Olivier, Jacobus Johannes

 

GEBORE

02 Jan. 1930

OORLEDE

14 Sep. 2001

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1953

ORDEN

1954

standplase

1954 Concordia

1957 Keimoes

1960 Montagu

1964 Na Moederkerk: Karasburg

EMERITEER

 

Ds. JacobusJohannes Olivier (BA) 02/01/1930 -14/09/2001

Hannes Olivier is op 2 Januarie 1930 op Fraserburg gebore. Sy vader was ook Jacobus Johannes Olivier, ‘n sakeman, en sy moeder was Johanna Carolina (gebore Erasmus).

Hy het die Laerskool Victoria-Wes (1938 tot 1943) bygewoon en aan die hoërskool op die dorp gematrikuleer. Hy was ‘n boekwurm wat ook aan talle sportsoorte deelgeneem het.

Na matriek het hy aan die Hugenote Universiteitskollege op Wellington (1949 tot 1950) gestudeer waar hy ‘n BA-graad verwerf het. Na sy studies aan die Sending-Instituut (1951 tot 1953) is hy in November 1953 gelegitimeer.

Vroeër in 1953 het hy in die huwelik getree met Anna Jacoba Smit en uit die huwelik is drie kinders gebore, Anita, JacobusJohannes en Joline. Daar was in 1997 vyf kleinkinders. Sy eggenote Anna is in 1991 oorlede en hy het in 1995 met Marie Zondagh (nee Viljoen) getrou.

Ds. Olivier het sy bediening in die NG Sendingkerk begin. Sy eerste beroep was na die Concordia-gemeente waar hy op 6 Februarie 1954 georden en bevestig is. Drie jaar later het hy ‘n beroep na Keimoes se Sendingkerk aanvaar. In Julie 1960 is hy in Montagu se Sendingkerk bevestig. In 1964 is hy op Karasburg in die destydse Suidwes-Afrika bevestig. In Februarie 1969 het hy teruggeskuif Kaap toe en sy bediening in die NG Gemeente Bredasdorp voortgesit. Sy laaste gemeente was Worcester-Vallei waar hy in 1973 bevestig is. Hy het vir twintig jaar in die gemeente gewerk en in 1993 emeritaat aanvaar.

In Namibië het ds. Olivier in die Sinodale Sendingkommissie gedien, en in die Wes-Kaap in die Sinodale Kommissie vir Diens van Barmhartigheid. Hy was ook gereeld ringsvoorsitter.

Na sy aftrede het hulle op Worcester gewoon en hy het in gemeentes afgelos.

Op 14 September 2001 is ds. Olivier skielik Oorlede. Hulle was op pad om te gaan vakansie hou toe hy skielik weens ‘n hartaanval inmekaar gesak het.

Volgens sy eggenote was hy ‘n baie liefdevolle mens. Niemand het ooit sleg van hom gepraat nie. Hy was ‘n maklike mens om mee saam te werk en saam te lewe. Ds. Vrede Conradie, wat hom vyftig jaar lank goed geken het, het op sy begrafnis van “tien blomme” gepraat – tien besondere eienskappe van hierdie man.

Hy het die lewe mooier agtergelaat deur die genade wat God aan hom gegee het. (Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 04/02/1997 ingevul het en ‘n gesprek met sy vrou, Marietjie.)