Olivier, Dirk Pieter Momberg

Ds. Olivier Dirk

GEBORE

15 Okt. 1892

OORLEDE

7 Jul. 1980

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1917

ORDEN

1918

standplase

1918 Langlaagte

1921 Hoopstad

1928 Senekal

1947 Riebeek-Wes

EMERITEER

Ds Dirk Pieter Momberg (Kan) Olivier (15.10.1892 – 7.7.1980) is in Huis Pam Brink in die Strand oorlede waar hy sy laaste lewensjare deurgebring het. Op 26.4.1964 is hy, aan die einde van ‘n eervolle bediening van presies 46 jaar en na ‘n indrukwekkende diens wat deur wyle dr A J van der Merwe gelei is, op Riebeek-Wes geëmeriteer. die bewoë geskiedenis en uitgestrekte vlaktes van sy geboortedistrik, Graaff-Reinet, het weldadig op die Karooseun ingewerk en by hom ‘n innige liefde vir sy volk, sowel as vir die bodem en vir diere, meegebring. Tot kort voor sy aftrede presteer hy nog as perderuiter by die jaarlikse skou en met elke sinode versier sy blomme die moderatuursverhoog en die saal. nadat hy in 1910 aan die Graaff-Reinet Kollege gematrikuleer het, gaan hy na die destydse Victoria Kollege op Stellenbosch en toe na die Teologiese Seminarium aldaar om 1917 gelegitimeer te word. Op 27.4.1918 word hy as opvolger van ds A P Kriel in Langlaagte bevestig. Dit was in die onstuimige tyd op die vooraand van die staking wat die myne uiteindelik tot stilstand gedwing en tot die gewapende opstand van Maart 1922 gelei het. In 1921 vertrek hy na Hoopstad, waar hy weer die naweë van die Gewapende Protes (Rebellie) tydens Wêreldoorlog I beleef. Deur Gods genade geluk dit hom om die eenheid in die gemeente te herstel en met blydskap en vrug daar te werk, totdat hy 1928 na Senekal gaan waar hy gedurende 19 jaar diep spore trap. Ook hier daar aanvanklik tweespalt, maar toe die storm verby is, gaan die gemeentelike arbeid voorspoedig voort. Een van die sigbare monumente wat hy hier nagelaat het, was die sierlike kerkterrein met die ringmuur van versteende boomstamme, wat ‘n vername besiens-waardigheid geword het. Na ‘n dienstyd van byna drie jaar in die Transvaal en meer as 26 jaar in die Vrystaat, verskuif die toneel van sy arbeid na die Bolandse gemeente Riebeek-Wes, waar hy nog 17 jaar lustig voortwerk. Onder meer word daar op sy inisiatief ‘n nuwe skoolkoshuis opgerig. Ook word die kerk verbou en van ‘n toring voorsien, terwyl die kerkterrein ‘n traliewerk kry. Hy was ‘n gebore leier wie se hele lewe deur ‘n sin vir ordelikheid en netheid gekenmerk is. Geen wonder was dit dusdat beide die Vrystaatse en die Kaapse Sinode hom tot die Kommissie van Orde – in eersgenoemde was hy ook voorsitter daarvan verkies het nie. Vir hom was dit baie belangrik dat die prosedure in ‘n vergadering altyd reg moes wees. In die Vrystaat sowel as in Kaapland dien hy ook in die ou Raad van die Kerke. Verder was hy ‘n lid van die Vrystaat se Sinodale Sendingkommissie en ‘n betekenisvolle geleentheid wat hy meegemaak het, was toe hy in 1943 as een van die Vrystaat se afgevaardigdes na die stigting van die Ned Geref Sendingkerk in Rhodesië kon gaan. Nadat die konvensie van die Ned Geref Kerke in Kaapstad die voorgestelde kerkorde aanvaar het, sekondeer hy op Vrydagoggend, 12.10.1962, die voorstel van ds (later dr) P S Z Coetzee, wat eenparig en staande aangeneem word, tot die ontbinding van die Federale Raad van die kerke en tot die herstel van die organisatoriese kerkverband deur die stigting van ‘n Algemene Sinode. In die Kaapse Sinode was hy meermale vir die bekendmakings verantwoordelik en afgevaardigdes sal onthou hoedat die sprankelende wyse – dikwels in rymvorm – waarop hy dit gedoen het, aangename afwisseling en nuwe lewe gebring het. Uit sy Vrystaatse gemeentes is daar deur sy bemoeiing gereeld groot bydraes van lewende hawe en eiers vir kerklike kinderhuise gestuur, terwyl daar uit Senekal ook 15 koeie gekom het om die boerdery-afdeling van die Inrigting vir Dowes op Worcester aan die gang te help kry. (Jaarboek 1981/257).