O’Kennedy, John Nicholas Francis * 1925

Ds JNF O’Kennedy

GEBORE

4 Jun. 1925

OORLEDE

17 Feb. 2005

UNIVERSITEIT

BA, MTh, DTh (US)

gelegitimeer

1950

ORDEN

1951

standplase

1951 Robertson

1957 Isilimela (Transkei-Sending)

1963 Pierneef

1966 Rondebosch

1974 Kleinmond

1982 PSD: Ampsbediening en Evangelisasie Wes-Kaap

EMERITEER

1990

 

Dr Kenney O’Kennedy (BA, MTh, D.Th.) 4/06/1925 – 17/02/2005

John Nicholas Francis O’Kennedy is op 4 Junie 1925 op die plaas Egbertsvlei naby Moorreesburg gebore. Sy groot-grootjie John Morgan O’Kennedy, was ‘n stoere Rooms Katoliek en verhuis in 1830 van Clonmel, Ierland na Suid-Afrika. Die van “Cinneide” (later vervorm na O’Kennedy) beteken letterlik die man met die groot kop. Hierdie stamvader was ‘n wewenaar, grofsmid en geweersmid, wat later trou met Rachel Christina Mellet van die Kaap die Goeie Hoop. Die egpaar vestig hulle in Malmesbury in die Swartland en uit die huwelik is vyf seuns en twee dogters gebore. Die vierde kind met die naam John Nicholas Francis O’Kennedy, was Kenney se grootjie. Die NG Gemeente Swartland op Malmesbury is reeds in 1745 gestig, die Hemelse Vader beskik dat twee direkte nasate en naamgenote van die stamvader leraars van die NG Kerk in Suid-Afrika word, dr JNF O’Kennedy in 1950 en sy seun ds. JNF O’Kennedy in 1985 op Malmesbury. Dit is ware kerklike humor oor kerkgrense heen en ‘n Goddelike beskikking in die Vaderlandse Kerkgeskiedenis.

Die grootjie JNF O’Kennedy gaan boer op die plaas Egbertsvlei, naby Moorreesburg, waar Kenney se vader John Nicholas Francis O’Kennedy in 1898 gebore is. Hy trou met Miemie Bester, ‘n boeredogter van die plaas Uitkyk, Moorreesburg. John en Miemie boer op Egbertsvlei vanaf 1923-1963, wie se harte en huis altyd oop was vir vriende en studente. Hulle was altyd gasvry en het leiding gegee in die gemeenskap en kerklike lewe, in so ‘n bevoorregte huis word Kenney en sy suster groot.

Hy matrikuleer in 1942 aan die Hoërskool Dirkie Uys op Moorreesburg waar hy as CSV-leier, hoofseun en rugby-kaptein skoliere met sy getuienis aanraak. As enigste seun kon hy die boerdery by sy vader oorneem, maar daar is van kindsbeen af die een passie om predikant te word. Kenney was lief vir stranddienste, want op twaalfjarige ouderdom in die Strand tydens ‘n kring op die strand, het hy ‘n ontmoeting met Jesus en ontvang die roeping om predikant te word. Die kringleier was Dawid de Villiers van Villiersdorp, later prof Dawid de Villiers van die Kweekskool wat ook sy promotor met sy doktorsgraad word.

In 1943 vertrek hy na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy die BA (Admissie) behaal, voltooi sy studie aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch waar hy einde 1950 as proponent gelegitimeer word. Tydens sy verblyf op Stellenbosch is hy ‘n inwoner van Wilgenhof, waar hy drie jaar lank primarius is, voorsitter van die studenteraad en kaptein van die Universiteit Stellenbosch se eerste tennisspan. Op die kampus was hy altyd ‘n ware vriend, vertroueling en getuie vir Christus.

Prop Kenney O’Kennedy trou in 1951 met mej. Cinie Steyn van Morgenster in Rhodesië (Zimbabwe); Op 22 Julie 1951 word hy met handoplegging in die NG Gemeente Robertson georden en bevestig. As jong leraar vind hy aanklank by die jeug, stig ‘n KJV en beywer hom vir die bou van ‘n gerieflike saal met genoeg ruimte vir jeugbedrywighede. In hierdie nuwe kerksaal word die eerste KJV-kongres aangebied. Einde 1956 neem hulle afskeid van Robertson want ds. Kenney ontvang die roeping om hom aan te meld vir Transkeisending. Hy begin die sendingstasie Canzibe naby Umtata en is die volgende vyf jaar Umfundis O’Kennedy. Isilimela/Ngqeleni, naby Umtata is die gesin se tydelike tuiste tot die nuwe sendingstasie aangelê is. Die opbou, ‘n vreemde taal aanleer en aanpassings, was waarlik geseënde jare in diepe afhanklikheid en wonderlike vertroue in die Here wat roep en onderhou.

In 1962 ontvang ds. Kenney O’Kennedy ‘n ekumeniese beurs vir verdere studie na Amerika. Na ‘n jaar studieverlof in die Strand aanvaar hy in 1963 ‘n beroep na die NG Gemeente Pierneef in Pretoria. Alhoewel hulle baie gelukkig was in die Jakarandastad, was hy hart en siel ‘n Bolander. In 1966 word hy herder en leraar van die NG Gemeente Rondebosch in Kaapstad, ‘n groot gemeente met grense oor vyf voorstede met genoegsame uitdagings. Hy is pligsgetrou die pastor van oud en jonk, ryk en arm, nederiges en belangrikes. Die ampswoning Groote Schuur en die meeste ministers van die parlement het in die gemeente gewoon. In 1966 ontvang hy ook die MTh-graad in die Teologie met die skripsie: “Die Aktivering van die Kerklike Jeug tot Sendingaksie”.

Op 1 November 1974 word hy bevestig as leraar van die NG Gemeente Kleinmond, ‘n kusdorp waar hy help kerkbou en met oorgawe die verskeidenheid vakansiebesoekers bedien. In 1977 voltooi hy sy studies en verwerf die doktorsgraad in Praktiese Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Die tema van sy proefskrif is: “Kerklike Onderrig aan die Belydende Lidmaat”.

September 1982 word dr Kenney O’Kennedy predikant in Sinodale diens met opdrag Ampsbediening en Evangelisasie van die Wes-Kaapse Sinode. Hieroor skryf sy vrou Cinie: “Hy beman ‘n kantoor in Kaapstad en besoek bykans 240 gemeentes en pastorieë in hierdie tyd. Hy het ‘n besondere sagte plekkie vir die pastorieë gehad. Hy leef sy passie uit om ‘n vriend, vertroueling en motiveerder vir pastoriepare, ampsdraers en lidmate te wees. Dit verg tot 5 optredes per naweek, dikwels tot 2 000 km om af te lê en nog Maandag betyds op kantoor te wees, dit alles vanaf Stellenbosch waar ons gesin sedert 1982 gewoon het. Desembermaande het hy, ten spyte van stormwinde en sandstorms, al die stranddiensspanne besoek en met sy fyn sin vir humor geïnspireer”.

Dr Kenney O’ Kennedy aanvaar in 1990 op 65- jarige leeftyd sy emeritaat en hulle bly aan in hulle huis op Stellenbosch. Uit sy huwelik met Cinie is vyf seuns gebore, dit is interessant dat die eerste JNF O’Kennedy van 1830 op Malmesbury ook vyf seuns gehad het. Vier van die vyf seuns van dr Kenney volg sy voetspore en word leraars in die NG Kerk: Johan is getroud met Tertia en hy is predikant in die NG Gemeente Swartland op Malmesbury. Andre is getroud met Jean en hy is predikant in die NG Gemeente Goudini. Wouter is getroud met Lila en hy is predikant in die NG Gemeente Despatch-Noord. Danie is getroud met Kobie en hy is predikant in die NG Gemeente Helderberg in Somerset-Wes. Tommy is getroud met Helene en was tot 2004 skoolhoof op Porterville. Pa Kenney het gereeld met huisgodsdiens vir sy kinders en 14 kleinkinders by die naam aan die Here opgedra. Na sy aftrede het hy ook drie boeke geskryf.

Na sy aftrede het hy gereeld gepreek tot hy begin siek word het. ‘n Seldsame kankergewas is in die sinusholtes gediagnoseer, waarvoor hy bestraling ontvang het. Dit het later newe-effekte gebring wat die brein aangetas het. Hy is op 17 Februarie 2005 in die hospitaal op Hermanus oorlede. Die laaste 3 jaar het hy en sy vrou, Cinie in die aftree-oord, Fynbospark in Hermanus gebly. ‘n Dankdiens tot lof van die Here word op 22 Februarie 2005 waargeneem deur die 5 predikante seuns van Kenney en Cinie O’Kennedy. Johan bedien die Woord uit Psalm 23 vers 1. Wouter doen ‘n dankgebed, Tommy en André lewer ‘n huldeblyk, Danie doen die bedankings. ‘n Jarelange vriend ds. Kobus Koch bring ook hulde aan ‘n besondere dienskneg van die Meester.

In ‘n hartroerende huldeblyk onthou die vyf seuns hulle Pa, ons haal net enkele gedagtes aan: “Ons Pa het met oorgawe geleef. Hy het met ‘n passie geleef. Sy positiewe lewensuitkyk was aansteeklik! Hy was ‘n mens-mens, hierdie passie het hy veral ook uitgeleef in sy verhouding met mense. Sy motto was: Kennis is diens! Hy het geglo dat hy met meer kennis God en sy medemens beter kon dien. Pa was onhandig, hy het letterlik tien duime gehad. Die moderne elektronika was heeltemal bo sy vuurmaakplek. Ons Pa het, ten spyte van al sy geleerdheid, ‘n kinderlike verhouding niet God gehad. Die manier waarop hy sy kanker hanteer het, was pragtige getuienis vir baie mense. Selfs in oomblikke van swakheid en kleingeloof, het hy dit eerlik erken. Ons Pa was ‘n deurleefde Christen wat saam met Mamma vir ons ‘n onverbeterlike voorbeeld gestel het. Ons wil nou saam “Die Here is vir ons goed, baie goed!”. – Dr Gerdrie van der Merwe.