Opperman, Stephanus Abraham

Ds. Opperman Stephanus

GEBORE

21 Jul. 1923

OORLEDE

5 Apr. 1980

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1947

ORDEN

1948

standplase

1948 Cathcart

1953 Port Elizabeth

1957 Zastron

1961 Oos-Londen

23 Jan. 1966 Seinheuwel

Emeritus

Ds. Stephanus Abraham Opperman (21.7.1923 – 5.4.1980) is na ‘n siekbed van vyf weke en twee operasies in die hospitaal in Bloemfontein Oorlede. Hy was ‘n seun van Molteno en nadat hy sy skoolloopbaan 1939 daar voltooi het, gaan hy vir sy verdere studie na Stellenbosch. In 1947 tree hy tot die bediening toe en 11.9.1948 word hy as leraar van Cathcart bevestig. Daarna staan hy in Port Elizabeth (1953); Zastron (1957) en Oos-Londen (1961); totdat hy vroeg 1966 die leraar van die jong gemeente Seinheuwel in Bloemfontein word. In hierdie middestadsgemeente met sy jaarlikse lidmatewisseling van oor die 70 persent arbei hy met onvermoeide ywer. In weerwil daarvan dat die gemeente se voortbestaan aanvanklik van ‘n sinodale toelaag afhanklik was, slaag die kerkraad gedurende die veertien jaar van hul eerste leraar se dienstyd daarin om twee pastorieë, ‘n kerksaal en nog ‘n perseel aan te koop en ook alle skuld te delg. Terwyl hy homself nooit in die werk vir sy Meester gespaar het nie, het sy menseliefde, sy aangename omgang en sy groot takt sy gemeentelede aangespoor om groot ondernemings aan te pak en met welslae deur te voer. Verder sal kerkraadslede wat saam met hom gedien het, altyd die knap en doeltreffende wyse waarop hy ‘n vergadering gelei het, sowel as sy besondere organisasievermoë onthou. Hy het onder andere in die Sendingkommissies van die Vrystaatse en die Algemene Sinode gesien. Terwyl sy warme en persoonlike belangstelling in die werk en die personeel en sy stipte en flinke uitvoering van alle opdragte aan die kommissie steeds tot besieling en as voorbeeld gedien het, het hy meer as nege jaar die Vrystaat se Sinodale Sendingkommissie met onderskeiding en simpatieke meelewing gelei. (Jaarboek 1981/257).