Olivier, Johannes Petrus Jacobus

 

GEBORE

31 Jan. 1945

OORLEDE

25 Mrt. 1998

UNIVERSITEIT

MA, BTh, DLitt

gelegitimeer

ORDEN

standplase

EMERITEER

Prof Hannes Olivier, dosent in die Ou Testament van die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch, is op 25 Maart 1998 aan kanker Oorlede. Hy was ‘n uitmuntende akademikus en die ewige student.

Hy het aan die Teologiese Fakulteit van Stellenbosch gestudeer en is in 1973 gelegitimeer. Hy het egter nooit ‘n gemeente bedien nie. Direk na sy verdere studies aan die Universiteit op Stellenbosch is hy in 1978 as dosent in Semitiese Tale aangestel. Vanaf 1 Januarie 1981 was hy senior lektor in Ou Testament aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch en vanaf 1987 professor. Sy proefskrif vir sy DLitt-graad het gehandel oor: `The Old Babylonian mesarum-edict and the Old Testament.’

Hy het op akademiese gebied wye internasionale erkenning geniet en was ook ‘n Bybelse argeoloog van formaat. Hy het soveel aansien geniet dat hy die eerste Suid-Afrikaner was wat deur Jordanië genooi is om aan kongresse en argeologiese opgrawings daar deel te neem. Hy was lid van nege internasionale vakgerigte verenigings en het ‘n groot aantal artikels en navorsingstukke gelewer. Daarby het hy heelwat artikels in samewerking met buitelandse- en plaaslike kundiges gepubliseer. Benewens sy deelname aan verskeie oorsese kongresse, het hy ook ‘n aantal in Suid Afrika gereël. Op die studente wat by hom klas geloop het, het hy ‘n blywende indruk gemaak.

Dat hy ook ‘n gewaardeerde kollega van sy medeprofessore was, blyk uit die feit dat die dekaan, prof Bernard Combrink en rektor, prof Andreas van Wyk, met groot lof van hom gepraat het en dat die begrafnisrede deur prof Daniël Louw gelewer is en prof Bethel Muller die ter aardebestelling gedoen het.

Prof Olivier laat sy vrou, Belia, sy ouers en sy broer, Bertus, na. Sy heengaan op so ‘n vroeë ouderdom, laat ‘n groot leemte in sy huis, die Teologiese Kweekskool en die Ou-Testamentiese wetenskap hier en oorsee. – Dirk Viljoen, na aanleiding van berigte in onder andere Die Kerkbode.