Olwagen, Willem Johannes Christiaan

 

GEBORE

29 Des. 1919

OORLEDE

03 Nov. 1998

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

ORDEN

standplase

EMERITEER

Ds. Willem Johannes Olwagen (Teol. Dipl.) 29/12/1919 – 03/11/1998

Ds. Willie Olwagen (Oom Ollie) het sy hele bediening aan die sending, veral aan die NG Kerk in Afrika, gewy en die oorgrote deel daarvan in die Wes-Transvaal. Daarna het hy op ‘n nog veel wyer terrein sy talente aan die oorbring van die geskrewe Woord vir veral die Tswanavolk gewy.

Hy is op 29 Desember 1919 op Nieu Bethesda gebore. Sy vader was ‘n messelaar. Sy roeping tot die bediening is aangrypend. Sy vader is aan sonsteek oorlede toe hy slegs sewe jaar oud was. Sy laaste woorde aan die klein Wille was: “My kind, jy moet eendag vir die Here gaan werk.” Hy het by die laerskool op Uitenhage skoolgegaan en net een jaar aan die Pearson-Hoërskool te Port Elizabeth. Daarna, vanaf 1941, het hy werk as ‘n leerling-stasievoorman by die Suid-Afrikaanse Spoorweë in Durban aanvaar. In die Spoorweg-hostel het hy eendag ‘n stem gehoor wat duidelik vir hom gesê het om 2 Tim 4:5 te gaan lees. Daar staan: ” ..doen die werk van ‘n evangelis, vervul jou bediening.” Hy het dit met vreugde as sy lewensopdrag aanvaar. Nou moes hy egter eers sy matrieksertifikaat kry en dit sou £28 vir die korrespondensiekursuskos. ‘n Weermagsersant het vir hom die geld gebring en gesê dat hy dit in opdrag van die Here gedoen het. So het hy dan sy matriek oor die pos behaal.

Hy het in 1946 na die Hugenote-Universiteitskollege op Wellington gegaan en sy Teologiese Diploma in 1948 verwerf. Tydens sy studiejare het hy hom as leier onderskei. Hy was voorsitter van die studenteraad, primarius van die Sending-Instituut en van “Bioleksie”.

Hy is op 29 November 1948 op Wellington gelegitimeer.

Wat sy gesinslewe betref, het hy op 11 Desember 1948 in die huwelik getree met Lenie Wait van Port Elizabeth wat ook haar opleiding op Wellington ontvang het. Hy het haar beskryf as “‘n engeltjie van Fredenheim”. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Johan (1949); Ludwig (1951); Annalie (1953) en Susanna (1957); Al vier is ook getroud.

Sy eerste gemeente was die NG Sendinggemeente Riebeek-Kasteel waar hy op 15 Januarie 1949 georden en bevestig is. In 1950 het hy ‘n beroep aangeneem na Delareyville se NG Kerk in Afrika-gemeente in Wes-Transvaal. In 1950 het hy na Biesjesvlei se NGKA-gemeente verskuif en in 1956 was hy assistent-saakgelastigde van die NGKA, sowel as Sondagskoolsekretaris van die vier swart kerke. In 1958 het hy weer gemeentewerk gedoen toe hy ‘n beroep na die NGKA-gemeente op Zeerust ontvang het. Daar het hy tot in 1962 gearbei toe hy predikant van die NGKA-gemeente Lichtenburg geword het. In 1965 het hy oorgeskuif na die buurgemeente, Lichtenburg-Noord (NGKA) en in 1972 na Randfontein (NGKA) aan die Wes-Rand. Toe hy pas daar begin het (1972); is hy benoem as sekretaris/bestuurder van MEMA in die OVS en het hulle na Bloemfontein verhuis.

Ds Olwagen het ‘n baie vrugbare en aktiewe bediening gehad wat weerspieël word in die feit dat hy kerke gebou het op Delareyville, Dinokama (Marico); twee in Zeerust, Itsoseng (Lichtenburg); en die Delarey-Sendingkerk op die plaas Elandsfontein waar genl. De la Rey gewoon het. Hy het hom beywer vir die opheffing van die Tswana-volk en persoonlike evangelisasiewerk, asook werk in die Thusong-hospitaal by Lichtenburg gedoen waar hy ook as hospitaalleraar gedien het.

Ook op die algemene kerklike terrein het hy voortreflike diens gelewer, as voorsitter van die Gesamentlike Kommissie van die NG Kerk en die Gereformeerde Kerke vir die vertaling van die Drie Formuliere van Eenheid en die formuliere in Tswana. Hy het ook die Murray-Kinderbybel in Tswana vertaal. Hy het dertien jaar as sekretaris van die MEMA-Kommissie gedien.

Hy het sy emeritaat op 30 April 1985 aanvaar nadat hy die ouderdom van 65 jaar bereik het. Die gesin het eers in Lofdal in Bloemfontein gewoon. In 1986 het hulle, op versoek van Bybelkor, na Wellington verskuif sodat hy kon aangaan met sy geliefkoosde werk, die vertaling van kursusse en ander geskrifte van Bybelkor in Tswana. Hy het ook opgetree as koördinerende pastorale raadgewer vir Bybelkor in die afdeling: Studentedienste waar hy talle briewe in Afrikaans, Engels, Sesotho, Tswana en Noord-Sotho moes beantwoord.

Hierdie tale het hy op besondere wyse aangeleer. Toe hy in die gemeente Delareyville was, moes hy op ‘n misvloer bid vir ‘n sterwende swart plaaswerker, maar die kon nie Afrikaans verstaan nie. Hy het die Here daarom ernstig gevra om hom te help om ‘n swart taal aan te leer. Die wonderlike resultaat: hy het meer as vyftien boeke in Tswana vertaal!

Oom 0llie is op 3 November 1998 oorlede, ‘n maand voordat hy 79 jaar oud sou word.

In April 1998 kon die medici aanvanklik nie vasstel wat die probleem was nie en eers na baie ondersoeke is vasgestel dat sy galblaas reeds geperforeer was. Daarna is ‘n gewas aan sy pankreas ontdek en moes hy chemo-behandeling kry. Teen hierdie tyd het hulle gelukkig plek gekry in die aftree-oord La Gratitude by Durbanville. Hy het ook nog erge gordelroos ontwikkel en teen die end van Oktober moes ‘n noodoperasie gedoen word vir obstruksie. Daar is toe gevind dat die gewas baie gegroei het. Kort daarna is hy Oorlede.

As persoon was hy ‘n beskeie mens. Sy werk was vir hom nommer een in sy lewe.

Waar sy vader op sy sterfbed vir hom gesê het hy moet vir die Here gaan werk, kon hy op sy sterfbed sê dat hy nou sy pa sal gaan opsoek en vir hom sê dat hy vir vyftig jaar lank vir die Here gewerk en so sy belofte uitgevoer het. Hulle het ‘n pragtige huisgesin gevorm. Hulle, en die hele kerk, dink met dankbare erkenning terug aan ‘n lewe van diens deur hierdie besondere man. – Dirk Viljoen, aan die hand van die biografiese vorm wat op 15 Maart 1997 ingevul is en ‘n gesprek met sy eggenote.