Oosthuizen, Gabriel Hermanus

Ds. Oosthuizen Gabriel

GEBORE

11 Sep. 1919

OORLEDE

06 Jun. 1993

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1945

ORDEN

1946

standplase

1946 Alberton

1946 Biesiesvlei

1950 Pietermaritzburg-Noord

1957 Sendingsekretaris N.G. Kerk van Natal

1961 Hooforganiseerder Chr. Lektuurfonds

Bloemfontein

1964 Hospitaalpark

EMERITEER

Ds. Gabriël Hermanus Oosthuizen (BA) (11.09.1919 – 06.06.1993)

Ds. G H Oosthuizen was vanweë sy werksaamhede as skakelbeampte van die NG Kerk se Christelike Lektuurfonds (CLF) by duisende lidmate dwarsoor ons land bekend. Daarbenewens was hy deur die jare in verskillende gemeentes in Transvaal, Natal, Vrystaat tot die verre Walvisbaai werksaam. Op Sondag, 6 Junie 1993, is hy Oorlede.

Die eerste gemeente waar hy betrokke was, was Alberton waar hy ‘n hulp leraar was. ‘n Jaar later is hy in sy eerste gemeente, Biesjesvlei in Wes-Transvaal, bevestig, daarna in Pietermaritzburg-Noord, om van daarna die sendingkantoor in Pietermaritzburg as sendingsekretaris van die Natalse Sinode te gaan.

‘n Aanstelling as die hoof-organiseerder van die CLF het hom na Bloemfontein geneem waar hy drie jaar later ‘n beroep na Hospitaalpark aangeneem het, terwyl hy deeltyds as hoof-organiseerder aangebly het. Van daar af is hy na Walvisbaai. Op die dorp het sy eggenote, mev. A M Oosthuizen, met sy ondersteuning die Bybel kiosk gestig wat vandag nog Bybels aan matrose op verbygaande skepe voorsien. Hulle is toe na die gemeente Sannieshof waar hy tot met sy aftrede werksaam was.

Reeds voor sy aftrede het die Raad van die CLF hom weer genader vir ‘n aanstelling as skakelbeampte van die CLF, ‘n pos wat hy agt jaar lank beklee het.

En wat ‘n skakel was hy nie! Hy het met elke gemeente van ons kerk kontak gemaak. Hy het kerkrade, vrouedienste en jeugaksies aangemoedig om bydraes tot die fonds te lewer.

Toe hy agt jaar gelede as skakelbeampte begin het, het die fonds op ongeveer drie en ‘n driekwart miljoen rand gestaan. Onder sy leiding het dit uiteindelik die oorspronklike oogmerk van 1957 behaal, naamlik om 6 miljoen rand byeen te bring binne vyfjaar. Dit het uiteindelik 35 jaar geneem om hierdie oogmerk te bereik Om egter te doen wat die fonds aanvanklik beoog het, sou tans ‘n kapitale bedrag van R I miljoen rand verg.

Die werk het nietemin gegroei en daar word tans ongeveer 50 000 traktaatjies per maand in 22 tale deur die NG Sendingpers gedruk, behalwe nog al die ander drukwerk van die Sending kerk.

Dis egter as gelowige kind van God en as mens wat ds. Oosthuizen veral beïndruk het. Hy kon die Woord met vuur en oortuiging verkondig – soos ‘n leraar een keer gesê het nadat hy na hom geluister het: “Mag, maar die man kan preek!”

Die liefde van die Here Jesushet uit hom gestraal en hy was pastor by uitnemendheid. Die Oosthuizen se alombekende gasvryheid het meegebring dat hulle pastorie altyd “vertrap” was.

Hulle huwelik was ‘n voorbeeld vir almal. Tot op die end was hulle soos twee verliefdes. Uit hulle huwelik is sewe kinders gebore, van wie twee ook predikante is.

In ‘n brief aan mev. Oosthuizen, skryf ds. Hans Linde, uitvoerende direkteur van Mema -Media en Bybelkor, die volgende: “Ons hel groot waardering vir die werk wat ds. Oosthuizen deur die jare vir die CLF gedoen het. Op hierdie manier het hy ‘n groot bydrae gelewer om die evangelie van JesusChristusop verskillende maniere te laat uitdra. Mema-Media het deur die jare baie voordeel getrek uit die insamelings wat hy vir die CLF gedoen het. Ons sal altyd met groot waardering aan sy lewe en sy werk terugdink.

“Ook van Bybelkor se kant af wil ons ons meegevoel betuig. Die werk wat u eggenoot gedoen het, het vir Bybelkor in staat gestel om die Bybelstudiegidse en ander sendinghulpmiddels in groter getalle te versprei.”

Ek kan heelhartig met al hierdie getuienisse saamstem. Ek weet dit is waar, want ek het hom al die jare persoonlik goed geken. (- D P Myburgh)