
GEBORE
07 Mrt. 1932
OORLEDE
10 Okt. 1995
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1955
ORDEN
1956
standplase
1956 Masjonaland, S.R.
1958 Sending kombinasie Jagersfontein
Luckhoff
1960 Immanuel (Cradock)
1962 Cradock (Bantoe)
1965 Sannieshof
EMERITEER
–
Dr Ferdinand Johannes Ollewagen BA, MTh, ThD 07.03.1932 – 10.1O. 1995)
Van hierdie mooi man en baie besondere mens word gesê dat die Here Jesusvoor die Vader, by sy aankoms in die hemel, sou kon getuig: Ek was in die gevangenis en Ferdi het My besoek; ek was in die gevangenis en Ferdi het My versorg.
Sy lewe het begin op 7 Maart 1932 toe hy op Beaufort-Wes in ‘n Godvresende huis gebore is en daar op skool en in die kerk was. Daar in die Karoo is ‘n mens van ware karakter gevorm.
Hy verwerf sy Teologiese Diploma aan die Sendinginstituut op Wellington en word in 1955 gelegitimeer. Nadat hy reeds in die bediening was, behaal hy ‘n BA-graad aan die Universiteit van Suid Afrika. Sy MTh- en ThD-grade behaal hy aan die Central School of Religion, Universiteit Indianopolis, Indiana VSA. met skripsies oor: ‘The Christian Bantu of the Cape Midlands en Diakonia in the New Testament’ asook ‘Prayer in the primitive Church’.
Hy bly altyd ‘n student en was ‘n stigterslid van die Werksgemeenskap vir Sendingwetenskap. Hy moedig ook voortdurend sy kapelaanskollegas aan om minstens een teologiese publikasie per maand te lees, wat hy sekerlik ook self gedoen het. Hy is ook voortdurend betrokke by broederkringe waar oor kerkgrense heen nagedink is oor die Woord en die werking daarvan in die koninkryk van God.
Oral waar hy in die bediening was, het hy ook die Afrikataal van die omgewing bestudeer, soos Suid-Sotho, Xhosa en Tswana. Laasgenoemde kon hy vlot praat.
Na sy ordening in 1956 dien hy in die volgende gemeentes en werkkringe in die Ned Geref. Kerk in Afrika, die Ned Geref. Sendingkerk en die Ned Geref. Kerk: Mashonalandsending (1956); in kombinasie die sendinggemeentes Jagersfontein, Fauresmith en Luckhoff (met vier konsulentskappe) 1958; Immanuel (Cradoek) (met drie konsulentskappe) 1960; Cradock (NGKA) 1962, Sannieshof 1964; Potchefstroom (Ikageng) 1971 en word kapelaan van Baviaanspoort verbonde aan die gemeente Kameeldrif (1977) en later aan die gemeente Magalieskruin-Pretoria. Hy was verantwoordelik vir die bou van twee kerkgeboue tydens hierdie bediening.
Hy dien in verskeie sinodale en algemene sinodale kommissies van die NGKA, (onder andere as hulpskriba en skriba in Suid-Transvaal); die NGSK en die Ned Geref. Kerk, onder andere in die Algemene Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid, die Kapelaanskommissie en die Subkommissie vir Wetsoortredersorg.
Oral waar hy in sy predikantstandplase was, het hy voortreflike gevangenispastoraat beoefen nog voordat hy gevangeniskapelaan geword het.
Sy departementele loopbaan begin op 14 Junie 1977 toe hy by die Gevangenisdiens aansluit as kapelaan vir die Baviaanspoort/ Pietersburg-Kommandemente. In 1979 word hy verplaas na die Korrektiewe Dienste se hoofkwartier waar hy eers as administratiewe kapelaan dien, daarna as Direkteur Godsdienssorg en later, vanaf Februarie 1988 as Adjunk-kommissaris vir Godsdienstige Versorging in die SA Gevangenisdiens met rang: Generaal-Majoor. Hy bly dit totdat hy uit die diens tree op 31 Maart 1993.
As lid van die Generale staf was hy medeverantwoordelik vir verskeie beleids- en koersaanpassings in die departement. Sy besondere agtergrond in die sendingveld het ‘n bepaalde stukrag en beklemtoning gegee aan ‘n regverdiger bedeling vir alle bevolkingsgroepe. Hy was selfs ook beskermheer van die departementele sokkerspan. Met al die kerke en gelowe se beheerliggame het hy hartlik saamgewerk en hulle het groot waardering gehad vir die waardige wyse waarop hy die godsdienssorg aan die wetsoortreder behartig het.
Op grond van sy getrouheid en uitmuntende en voortreflike diens het hy van die Departement Korrektiewe Dienste die volgende medaljes en dekorasies ontvang:
medalje vir meriete op 14.6.83,
medalje vir troue diens, 10 jaar, op 14.6.87,
ster vir meriete op 14.6.87, en
ster vir voortreflikheid op 7.12.87.
Hy is by sy begrafnis met trots gesalueer namens die betrokke minister, die kommissaris en sy kollegas as ‘n gewaardeerde en gerespekteerde persoon wat hulle voorgegaan het in ‘n tradisie van dienslewering en leierskap. Sy vriendelikheid, hulpvaardigheid en onbaatsugtige diens sal nog lank ‘n bron van inspirasie bly.
Sy dood het op menslik-onverklaarbare wyse gekom. Terwyl hy op pad was met sy klein motortjie om net gou ‘n stukkie drukwerk in verband met die geestelike werkers wat hy nog steeds bygestaan het, te gaan ingee, is sy motor van voor deur ‘n ander motor getref, en is hy op slag dood. Dit was God wat sy tyd bepaal het en hom so opgeroep het vir hoër diens.
Hy is op 7 Januarie 1956 getroud met Joey, en uit die huwelik is vier kinders gebore naamlik Willem, Johan, Cornelia en Ferdi. Hy laat ook tien kleinkinders na. – Kobus Bezuidenhout, aangevul en verwerk deur DJ Viljoen