GEBORE
04 Mei 1920
OORLEDE
26 Aug. 2003
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1951
ORDEN
1952
standplase
1952 Laingsburg
1959 Middelburg (K.P.)
EMERITEER
–
Ds. Ellen Olivier 04/05/1920 – 26/08/2003
Ellen Olivier is op 4 Mei 1920 op die plaas Varsfontein in die distrik Fraserburg gebore, die sewende van elf kinders en vernoem na sy ma se suster Ellie. Sy oupagrootjie, Gabriël Johannes le Roux, en sy familie het sedert 1840 op Varsfontein gewoon. Hy het die plaas gekoop vir ‘n os, ‘n knipmes en ‘n rol tabak! Sy oupa was Hendrik Erasmus Olivier en sy ouma Petronella Jacoba Immelman wat gebore is op die plaas Driefontein in die distrik Fraserburg. Sy oupa aan moederskant was Abraham Stephanusle Roux van Tulbagh.
Hulle was skaap- en boerbokboere, terwyl die twee fonteine gesorg het vir huiswater waaruit die groentetuin, lusern- en koringland natgelei kon word. Ellen het in 1926 met sy skoolopleiding aan die plaasskool begin, maar toe hy standerd 6 geslaag het, moes hy eers die skool verlaat om skape op te pas omdat daar nie geld vir die dorpskool was nie. Daar by die skape het Ellen die roeping gekry om ‘n sendeling te word en het hy geglo die Here sal voorsien. Die droogte van 1933 moes die plaas eers verpand en toe verkoop word, en die gesin het in 1939 na Tuine, Kaapstad, getrek. Ellen moes ook werk om die pot aan die kook te help hou, eers op Klipheuwel, toe in die strate van Soutrivier se melkery en later in ‘n winkel. Ellen het hom aanvanklik by Sukses-kollege ingeskryf om sy skool- loopbaan te voltooi, maar die simpatieke skoolhoof van Hoërskool Nassau het hom in 1945 gehelp om voltyds terug te keer skool toe. Hy was byna 25 jaar oud en twaalf jaar laas op die skoolbanke, maar het matriek geslaag. Hierna het hy na Wellington vertrek waar hy van 1947 aan die Hugenote-universiteitskollege gestudeer het om toelating tot die Sending-instituut op Wellington te kry.
Aan die einde van 1951 is hy as sendeling gelegitimeer. Op Wellington het hy Christina Fredrika Kies ontmoet, dogter van prof CF Kies, dosent aan die Sending- instituut op Wellington. Die egpaar is op 9 Februarie 1952 in Durbanville deur haar vader in die eg verbind. Dit was ‘n groot dag vir Ellen, wat toe reeds ‘n beroep na die gemeente Laingsburg in die Karoo aanvaar het. Uit die huwelik is drie kinders gebore: Jacomina, Nicolaas en Charles.
Ellie is op 2 Maart 1952 in die sendinggemeente Laingsburg met handoplegging ontvang en bevestig, die rede is deur prof CF Kies gelewer. Daar het hulle in die oudste huis op Laingsburg gebly – die kerkraad het die oorspronklike plaashuis gehuur as sendingpastorie. Dit was wonderlike jare met lief en leed en humor. Met huisbesoek het die egpaar gemeentelede gewoonlik met die hand gegroet, ‘n gebaar waarteen ‘n lidmaat geweldig kapsie gemaak het. Daar was ook beproewing toe Christina en hul driejarige dogtertjie ernstige brandwonde opgedoen het kort voor die geboorte van hul tweede kind. In die gemeente het Ellen ook ‘n interessante stokperdjie beoefen, die maak van doodskiste. Waarlik, hierdie sendeling het sy lidmate bygestaan van die wieg tot die graf.
In die winter van 1957 is ds. Ellen en sy gesin in die sendinggemeente Middelburg (Kaap) ontvang en bevestig. Daar het hulle byna 14 jaar gewoon en gewerk en is hulle hartlik deur die gemeenskap ondersteun. Hier was Christina (in die omgang as Frikkie bekend) skoolhoof van die Middelbare Skool. In die herfs van 1972 is die leraarspaar in die sendinggemeente Prins Albert bevestig. Hulle het baie hard gewerk om die kerkskuld te delg, verskeie bouprojekte aangepak en met hulle vertrek in 1978 na die sendinggemeente Bonnievale het hulle lieflike bakens agtergelaat. Tot met die aanvaarding van sy emeritaat in 1985, was ds. Ellen werksaam in die gemeente in die Breëriviervallei. In al vier gemeentes is benewens geestelike bouwerk, ook vyf skole, vier onderwyshuise, twee koshuise, drie kerkgeboue, twee kerksale, twaalf Sondagskool klaskamers, en een pastorie gebou. die aanvaarding van sy emeritaat op 5 Mei 1985 het Ellen en Frikkie hulle in die Strand gevestig. Begin 1986 het die gesin ‘n groot hartseer beleef toe hulle 28-jarige seun, Nicolaas, tragies gesterf het. N sy aftrede het ds. Ellen en Christina gereeld afloswerk in die NG Gemeentes Prins Albert, Swellendam, Umtata, Middelburg (Kaap); Rietbron en Klipplaat gedoen, asook in verskeie sendinggemeentes. Hy het ook dikwels by aftree-oorde in die Strand gepreek. Ds. Ellen het op 26 Augustus2003 skielik gesterf. ‘n Roudiens is op 29 Augustus2003 deur ds. Ig Schutte in die NG Kerk Suider-Strand gehou, die teksvers was 1 Pet 5:1-4 en die bedankings is deur Charles Olivier gedoen. – Dr Gerdrie van der Merwe.