Olivier, Daniel Wilhelm

 

GEBORE

22 Mei 1930

OORLEDE

09 Feb. 2000

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1956

ORDEN

1957

standplase

1957 Petrusville

1961 Okiep

1964 Brandwacht

EMERITEER

Ds. Daniël Wilhelm Olivier (BA, Dipl. Teol.) 22/05/1930 09/02/2000

Wilhelm Olivier is gebore te Joubertina op 22 Mei 1930. Sy vader was Daniël JacobusOlivier, ‘n boer, en sy moeder was ook ‘n nooi Olivier, Engela Jacoba. Hy het eers die Laerskool Tweerivieren bygewoon (1936-1940) en daarna na die laerskool op Joubertina gegaan (1941 – 1943); Hy het ook daarna die hoërskool op Joubertina bygewoon en in 1949 matriek in die eersteklas geslaag.

Na matriek het hy op Stellenbosch gaan studeer waar hy in 1952 die BA-graad behaal het en in 1956 die Diploma in Teologie. Hy is in Desember 1956 gelegitimeer en het as proponent tydelik in die Gemeente Graaff-Reinet gedien.

Hy het sy bediening op Petrusville begin waar hy op 17 Augustus 1957 georden is. Terwyl hy in hierdie gemeente gearbei het, is hy op 12 Julie 1958 getroud met Johanna Etresia van der Merwe. Sy was ‘n dogter van Jansenville, maar het as maatskaplike werker op Graaff-Reinet gewerk toe hy proponent daar was. Uit hierdie huwelik word daar later vier kinders gebore, Daniël Jacobus(02/08/ 1959); Elizabeth Gertruida (06/02/1961); Andries Fourie (09/07/1966) en Wilna (18/03/1971); Uit die huwelike van die kinders is reeds tien kleinkinders gebore.

Sy kinders en kleinkinders was baie lief vir hom en hulle het warme kontak met hom probeer hou ten spyte van sy siekte.

Na vier jaar op Petrusville, het hy ‘n beroep na O’Kiep aanvaar waar hy op 26

Maart 1961 bevestig word. Hierna volg die gemeentes: Brandwacht (01/05/1964); Barrydale (05/06/1970) en Steytlerville (15/10/1976) waar hy vyftien jaar lank arbei tot met sy aftrede op 26 Mei 1991.

Die sterk punte van sy bediening, waarop hy gekonsentreer het, was huisbesoek en siekebesoek, waarin hy baie getrou was ten spyte van die feit dat hy gedurende sy hele bediening met gesondheidsprobleme gesukkel het. In rings verband het hy ook sy deel gedoen en by geleentheid as voorsitter opgetree. Hy het ook in die Sinodale Kommissie van Leer en Aktuele Sake gedien.

Wilhelm het vir sy werk gelewe. In 1991 het hy afgetree omdat die gemeente nie meer sy salaris kon bekostig nie en ook omdat sy gesondheid in daardie stadium baie agteruit gegaan het. Hulle het eers op Middelburg in die Kaap gaan woon (1991 – 1995) en daarna na Jansenville getrek. Hy skryf dat hy deurentyd aan swak gesondheid gely het, en dat dit hom later gekniehalter het. In 1979 is die Alzheimersiekte en Parkinsonisme by hom gediagnoseer sowel as hipertensie. Hy is onverwags oorlede op 9 Februarie 2000 in die aftree-oord op Jansenville waar hy vir ‘n lang tyd in die sorgeenheid was. Sy begrafnisrede was die laaste wat ds. Fanie Fourie gehou het, voordat hy ook skielik in Oos-Londen oorlede is op 28 Februarie 2000. – Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 03/02/1997 ingevul het en ‘n gesprek met sy eggenote.