NG Gemeente Wolmaransstad

Die NG kerk op Wolmaransstad is deur Gerard Moerdyk ontwerp. Genl. J.C. Kemp het die hoeksteen op Saterdag 23 Junie 1928 gelê.

Gestig

4 Februarie 1888

Ring

Bloemhof

Adres

Piet Retiefstraat, Wolmaransstad

Sluit in

Wolmaransstad en distrik

Eerste predikant

C.J. Snyman, 1891–1893


Die NG Gemeente Wolmaransstad is 4 Februarie 1888 gestig as die 18de gemeente in die destydse Transvaalse Kerk. Dis geleë op die gelyknamige dorp in die provinsie Noordwes en ressorteer onder Sinode Goudland.

Die vroegste sending in Transvaal is waarskynlik naby die teenwoordige dorp Wolmaransstad onderneem, want in 1823 het die sendeling eerw. Broadbent van die Wesleyaanse Kerk hier met sendingwerk begin. Later is hy bygestaan deur eerw. Hodgson. Die plek waar hulle huise gestaan het, kon ’n eeu later nog aangedui word. Die fonteintjie waarvan Broadbent in sy dagboek melding gemaak het, was nog daar en is die Sendelingsfonteintjie genoem.

Dorpstigting

Ná die ontdekking van diamante by Kimberley in 1871 het die transportpad na die noorde oor die plase Rooderand en Vlakfontein gegaan waarop Wolmaransstad later aangelê is. In 1876 het die broers W. en T.S. Leask hier ’n winkel opgerig en het dit die middelpunt van ’n klein nedersetting geword. Die Volksraad het in 1884 besluit dat daar ’n dorp gestig kon word (V.R.B. art. 185, d.d. 19.8.’84). Van 1888 af is erwe uitgemeet, maar eers op 16 Februarie 1891 is Wolmaransstad tot dorp verklaar. Die dorp is genoem na Jacobus M.A. Wolmarans, ’n broer van die latere senator A.D.W. Wolmarans en seun van Frederik Wolmarans, in lewe eienaar van die plaas Gerhardminnebron, Gatsrand, Potchefstroom. Jacobus Wolmarans was in 1891 lid van die Uitvoerende Raad van die Zuid-Afrikaansche Republiek toe die distrik Wolmaransstad afgesny is van Potchefstroom, Lichtenburg en Bloemhof.

Die ou kerk op Wolmaransstad is in 1890 opgerig en in 1891 ingewy. In April dieselfde jaar is ds. C.J. Snyman as die eerste leraar bevestig.

NG gemeente gestig

Die lede van die NG Kerk in die Makwassie-wyk is in die vorige eeu ook vanuit Potchefstroom bedien – soos dit juridies geskied het. Ook op kerklike gebied is geagiteer vir plaaslike bediening met die gevolg dat die aansoek reeds op ’n vergadering van die Algemene Kerkvergadering der Ned. Hervormde of Gereformeerde Kerk in de Z.A. Republiek, gehou op 1 November 1887, opgeduik het. Die kerkraad van Potchefstroom het die stigting van ’n selfstandige gemeente, Makwassie, aanbeveel. Die aanbeveling is goedgekeur, ’n afbakeningskommissie benoem en volmag aan genoemde kommissie verleen om ’n kerkraad te laat saamstel.

Hierdie kommissie het op 4 Februarie 1888 in die kerkgebou te Witpoort vergader. Die grense is as volg bepaal: van Krans na Vaalrivier na Leeubosch, na Cyferkuil, na Klipfontein, na Jakkalsfontein, na Zendelingsfontein, na Doornfontein, na Rietkuil, na Lakenvlei, na Doornspruit, na Doornkuil, na Kareekuil, na Brakspruit tot Doornbult; dan na die hoekbaken van Lichtenburg en vandaar met Bamboesspruit na Spinnekopkraal na die mond van Makwassiespruit. Bewoners van lynplase kon kies waar hulle wou sorteer mits dit binne drie maande sou geskied.

Op daardie selfde dag is die volgende en eerste kerkraad gekies. Ouderlinge C. C. Greflink, Thomas F. Bornman, A. J. van Rooyen, A. A. Pietersen. Diakens: H. C. Barnard, P. A. Swanepoel, W. J du Plooy, Marthinus J. J. van Rensburg, P. N. J. van Rensburg, H.W. Knox, J. J. van Wyk en G. M. Rossouw. Die predikant van Bloemhof is tot konsulent benoem. Die naam van die gemeente sou voorlopig Makwassie wees. In 1890 is ’n kerkgebou te Wolmaransstad opgerig en in 1891 ingewy. In April van dieselfde jaar is ds. C. J. Snyman bevestig as eerste leraar van die gemeente. In Oktober 1893 het hy egter ’n beroep na Bothaville aangeneem.

Op 30 Junie 1894 is ds. Paul Nel as leraar van die gemeente bevestig. Op dieselfde datum vergader die kerkraad en besluit om ’n pastorie te bou. Tot boukommissie is verkies: Ds. Paul Nel en die here T.F. Bornman, T.S. Leask, H.C. Barnard en F.J. Potgieter (kommandant). Die tender vir die bou van die pastorie is aangeneem en wel die van J. H. A. Edeling teen ’n koste van £1,250. Mev. Paul Nel het die hoeksteen gelê op 16 Desember 1896.

Ds. M.P.A. Coetsee jr.

Ds. Nel se opvolger was ds. M.P.A. Coetsee jr., wat in 1892 uit die Gereformeerde Kerk getree het terwyl hy leraar van die Gereformeerde Kerk Burgersdorp was. Hy is op 21 April 1898 op Wolmaransstad bevestig. Weens die Tweede Vryheidsoorlog is baie min bekend oor sy drie en ’n half jaar lange bediening in die gemeente. Dit was wel vir hom en sy gesin ’n baie moeilike tyd. Ds. Coetzee moes tydens die oorlog baie lidmate – veral eensame moeders op plase – bemoedig en inspireer. Die pastorie is gedeeltelik afgebrand en die klipmuur om die pastorie gebruik as kraal vir die Engelse soldate se perde en muile. Die kerk se deure en vensters is verwyder en met sandsakke opgevul om te dien as ’n soort Britse fortifikasiesentrum. Die banke in die kerk is verniel maar die preekstoel is ongeskonde gelaat.

Kort ná sy aankoms moes hy Kaapstad toe gaan vir ’n operasie. Hy was erg terneergedruk, maar ook diep gelowig, soos blyk uit ’n brief aan die kerkraad gedateer 22 Oktober 1898: “Die Heere heeft zijn bedoelingen door mij op den weg van lijden te leide, moge zijn naam daardoor verheerlijkt worden!”

Ná ’n paar maande op Wolmaransstad het die onweerswolke van die Tweede Vryheidsoorlog oor die ZAR begin saampak. Die spoor van ellende en smart wat die oorlog gebring het, het Wolmaransstad nie misgeloop nie. Toe die dorp op ’n keer deur die Engelse troepe beset is, het hulle die grootste deel van die skool, die pastorie en die NG kerk afgebrand sodat al die notuleboeke, doop- en lidmaatregisters verlore gegaan het. Ná dié verwoesting het die werksaamhede van die gemeente feitlik tot stilstand gekom. Ds. Coetsee was ’n malarialyer en die knellende omstandighede het sy gesondheid nog verder geknak. Die Skotse sakeman en avonturier Thomas Leask meld dat hy ds. Coetsee tydens die Driejarige Oorlog op Klerksdorp teëgekom het toe hy te voet en in swak gesondheid daar aangekom het. Ds. Coetsee is op 18 November 1901 oorlede.

Ná die Vryheidsoorlog

In 1903 het Wolmaransstad weer ’n predikant in die persoon van ds. E. J. J. van der Horst gekry. As oorlogstydse onderwyser in die Howickkamp het hy na die oorlog as onderwyser uitgewyk na Bloemhof, vanwaar Wolmaransstad hom beroep het as herder en leraar. Ds. Van der Horst was geestelik ingestel op die haglike toestand waarin die samelewing hulle na die oorlog bevind het. Gedurende sy lang verblyf van 22 jaar was hy ’n rukkie lank ook die verteenwoordiger van die kiesafdeling in die Volksraad.

In 1926 het ds. Piet van der Hoven die herderstaf in die gemeente oorgeneem. Behalwe dat hy ’n vu-rige prediker was, was hy ook eersterangse organiseerder. Hy loods die bou van ’n nuwe kerk in 1928. In 1929 is hierdie nuwe kerk ingewy. Ds. Van der Hoven was ’n praktiese mens en kon nie begryp waarom die gemeente van Wolmaransstad die naam Makwassie moes dra nie, met die gevolg dat uit die Handelinge van die Vyftiende Synode van die Ned. Hervormde of Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika 1928 blyk dat die naam verander is na die gemeente Wolmaransstad.

Intussen het die aangeduide grense van die gemeente gekrimp as gevolg van die feit dat die moedergemeente twee dogters afgegee het: Leeudoringstad in 1922 en Makwassie in 1934.

Ná ds. Van Huysstreen se vertrek in 1939 het ds. C.W.J. Pistorius die herderstaf opgeneem en hier gebly tot 1946. Sy opvolger was ds. C.S. Hatting (1946–1951) en daarna het ds. J.A. Claassens die gemeente van 1952 tot 1957 bedien. In die vyftigerjare is ’n nuwe kerksaal met Sondagskookamers gebou en kort daarna ’n nuwe pastorie langs die kerkgebou. In Junie 1959 is die ou pastorie met sy ruim terrein vir £7 500 verkoop. Alle ou dokumente wat op 16 Desember 1896 in die hoeksteen ingemessel is, is met hoeksteen en al op grond van ’n kerkraadsbelsuit verwyder.

Predikante

  • C.J. Snyman, April 1891 – Oktober 1893
  • Paul Nel, 30 Jun. 1894 – 1897
  • M.P.A. Coetsee jr., 21 Apr. 1898 – 18 Nov. 1901 (oorlede)
  • E.J.J. van der Horst, 1903 – 1925
  • Piet van der Hoven, 1926 – 1939
  • C.W.J. Pistorius, 1939 – 1946
  • C.S. Hattingh, 1946 –1951
  • J.A. Claassens, 1952 – 1957
  • P.L. Erasmus, 1958 – 1962
  • C.A. van Wyk, 1963 –