Nieuwoudt, Matthys Michielse

Ds. Nieuwoudt Matthys

gebore

15 November 1926

OORLEDE

25 Februarie 2015

UNIVERSITEIT

BA, BTh, MTh, DTh (US)

gelegitimeer

1952

ORDEN

1953

standplase

1953 Walvisbaai

1957 Livingstone

1961 Tsumeb

1963 Otjiwarongo

1966 Saakgelastigde SWA

1981 Sekretaris SKDB

EMERITEER

30 Apr. 1992

Matthys Michielse Nieuwoudt is op 15 November 1926 op die plaas Matjiesfontein in die distrik Vanrhynsdorp gebore. Hy word groot in hierdie besondere deel van ons land, tussen mense met unieke karakters vol durf en daad. Sy pa, George Philippus Nieuwoudt, is ‘n boer en sy ma, Jacoba Anna Schreuder, van die distrik Garies by die poort na Namakwaland.

Thys begin sy skoolopleiding in 1933 in die plaasskool op Burdensput. Hy moes weens siekte sy skooltyd twee jaar lank onderbreek. In 1942 word hy Ieerling aan die Hoërskool Garies waar hy in 1945 matriek slaag in die eersteklas met verskeie onderskeidings. Thys voel geroepe om predikant te word. Hy skryf: “Die wortel van my roeping lê in die ouerhuis, die verbonds ouerskap waarin ons in die Gereformeerde leer opgevoed en aan die Here gewy is, om deur Hom geroep en gestuur te word in die rigting wat Hy vir ons beplan het.”

Thys vertrek in 1948 na die Universiteit Stellenbosch waar hy die BA-admissiegraad verwerf. Hierna word hy student aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad. In 1951 verwerf hy sy BTh. Op 4 Desember 1952 word hy op Stellenbosch as proponent gelegitimeer. ‘n Beroep kom na die verre Suidwes-Afrika waar prop Thys Nieuwoudt op 11 April 1953 met handoplegging in die NG gemeente Walvisbaai ontvang en bevestig word. Hulle eerste pastorie was ‘n “doopkamertjie” in Swakopmund, waarna hulle ‘n tweeslaapkamerhuis op Walvisbaai betrek. ‘n Eerste toringkerkie word op Walvisbaai gebou.

Op 20 Januarie 1957 loop sy pad van die weskus van Afrika na die verre Livingstone, destyds hoofstad van Noord-Rhodesië. In sy dienstyd word ‘n nuwe kerkgebou opgerig, terwyl die deel van sy gemeente waar destyds huisbesoek gedoen is, die Zambië-bekken, nou bedek word deur die Karibameer.

In die herfs van 1961 keer hy na sy geliefde Suidwes-Afrika terug toe hy predikant word van die NG gemeente Tsumeb. Op 12 Oktober 1963 word hy leraar op Otjiwarongo. Hier werk hy totdat hy op 25 September 1966 saakgelastigde, argivaris en sekretaris van die SKDB in Windhoek word. In hierdie tyd studeer hy verder en behaal sy MTh in kerkreg. Hy studeer verder en behaal in 1978 sy doktorsgraad in die Teologie met ‘n proefskrif in kerkgeskiedenis: “Die Ned Geref Kerk in Suidwes-Afrika. Pioniersomstandighede tot Kerkverband”.

In die NG Kerk se hoofkantoor in Windhoek doen hy baanbrekerswerk tot hy op l Maart 1981 SWA verlaat om sekretaris van die Algemene Sinode se Diens van Barmhartigheid in Pretoria te word. Hy werk in die Jakarandastad tot hy op 30 April 1992 sy emeritaat aanvaar en hom op die plaas Spioenkop in die distrik Lindley vestig. Hier woon hulle totdat hulle in 1998 Strand toe vertrek, waar hy tot sy dood woon.

Dr Thys skryf oor sy gemeentelike bediening: “Ek was ‘n begenadigde lid van die laaste generasie predikante wat die Woord kon bring aan mense in die afgesonderdste pioniersomstandighede: prospekteerders, eensame amptenare, myners en sout- en robbevelwerkers by die Seekus van die Dood, Ovamboland, Westelike Kananga en Oostelike Caprivi, Barotseland, Zambië, asook eensame voortrekkerboere in die wildernis. Aan 1500 vissermanne, woonagtig op vissersbote. Die Woord is aan groepies van klein groepies bedien, ook op see waar bote aanmekaar gekoppel is om ‘n drywende `platform-kerk’ te vorm.

“As Sinodale amptenaar help ek met die oprigting van ‘n sesverdieping-kerksentrum, jeugsentrum, eerste kinderhuis en die eerste versorgingsoord en tuistes vir bejaardes in Windhoek en Keetmanshoop. ‘n Nuwe tuiste word in Gobabis opgerig (uit die ou Roomse Hospitaal). Ons begin met ‘n Bybelkiosk (Biblia) in Walvisbaai. Daar is uitstekende samewerking tussen die NG Kerk se barmhartigheidsdiens en welsynprogram van die staat. Ons onderneem in 1980 en 1989 twee studiereise na Engeland, Skotland, Nederland, Duitsland en Skandinawiese lande, om ons voor te berei vir die ʼn nuwe’ Suidwes-Afrika.”

Dr Thys Nieuwoudt se belangstellings was wyd uiteenlopend. Hy het die Walvisbaaise rugbyklub help stig en die eerste pensioen- en mediese fonds vir kerkamptenare geloods. As kerkhistorikus het hy die verlede van die kerk in Suidwes-Afrika nagevors en opgeteken, asook verskeie gemeentelike feesboeke van die streek.

Op die breë kerklike terrein en in sinodale verband het hy diep spore getrap. Hy dien 15 jaar lank op die Kerkkantoorkommissie, ook op die Algemene Argiefkommissie, AKDB, Hugenote Kollegeraad en Kuratorium van die Fakulteit Teologie op Stellenbosch. Hy dien sewe jaar lank op die raad van die SAUK en SWAUK en op verskeie regeringskommissies soos NARRA. By geleentheid word hy as vise-rektor en professor aan die Hugenote Kollege op Wellington benoem, maar hy aanvaar dit nie ten einde die NG Kerk in Suidwes-Afrika te bly dien.

Hy trou met Elbie Kitchener en uit die huwelik is vier kinders gebore. Daar is tien kleinkinders en drie agterkleinkinders. Dr Thys verloor sy vrou Elbie aan die einde van 2003 na ‘n lang siekbed en hy trou weer. Hy sterf op 25 Februarie 2015 ‘n lang siekbed aan kanker in die ouderdom van 88 jaar in Somerset-Wes. ‘n Begrafnisdiens is in die NG gemeente Strand-Noord gehou, waar sy lewensbeeld in herinnering geroep word. — Dr Gerdrie van der Merwe VDM