
GEBORE
23 Nov. 1929
OORLEDE
26 Nov. 2008
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1953
ORDEN
1954
standplase
1954 Ventersdorp
1957 Bospoort
1959 Krugersdorp-Suid
1961 Derby
1965 Stilfontein-Sentraal
1968 Klerksdorp-Oos
1972 Waterval
1975 Horison
1981 Coligny-Oos
1985 Roodekrans
EMERITEER
1993
Ds. Meiring Oosthuizen (BA, Dipl. Teol.) (23/11/1929 26/11/2008)
Wouter Henri Meiring Oosthuizen is op 23 November 1929 op Hopetown in die Noord-Kaap gebore. Sy vader was eerwaarde GerhardusCorneliusOosthuizen, ‘n sendeling in die destydse Njassaland (Malawi); en sy moeder was Aletta Maria Vlok. Die egpaar het mekaar op pad na die sendingveld ontmoet en was wonderlike spanmaats in die Here se koninkryk. Meiring het sy skoolopleiding in 1936 aan die Laerskool Hopetown begin en was van 1943 af ‘n leerling aan Paul Roos op Stellenbosch. Hy was aktief betrokke by die Voortrekkers, die KJV en het ook in swem uitgeblink. In 1947 het hy aan die Universiteit Stellenbosch begin studeer vir die BA-graad, en hom daarna by die Teologiese Seminarium ingeskryf. Op 6 Desember 1953 is hy as proponent gelegitimeer.
Meiring is op 10 Julie 1954 met Hugheen Hendrina Hefer getroud, wa hom in die meeste gemeentes as orrel is bygestaan het. Sy het in 2002 aan ‘n breingewas gesterf. Uit die huwelik is drie seuns gebore: Gerhard Deon, Huge Hefer en Wouter Henri.
Prop Meiring Oosthuizen is op 21 Augustus1954 met handoplegging in die NG Gemeente Ventersdorp in die Wes Transvaal bevestig. Benewens sy laaste gemeente, Roodekrans, was sy dienstyd in elke gemeente baie kort, maar geseënd. Op 16 Februarie 1957 het hy leraar van die NG Gemeente Boschpoort geword, waar hy instrumenteel was in die beroep van ‘n eerste sendeling. In 1959 het hy leraar van die NG Gemeente Krugersdorp-Suid geword, waar hy gewerk het totdat hy op 5 Augustus1961 ‘n leraar van die NG Gemeente Derby geword het. In 1965 het sy pad na die NG Gemeente Stilfontein-Sentraal geloop, waar hy goeie werk onder die mynwerkers van die ryk goudveld gedoen het.
Op 6 April 1968 is hy in die NG Gemeente Klerksdorp-Oos bevestig, en op 29 Januarie 1972 in die NG Gemeente Waterval (Newlands); Sedert 21 Junie 1975 was hy leraar van die NG Gemeente Horison in Roodepoort, en van 10 Januarie 1981 af by die NG Gemeente Coligny-Oos. Ds. Meiring is op 22 Maart 1985 in die NG Gemeente Roodekrans in Roodepoort bevestig, waar hy gehelp het met die bou van ‘n nuwe kerk kompleks, ‘n kerksaal en twintig kategeselokale. Hy het op 30 Junie 1993 sy emeritaat aanvaar en die egpaar het hulle in Constantiakruin by Florida gevestig, waar hy ses maande na sy aftrede ‘n ernstige beroerte gehad het. Op 26 November 2008 is hy oorlede en uit die NG Gemeente Constantiakruin begrawe.
Ds. Meiring Oosthuizen was ‘n aanhanger van die chiliasme en het ‘n boek daaroor gepubliseer. Hy sal onthou word vir sy besondere vermoë om tekste uit sy kop aan te haal. Hy was waarlik ‘n lewende konkordansie wat in en deur die Woord wou leef.