GEBORE
13 Febr. 1931
OORLEDE
3 Aug. 2010
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1957
ORDEN
1958
standplase
1958 Epping-Wes
1959 Tiervlei-Oos
EMERITEER
–
Ds. Jan Oosthuizen (BA, BD) 13 Februarie 1931 – 3 Augustus 2010
Jan Antonie Alexander Oosthuizen is op 13 Februarie 1931 in Parys gebore. Sy pa, Wessel Johannes Oosthuizen, het oorspronklik van Mosselbaai se omgewing na die Vrystaat getrek. Hy was ‘n paaie operateur en het met Jacoba Maria Stears getrou, ‘n vrou wat haar huisgesin met twee kinders, Jan en Pina, met liefde versorg het. Jan se ma het gereeld loseerders soos onderwysers en plaas leerlinge gehuisves. Die kinders het in ‘n Godvresende ouerhuis grootgeword. Die grootste gedeelte van Jan se skoolloopbaan het hulle op Oranjeville deurgebring, maar hy het in 1949 aan die Hoërskool Heilbron gematrikuleer. In die koshuis op Heilbron was hy ‘n uithaler bokser en -rugbyspeler.
Na skool het Jan by Yskor op Vanderbijlpark gewerk. Die kantoorwerk het hom gou gefrustreer en hy het ‘n sielestryd in sy eerste jaar daar beleef. Toe hy een Sondagaand die radio aanskakel, het die predikant uit Jesaja 61:1 gelees en het Jan die roeping ontvang om teologie te studeer. Jan het aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer en is op 31 Januarie 1958 met handoplegging in die NG Gemeente Epping-Wes ontvang en bevestig. Prof PA Verhoef het die bevestigingsrede gelewer. Na ‘n kort dienstyd is hy op 13 Junie 1958 in die NG Gemeente Tiervlei-Oos (nou Parowvallei-Oos) bevestig, waar hy onder meer by die oprigting van ‘n kerkgebou betrokke was. In die winter van 1967 het hy leraar van die NG Moedergemeente Calvinia geword, en in Julie 1971 het die gesin na die NG Gemeente Welverdiend in Wes-Transvaal verhuis. In hierdie tyd het hy in verskeie sinodale kommissies gedien.
In die nawinter van 1975 het hy leraar van die NG Gemeente Hermanus geword, waar hy as bedienaar van die Woord en as pastor diep spore getrap het tot met sy aftrede op 21 April 1991. ds. Jan Oosthuizen was oral bekend as ‘n Skrif getroue prediker met ‘n welluidende stem. Hy was getroud met Anna van Schalkwyk en vier kinders is uit die huwelik gebore: Wessel (predikant van die NG Gemeente Koes in Namibië); Helena, Jacobie en Claudine.
Wessel skryf oor sy pa se bediening: “Jan het ‘n besondere passie vir die bestuurs- en administratiewe kant van gemeente wees gehad. Hy was intens betrokke by die oprigting van Parowvallei-Oos se kerkgebou en ander bouprojekte. Jan en Anna was baie aktief op die gebied van bejaardesorg. Die Seemeeu groep in die vroeë tagtigs en die dienssentrum op Hermanus is deur hulle gestig. Mense praat nou nog van die wonderlike toere wat hulle saam met die Oosthuizens onderneem het. Die dienssentrum wat hulle saam met dr Ettienne Rousseau gestig het, het van krag tot krag gegaan en bedien nou meer as 450 lede met ‘n wye verskeidenheid dienste. Ma Arma het self die eerste jaar die bestuur van die sentrum behartig.
“In die strategiese beplanning van bediening in die snelgroeiende NG Gemeente Hermanus het hy ‘n groot rol gespeel, ook met die begeleiding van Onruswyk tot afstigting as selfstandige gemeente. Op geestelike terrein was die toerusting van leiers en katkisante en die pastoraat sake wat hom na aan die hart gelê het.”
Op 21 April 1991 het ds. Jan emeritaat aanvaar en hulle het ‘n tyd lank op Agulhas gaan woon. Later het hulle na die Strand verhuis, waar hy betrokke geraak het by die NG Gemeente Suiderstrand se diensverhoudinge en bestuursake. Die laaste paar jaar het hulle weer op Hermanus gewoon. Ds. Jan en Anna was die laaste vyf jaar voor sy heengaan inwoners van Huis Lettie Theron. Hy het drie jaar voor sy dood beroerte gekry en kon nie meer praat of eet nie. Op 3 Augustus 2010 is hy sag Oorlede. Ds. Pierre Bosman, ‘n oud-kollega van Hermanus, het die dankdiens gelei. Dr Gerdrie van der Merwe.