Odendaal, Bernardus Johannes

 

gebore

18 Nov. 1909

OORLEDE

09 Mei 1996

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1931

ORDEN

1932

standplase

1932 Theunissen

1936 Senekal

1942 De Bloem en Bloemfontein-Oos

1947 Bloemfontein-Wes en Saakgelastigde van die Gesamentlike Kerkkantoorkommissie en van die Sendingkerk van die Vrystaat en mede-Redakteur van „Die Ligstraal.” Vanaf 1963 ook Saakgelastigde van die Algemene Sinode en Adm. Sekr. Christelike Lektuurfonds. sendeling Witsieshoek-Sendinggemeente

EMERITEER

Dr Bernardus Johannes Odendaal MTh, DTh 18.11.1909 – 09.05.1996

Bernard Odendaal is op 18 November 1909 te Standerton gebore. Later het die gesin; in Soekmekaar-gemeente gewoon. Na sy skoolloopbaan is hy na Wellington om teologie te studeer. Hy behaal ook die graad MTh aan Universiteit van Stellenbosch en nog later DTh in die VSA.

Na sy legitimasie in 1931 het hy die volgende gemeentes van die Ned Geref. Kerk in Afrika bedien: Theunissen (1932); Senekal (1936) De Bloem en Bloemfontein-Oos (1942) Bloemfontein-Wes (1947); In sy eerste gemeente, Theunissen, het ʼn Suid-Sotho-onderwyser hom Sotho geleer en het hy baie gou meester in die taal geword wat ook later vir kerk en die koninkryk van groot betekenis geword het.

Sy hele bediening van 48 jaar was in Vrystaat, maar hy moes ook heel dikwels wy werk vanweë die besondere take wat aan hom opgedra is. So word hy byvoorbeeld saakgelastigde van die Gesamentlike Kerkkantoor kommissie en van die Sendingkerk van Vrystaat. Vanaf 1963 was Transvaal en Natal ook ingesluit toe hy saakgelastigde van die Algemene Sinode van die NGKA geword het.

Hy is een van die mede-oprigters van die Sendingpers in Bloemfontein en mede-inisieerder van die Christelike Lektuurfonds. Hy was vir baie jare die administratiewe sekretaris van hierdie fonds. Hy is eers mede-redakteur van die Ligdraer/Ligstraal (vanaf 1947) en later word hy redakteur.

Dr Odendaal se diepste spore lê egter op die Bybelvertalingsterrein, naamlik die vertaling van die Bybel in Suid-Sotho. Om vertaler te mag wees van die Here se kosbare Woord in ‘n taal wat hy so kleurryk goed en idiomaties korrek bemeester het, het vir hom ‘n innige innerlike bevrediging en rykdom gebring. Vanaf 1970 was hy die Bybelgenootskap van Suid Afrika se projek-koordineerder vir hierdie Bybelvertaling. Vir tien jaar het hy hierdie taak met ywer verrig. Die werk is agt jaar later voltooi.

Die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, het dr Odendaal se buitengewone diens raak-gesien en in 1985 aan hom ‘n Goue Penning toegeken – veral vir sy besondere werk as Bybelvertaler en vir al sy bedrywighede in verband met die Sendingpers. Die Staatspresidentstoekenning: Orde Voortreflike Diens is ook aan hom toegeken.

Dr Odendaal het twee keer afgetree, naamlik 31 Desember 1969 waarna hy voltyds met die Bybelvertaling besig was, en weer op 31 Januarie 1980 toe hy finaal uitgetree het.

Hy en sy vrou, Nellie, was op 4 Januarie 1996 reeds 60 jaar lank gelukkig getroud. Uit die huwelik is drie kinders gebore: Wessel (wat op 30-jarige ouderdom oorlede is); Rentia (getroud met prof Phil Robinson) en Johannes (professor in Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria); Hy laat ook agt kleinkinders na.

Oor sy lang veelsydige en kleurryke loopbaan het hy self met sy lewe vyf baie betekenisvolle woorde geskryf: Aan God alleen die eer! – Verwerking uit bronne: DJ Viljoen.