Odendaal, Johannes Gerhardus

Ds. Odendaal Johannes

GEBORE

02 Sep. 1921

OORLEDE

14 Mrt. 2008

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1949

ORDEN

1950

standplase

1950 Pinetown

1960 Roodepoort

1964 Pretoria Polisie-Kollege

EMERITEER

Ds. Jan Odendaal (BA) (02/09/1921 – 14/03/2008)

Johannes Gerhardus Odendaal is op 2 September 1921 op Bredasdorp gebore. Sy vader was Francois Johannes Odendaal, ‘n verkeersbeampte, en sy moeder was Susara Johanna Lourens. Die kinders skryf op sy begrafnisbrief: “Ons pa was ‘n boorling van Bredasdorp en so baie van die kenmerke van die landskap het in sy karakter en geaardheid neer- slag gevind. Die rustigheid van die Overberg is in sy optrede weerspieël, behalwe wanneer die Streeptruie op Nuweland uitgedraf het. Hy sou alles altyd kalm en bedaard benader met die openheid van die wyd-wuiwende ruimtes van die Rinens.”

Jan het sy skoolopleiding op Bredasdorp ontvang en was betrokke by die Kinderkrans en CSV. Hy het diens gedoen by die spesiale Diensbataljon en ook by die Nederlandse Bank in Johannesburg gewerk. Aan die begin van 1943 het hy na die Universiteit van Stellenbosch vertrek waar hy in 1945 die graad BA-Admissie behaal het. Na sy studies aan die Teologiese Seminarium is hy aan die einde van 1949 as proponent gelegitimeer. Op 22 Maart 1950 is hy met handoplegging in die NG Gemeente Pinetown in Natal ontvang en bevestig. ‘n Dekade lank het hy die gemeente met oorgawe gedien en was hy ook betrokke by die bou van ‘n kerkgebou, pastorie en kerksaal. In die Natalse kerk was hy voorsitter van die Sinodale Jeugkommissie en ‘n tyd lank ook jeugorganiseerder.

Ds. Jan is op 7 Desember 1951 met Gezina Maria Labuschagne getroud, en hulle het vyf kinders gehad: Susan, Sonja, Gera, Francois en Truida. Met ds. JG Odendaal se afsterwe het hy en sy vrou 18 kleinkinders en vier agterkleinkinders. In 1960 is hy na die NG Gemeente Roodepoort beroep, waar hy vier jaar lank gewerk het. Vroeg in 1964 het ds. Jan predikant in die NG Gemeente Pretoria- Polisiekollege geword, ‘n eiesoortige gemeente wat na die geestelike belange van die personeel en studente van die Polisiekollege omsien. Hy was ongeveer 18 jaar lank daar werksaam en het gehelp met die bouwerk aan ii pragtige kerkgebou. Gedurende sy hele dienstyd in die NG Kerk in Transvaal het hy in die Sinodale Begrotingskommissie gedien, waar hy sy tal- ente in diens van die Meester kon gebruik.

In Maart 1982 het hy leraar van die NG Gemeente Pretoria-Wes geword, en daar aangebly nadat hy in 1988 syemeritaataanvaar het. Hierna was hy vier jaar lank ouderling in die NG Gemeente Hartbeesspruit, terwyl hy ook dienste waargeneem het in die Susan Strydom-tehuis in Pretoria.

Ds. JG Odendaal is op 14 Maart 2008 oorlede en ‘n roudiens is op 20 Maart 2008 vanuit die klipkerk (Hartebeesspruit gehou deur ds. Herklaas Viljoen. Sy agt kleinkinders het hom na sy graf in die Pretoria-Oos-begraafplaas gedra. Sy kinders getuig met sy begrafnis: “Ons pa was nederig, maar onbeskaamd lief vir en trots op sy vyf kinders en nooit ooit sou hy sy humeur vir een van ons verloor nie. Ons wil dankie sê vir Pa se nalatenskap, dat Pa vir ons almal ‘n voorbeeld was van die Hemelse Bruidegom en ‘n liefdevolle, geduldie Hemelse Pa.”