
Gestig
1886
Ring
Ring van Vryheid
Adres
Utrechtstraat 180, Vryheid
Sluit in
Vryheid (deels)
Eerste predikant
A.A. Louw (1888–1893)
Die NG Gemeente Vryheid is die moedergemeente op die KwaZulu-Natalse dorp Vryheid. Dis ’n plattelandse gemeente en ’n groot deel van die boeregemeenskap om Vryheid skakel hier in.
Die gemeente is op 25 September 1886 gestig in die gebied van die destydse Nieuwe Republiek onder president-generaal Lucas Meyer. Die stigting het onder die konsulentskap van ds. H.L. Neethling van Utrecht plaasgevind. Die eerste kerkraadslede was ouderlinge J.L. van Reenen, J. Swart, P.J. Fourie en J.F. van Staden en diakens C. Birkenstock, Gert van Rooyen, J.H. Steenkamp, P. de Jager, H. Potgieter, I. Rabe, S. van der Westhuizen, J. Behr.
Ná die vertrek van laasgenoemde drie predikante, wat as medeleraars gedien het, het die kerkraad besluit om die groot gemeente van oor die 2 000 lidmate onder leiding van ds. E.H. Latsky in twee gemeentes te verdeel. Pogings is middel 1951 aangewend om die afstigting van ’n deel van die gemeente te bewerkstellig, en waarborglyste is flink geteken; die afstigting van Vryheid-Suid kon dus in November 1951 ’n voldonge feit wees.
Op die Sinodale sitting van April 1951 is toestemming verleen tot die versoek van die vyf noordelike gemeentes van die NH of G Kerk in Natal om by die Natalse Kerk aan te sluit, en daarna is stappe gedoen om die inskakeling te bewerkstellig. Gevolglik het hierdie gemeente saam met dié van Utrecht, Babanango, Louwsburg en Paulpietersburg vanaf omstreeks 1952 onder die Natalse Kerk geressorteer.
Die sendingwerksaamhede van die gemeente is destyds waargeneem deur eerw. C.J.J. van Rensburg, bygestaan deur sy ywerige gade, een swart medeleraar en ’n aantal evangeliste. Die werkkring het duisende Zoeloes bevat onder wie groot getalle toe nog totaal heidens was, aldus Ons gemeentelike feesalbum (1952).
Die dogtergemeente Vryheid-Suid is op 10 November 1951 van die moedergemeente afgestig en Vryheid-Oos op 27 Oktober 1962. Dié twee dogtergemeentes het op 1 April 1998 saamgesmelt as Vryheid-Suidoos. Vryheid-Wes het op 11 Junie 1971 afgestig van die destydse Vryheid-Suid.
Dogtergemeentes
- 1951: Vryheid-Suid
- 1962: Vryheid-Oos
Predikante
- Adriaan Jacobus Louw, 1888–1893
- Guillaume Francois Marais, 1893–1898
- Edwin Cheere Anderssen, 1899–1921 (toe hy die eerste keer sy emeritaat aanvaar)
- Christoffel Jacobus Snyman, 1922–1928 (aanvaar sy emeritaat; oorlede op 14 Oktober 1937)
- Francois Johannes van der Merwe, 1928–1945 (toe hy die eerste keer sy emeritaat aanvaar)
- André Francois Malan, 1944–1946
- George Johannes Viljoen Bell, 1946–1951
- Josua Petrus Theron, 1947–1951
- Marthinus Muller van Rooyen, 1948–1950
- Ernst Hendrik Latsky, 1951–1959
- Willem Jacobus Gerhardus Lubbe, 1960–1962 (waarna Vryheid-Oos tot 1967)
- Johannes Theodoris Jordaan, 30 Januarie 1965–1974