Nyanje (1905)

Ten weste van Madzimoyo lê nog ‘n baie groot onbearbeide gebied tot by die Luangwarivier, ‘n groot sytak van die Sambezi. In hierdie gebied woon onder andere die Ansenga-voik. Die Sending neem hom voor om in hierdie rigting uit te brei en in 1905 besluit die Sendingraad in Malawi (waaronder die Sending in Zambië toe nog val) dat “Eerw. J. van Schalkwyk naar Nyanje gaat”. Dit is die sendingstasie wat onder die Ansenga-volk, 130 km wes van Madzimoyo af, begin moet word. Omdat dit so ver van mediese huip verwyder is, en eerw. Van Schalkwyk die kort mediese kursus vir sendelinge aan die Livingstone-Kollege in Londen deurloop het, val die keuse op hom. Daar sou hy ook baie tande trek en ander mediese hulp verskaf.

Ds. en rnev. C. M. Hofmeyr bly alleen op Madzimoyo agter, waar hulle tot 1910 arbei. Eerw. en mev. Van Schalkwyk vertrek met 80 draers en ses melkkoeie na die nuwe stasie, Nyanje, wat na die betrokke distrikshoofman vernoem word. Later word hy self ook ‘n Christen. Al pad wat daar is, is die voetpaadjie wat die mense tussen die lang gras en hoe bome getrap het. In hierdie opsig kom daar darem verbetering toe die Sendingraad in 1907 besluit: “De Raad geeft verlof tot het maken van een pad tusschen Nyanje en Madzimoyo, 6 voet breed. Onkosten £5 niet te bovengaande.” Die distansie is 130 km. en £5 is R10. Die sendingpersoneel werk bepaald nie op ‘n spandabele wyse met die sendingbydraes van die lidmate in Suid-Afrika nie.

In 1906 stig eerw. Van Schalkwyk met behulp van buiteposonderwysers van Mvera die eerste buitepos by Miyezi (hierdie keer sonder die hulp van sebravleis!). Nog ses buiteposte word dieselfde jaar begin. Daar kom ‘n gestadige toevloei van bekeerlinge. Een daarvan is die seun Kapandula, wat later die bekende leraar en kragtige prediker Jafeti Mwale word.

Die Ansenga praat hul eie taal. Die N.G. Sending besluit egter om met Chewa (Nyanja) as voertaal voort te gaan, omdat ‘n Bybelvertaling en ander lektuur nie vir die talle kleiner taalgroepe voorsien kan word nie. Met die tyd leer die sendeling onder hulle ook die Nsenga-taal (Chinsenga) aan.

Met groot ywer brei eerw. Van Schalkwyk die werk in alle rigtings uit en word hy die ware pionier van die werk onder die Ansenga. Waar Merwe- en Hofmeyr-sendingstasies later begin word, is buiteposte van Nyanje, wat elke ses maande met die trapfiets besoek moet word. So dikwels is eerw. Van Schalkwyk op reis dat hy die bynaam “Wosiya-pfumbi” (= Hy wat net ‘n stoffie agterlaat) verwerf.

Op die stasie behartig mev. Van Schalkwyk die werk onder die vroue. “Na ek so ‘n bietjie meer van die taal geleer het, het ek ‘n skool vir vroue begin,” vertel sy. “Party het gesê ‘Ons is te oud; ons het nie meer oë nie’. Ons het hulle maar aangemoedig . . . Een van hulle, ou Sara, was taamlik bejaard, maar kon naderhand goed in die Bybel lees en was tog te groots toe ons vir haar ‘n Bybel gee. Sy vra eendag vir my of sy na dieselfde hemel sal gaan waar ek na toe gaan. Toe ek ‘Ja’ antwoord, sê sy: ‘Dona jy is jonk en ek is oud. Ek sal eerste gaan, maar ek sal wag en as jy eendag daar kom, sal ek vir die Here Jesus sê: Sy het vir
my die pad hiernatoe gewys.” Soos die ander dames in die Sending besoek mev. Van Schalkwyk ook gereeld die omliggende dorpies, veral met die oog op die bearbeiding van die vroue. Toe eerw. en mev. Van Schalkwyk in 1925 die sendingveld ter wille van die
opvoeding van hul kinders moet verlaat, skryf ds. C. P. Pauw, hoof van die Sending: “Die gemeente Nyanje, een van ons bloeiendste werkkringe vandag, is vrug van hul arbeid. Hulle het die grondslae van die gemeentes Merwe en Hofmeyr gelê.” (Bron: Cronje, J.M. 1981. Aan God die dank. p. 159-160).