Reeds in 1892 bring eerw. Viok ‘n besoek aan Nkhomaberg, 45 km ten suide van Mvera in die middel van Angoniland, “met die oog op die stigting van ‘n sendingstasie. Sedert die tyd wag die inboorlinge op die Sending”. Hierheen trek eerw. VIok en eerw. Du Toit nou van Livlezi af. By hul aankoms op 28 Mei 1896 word hulle vriendelik deur die hoofman Mazengera ontvang “nie soseer om die evangelie wat ons kom verkondig nie, as om die beskerming wat ons sou bied teen die wrede aanvalle van Angoni en Jao, wat jaarliks aanvalle op die berg doen en dikwels daarin slaag om mense as slawe weg te voer”. Daarom woon die mense ook in die berg, met hul lande onder op die vlakte. Die sendelinge versoek ds. W. H. Murray om van Mvera oor te kom en hulle te help met die uitsoek van ‘n geskikte plek vir die stasie. Hy doen dit en in oorleg met die kaptein word besluit op ‘n plek aan die suid-oostelike helling van die berg, 4000 voet bo seespieël. Die stasie kry die naam van die berg: Nkhoma. Die sendingwerk hier volg dieselfde patroon as by Mvera en Kongwe. ‘n Lang voor bring ook die fonteinwater uit die berg na die stasie en skep die geleentheid vir landbou-ontwikkeling. Langs die paaie word lanings inheemse borne (Meesal Mbawa = Mahonie) aangeplant.
Mnr. S. McClure, bouheer wat in 1897 na Njassaland kom, gaan die kerk op Nkhoma bou, na voltooiing van ‘n kerkgebou en pastorie op Mvera. In 1901 sterf hy egter aan swartwaterkoors daar, terwyl hy nog met die bouwerk besig is. Hierdie Kerk wat 1 000 aanbidders bevat en £236 (R472) kos, word in 1939 deur ‘n sierlike Jubileumkerk met 1 400 sitplekke vervang.
Die eerste graf van ‘n personeellid op Nkhoma sou egter nie die van mnr. McClure wees nie, maar wel van eerw. J. F. du Toit. Melding is reeds van sy ernstige siekte as gevoig van malaria op Livlezi gemaak. Aanvanklik gaan dit met hom veel beter in die koeler en gesonder klimaat op Nkhoma. Op 30 Julie 1897 beswyk hy egter na ‘n tweede aanval van swartwaterkoors. “Sy dood het ‘n baie groot indruk op die heidene gemaak, daar hulle gemeen het dat die Witmense wat altyd preek oor die ewige lewe, dit reeds besit en nie kan sterwe nie”. So sterk is die indruk dat daar by Mvera ‘n klein herlewing kom, met ‘n toevloei van bekeerlinge tot die katkisasieklas.
Weinig kon die drie sendelinge wat die plek vir die stasie in 1896 uitsoek, vir hulle voorstel watter pragtige en uitgebreide sendingstasie Nkhoma nog gaan word. Dit gebeur as gevolg van die natuurlike ontwikkeling van hierdie goedgelee en waterryke sendingstasie, maar ook as gevolg van ‘n onverwagte ontwikkeling in 1912: die verskuiwing van die hoofstasie vanaf Mvera na Nkhoma.
Nie lank na die begin van Nkhoma nie stel eerw. Vlok in 1903 voor dat Nkhoma die hoofstásie moet word. Maar die Sending sien op teen die groot koste wat dit sou meebring. ‘n Dekade later dwing omstandighede die Raad om die verskuiwing om. die volgende redes weer te oorweeg:
1. Die werksaamhede op Mvera het so uitgebrei dat die watervoorraad onvoldoende geword het.
2. Die grond vir lande het ook te min geword en is veelal reeds uitgeput.
3. Nkhoma lê 1000 voet hoer as Mvera en is gevolglik veel koeler.
4. Vroeër was die Meer die verbindskakel, maar nou bestaan daar ‘n pad deur die sentrale gebied van die land van suid na noord. Nkhoma het as gevoig hiervan meer sentraal geword.
5. Wat egter die saak tot ‘n punt bring, is die feit dat tsetsevlieg en ook slaapsiekte (deur tsetsevlieg gedra) al tot digby Mvera gekom het. “Het werd hoe langer hoe meer gewaagd om trek- en werkossen aldaar te houden en waar wij geen trekossen kunnen houden, daar kunnen wij ook niet den grooten winkel behouden, vanwaar de verzending van goederen naar de verschillenden staties geskiedt”, verklaar prof. J. du Plessis.
In 1912 word dus besluit om, die hoofstasie na Nkhoma te verskuif. Groot
boubedrywigheid volg hierna op Nkhoma en in Desember 1913 vertrek die eerste
groep personeellede vanaf Mvera daarheen. Dit bied die geleentheid om ‘n nuwe
begin op ‘n nuutbeplande hoofstasie te maak en gee ook nuwe stukrag aan die
werk (Bron: Cronje, J.M. 1981. Aan God die dank. p. 27-29)
Nkhoma kindertehuis