen het in April 1963 naby Makurdi (waar hul seun destyds werksaam was); kom hulle na die RSA terug. Hier sterf sy, kort nadat hy einde Junie daardie jaar uit die diens getree het, in Pretoria. Soos sy vriend en eertydse kollega, ds. Scott, woon hy etlike jare in Rogelim, ons Kerk se oudste huis vir bejaarde mans, in Kaapstad en in die tyd vertaal hy ds. Enrico Casaleggio se boek oor ons Soedansending in Engels. Weens die geleidelike afname van sy liggaamlike en geestesvermoëns is hy die laaste vier jaar van sy lewe ‘n inwoner van Geluksoord by Stellenbosch. Saam met al sy ander werksaamhede het hy as een van die baanbrekers in die Soedan ook baie mediese en onderwyswerk gedoen. Van sy opvallendste eienskappe was sy besondere nederigheid, netheid, hoflikheid en sy groot agting vir die persoon van ‘n medemens. Hy het God van harte gedien en daarby was hy ook ‘n getroue voorbidder – in kort, ‘n besondere Christenmens en toegewyde dienskneg van die Here’.