GEBORE
18 Jun. 1922
OORLEDE
20 Mrt. 2010
UNIVERSITEIT
BA (US), DPhil, MTh, D Lit, ThD, STM, DLit (hc), DPhil (hc)
gelegitimeer
1949
ORDEN
1950
standplase
1950 Bulawayo
1956 Queenstown
1959 Univ Fort Hare
1959 Univ Durban-Westville
1970 Univ Utrecht
1984 Univ Zoeloeland
EMERITEER
1994
Prof Gerhardus Cornelius (Pippen) Oosthuizen is op 18 Junie 1922 as boerseun in die distrik Alexandria gebore. In die pioniers jare het sy pa en ma ‘n melkery opgebou, waar Gert van kindsbeen afgeleer het wat harde werk beteken. Oor sy ouers skryf hy: “Hulle toewyding en deursettingsvermoë het ‘n groot invloed uitgeoefen op ons as kinders, ook as Skrif getroues in alle opsigte.” Hy het sy skoolopleiding aan die Laerskool Kenkelbosch en aan die sekondêre skool op Alexandria ontvang, en op 15 jaar aan die Hoërskool Kirkwood gematrikuleer.
Gert het as 19-jarige die BA-graad op Stellenbosch verwerf met vier ekstra vakke. Weens sy liefde vir die sending het hy drie jaar lank aan die Sending-Instituut op Wellington gestudeer. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy vanaf 1944 tot 1946 die kapelaan van die Suid-Afrikaanse soldate in Italië en Oostenryk. Met sy terugkeer het hy aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch gestudeer (1947-1948) en in 1949 sy studies aan die Vrije Universiteit van Amsterdam voortgesit. Aan die einde van 1949 het hy teruggekeer om as proponent gelegitimeer te word. Intussen het hy ook die MA-graad in Filosofie voltooi.
Op 17 Junie 1950 is hy met handoplegging in die NG Gemeente Bulawayo ontvang en bevestig. Hier het hy in verskeie kerklike kommissies gedien en diep spore in die streek getrap. Tussenin was hy vir ‘n ruk lank in New York en Amsterdam om te studeer. Hy skryf: “Ek was ses jaar in die gemeente wat myle der myle gestrek het na verskillende kante toe. Daar was sowat ‘n 1 000 lidmate waarvan 700 in die stad was en 300 was wyd verspreid in die vier windrigtings. ‘n Hoogtepunt was altyd die bediening van die Woord, maar veral die opsoek van mense wat sku was vir die kerk in die bosse van Suid-Rhodesië. Dit was ‘n voorreg om bystand te bied in oorlogs omstandighede.”
Die naweek van 11 tot 12 Februarie 1956 is hy en sy gesin in die NG Gemeente Queenstown ontvang en bevestig. Ds. JA van Zyl van die NG Gemeente Bloemfontein-Noord het die bevestigingsrede gelewer, terwyl dr Louis Rex die formulier gelees het.
Fanie Marais skryf: “Dr Gert Oosthuizen was ‘n baie geliefde en beminde predikant wat huisbesoek as ‘n prioriteit beskou het. Hy was ‘n ware vriend wat die evangelie met groot erns verkondig het. In 1957 was daar ‘n groot herlewing onder lede van die KJA op Queenstown. Ons het sendingwerk in die Xhosa-woongebied gedoen en ook evangelisasiewerk in die bruin woongebied.”
Terwyl hy op Queenstown gewerk het, het Gert die Alexander von Humboldtbeurs gekry, wat hom en sy gesin in staat gestel bet om tweejaar lank navorsing in Duitsland te gaan doen. In I959 het hy as dosent na die Universiteit van Fort Hare vertrek, waar by ‘n briljante akademiese Ioopbaan begin het. In 1969 is hy as professor en hoof van die Departement Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Durban-Westville aangestel, waar hy ‘n mentor vir baie was en diep spore getrap het. Van 1970 tot 1971 het hy klas gegee aan die Universiteit van Utrecht in Holland.
Prof Gert (Pippen) Oosthuizen is een van die veelsydigste teoloë en akademici wat die kerk nog opgelewer het. Hy het ses grade verwerf, waarvan twee doktorsgrade, een in die Filosofie en een in die Teologie. Daar is ook vier ere-doktorsgrade aan hom toegeken.
Op kerklike en godsdienstige terrein was sy rol groot, nie net as hoof van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Durban-Westville nie, maar ook as stigter en hart van die Departement Godsdienswetenskap. Prof GC Oosthuizen is in 1984 as professor aan die Universiteit van Zoeloeland aangestel, waar hy gedien het totdat hy in 1994 sy emeritaat aanvaar het. Hierna het hy weer professor aan die Universiteit van Durban-Westville geword.
Prof Gert Oosthuizen, ook Pippen genoem, het meer as 45 boeke geskryf. Hy is wêreldwyd gereken as ‘n gesiene teoloog en by navorsing betrokke by universiteite in Nederland, Duitsland, Noorweë, Swede, Denemarke, Switserland, Rusland, Engeland, Skotland, Indië, China en Amerika. Sedert 1984 was hy ‘n voltydse navorser en direkteur van Nermic, ‘n navorsingsentrum van die RGN.
Hy is al die jare getrou deur sy lewensmaat bygestaan. Oor haar skryf hy: “Ongelukkig bet ek my wonderlike wederheif, dr Connie Opperman, ‘n uitstekende persoon en hier in
Natal ‘n geliefde medikus, sewe jaar gelede verloor. Sy was ‘n toegewyde lidmaat van die NG Kerk.” Uit die besondere huwelik is drie kinders gebore: Carel Landman, Christiaan Rudolf en Gerhardus Cornelius.
In sy laaste lewensjaar het prof Pippen Oosthuizen na ‘n aftreeoord in BelIville verhuis, waar hy op 20 Maart 2010 in die rype ouderdom van 87 jaar oorlede is. Ds Johann Symington het ‘n roudiens in die Kaap gelei en op 24 Maart 2010 is ‘n gedenkdiens in die kerkgebou by Westville gehou, waar oudkollegas en vriende ‘n laaste eer kon bewys. Een
van die mooiste eienskappe van prof Oosthuizen was sy nederigheid. Oor sy prestasies skryf hy: “Ek het nooit ooit hiervoor gewerk nie, nooit myself geadverteer nie, maar eenvoudig net volstoom vir jare gewerk. Die grade is van minder belang, wat wel van belang is, is die materiaal wat deurgewerk is en die kennis en insig wat dit bied.” Dr
Gerdrie van der Merwe VDM. (Jaarboek 2011/400).