NG Gemeente Vryburg

Vryburg se ou NG kerk.
NG Gemeente Vryburg

Gestig

1883

Ring

Reivilo

Adres

H.v. Vry- en Kerkstraat, Vryburg

Sluit in

Vryburg (deels)

Saamgesmelt met

Vryburg-Oos as Vryburg-Harmonie

Eerste predikant

A.A. Weich (1887–1890)


Die NG Gemeente Vryburg was die moedergemeente van die vier gemeentes op die gelyknamige dorp in Noordwes, in die Ring van Reivilo en in die Sinode van Noord-Kaapland. Op 1 Maart 2010 het dié gemeente met Vryburg-Oos saamgesmelt en die nuwe gemeente Vryburg-Harmonie gevorm.

Vryburg is sowat 150 km suidwes van Mafikeng en 205 km noord van Kimberley in die provinsie Noordwes geleë. Die dorp is in 1883 gestig as die hoofstad van die Republiek van Stellaland en het in 1896 munisipale status verwerf. Die inwoners van die republiek het hulself as vryburgers beskou en hul hoofstad se naam van dié benaming afgelei.

Die NG Gemeente Vryburg is in dieselfde jaar as die dorp gestig. Die stigtingsvergadering van die gemeente is belê na aanleiding van ’n versoekskrif wat Stellalanders opgestel het op ’n vergadering op 14 Julie 1883, wat hulle in ’n tent gehou het om planne te beraam vir die geestelike bearbeiding van die inwoners van die republiek. Dis onderteken deur C.G. Bodenstein, landdros, F.C. Dekker, publieke aanklaer, R.F.C. Muller en G. van Rooyen. Hulle het dit gerig aan ds. C.W. du Toit, predikant van die Hervormde Kerk van Potchefstroom en die broer van ds. S.J. du Toit en oom van Totius, om tydens die voorbereidingsdiens af te kondig dat onmiddellik ná die erediens op Potchefstroom ’n vergadering gehou sou word om te beraadslaag oor die stigting van ’n gemeente in Stellaland.

Die vergadering is gehou nes versoek, en op dieselfde dag is onder voorsitterskap van ds. C.W. du Toit ’n gemeente gestig onder die naam Nederduitsch Hervormde Kerk van Stellaland (volgens Ons gemeentelike feesalbum, 1952) of Ned. Herv. of Ger. Gemeente van Vrijburg (volgens Ons Kerk Album, 1917). Terselfdertyd is die eerste kerkraadslede gekies: as ouderlinge P. van Vrede, G. van Aswegen en as diakens J. Naudé, J. Peens, H, van Rooyen en J. Pretorius. Voorts is op die vergadering, op voorstel van ds. Du Toit, eenparig besluit dat die kerke in Stellaland gegrond sou word op die “vereenigingsgronden” soos deur die vereenigingskommissie in Pretoria in Oktober 1882 voorgestel.

Dié vereenigingskommissie was die gevolg van die pogings in die 1880’s om die NH en NG Kerk in Transvaal te verenig in die gees van samewerking wat geheers het ná die oorwinning in die Eerste Vryheidsoorlog. Die Hervormde Kerk het drie keer meer lidmate as die NG Kerk gehad en was die Staatskerk, wie se wapen ook die land s’n was. Uit elke kerk is ’n kommissie benoem om met mekaar oor die vereniging te onderhandel.

Die Hervormde Kerk se kommissie het op die vergadering van die twee kommissie op 31 Oktober 1882 besluit dat 1. Die naam van die kerk sou onveranderd bly. 2. Die Verenigde Kerk los van alle gesag van die Kaapse Kerk sou wees. 3. Daar geen gelykstelling tussen wit en swart sou wees nie en ‘n sendeling nie ook predikant van ‘n blanke gemeente sou kon wees nie. Ná dae lange onderhandelings is die eerste voorstel gewysig en sou die te stigte kerk voorlopig die Ned. Herv. of Geref. Kerk in de ZA Republiek heet. Die 22ste Algemene Vergadering van die Hervormde Kerk op 27 November 1882 het die drie voorstelle aanvaar en is dit dan ook die grondslag waarop die gemeente Vryburg gestig is.

Spoedig is sterk protes aangeteken teen die naam van die gemeente van Stellaland omdat dit verdeeldheid gewek het. Op ‘n gemeentevergadering gehou op 8 Desember 1883 is besluit dat die naam van die gemeente De Christelike Gemeente van Stellaland sou wees. Hierdie naam het die gemeente tot in 1887 behou. Tot 1885 Desember 1885 is die gemeente deur verskillende leraars besoek, toe besluit is om hulle vrywillig onder die Ring van Colesberg te stel.

Die gemeente was vakant tot in 1887, toe prop. A.A. Weich op 12 Junie daardie jaar as die eerste leraar van die gemeente op Vryburg bevestig is. Op ‘n voorgestel dat die hand dat die naam van die gemeente verander word na Nederduitse Gereformeerde Kerk, “het welk met acclamatie (goedkeuring deur applous/toejuiging) word aangenomen”.

Die gemeente was geruime tyd sonder ‘n kerkgebou, tot die oorspronklike kerkgebou in 1891 voltooi is; later, tydens die dienstyd van ds. D. Pienaar wat in 1896 bevestig is, is dit tot die vorm vergroot waarin dit bestaan het tot die oprigting van die nuwe kerk. In daardie jaar het die ledetal op 373 gestaan; die gemeente het egter gegroei sodat mettertyd afgestig is: Deben (1909), Stella (1919), Kameelboom (1943), Mispa (later Louwna, 1950) en in 1961 Vryburg-Wes (1952), -Oos (1961) en -Noord (1975). Die gemeente se ledetal is tans nog 2000.

Op 1 November 2010 het Vryburg op ’n kerkraadsvergadering samesmelting met Vryburg-Oos goedgekeur. Die nuwe gemeente se grense bestaan uit die twee gemeentes s’n voor eenwording. Ná die stigting van Vryburg-Harmonie op 1 Maart 2011 is die eerste erediens op 6 Maart daardie jaar gehou.

Predikante

  • Alfred August Weich,  11 Jun. 1887 – 1890
  • Daniël Jozua Pienaar, 11 Jan. 1896 – 1898
  • David Wilcocks, 20 Mrt. 1891 – 1895; 16 Sep. 1899 – 1903
  • Petrus Johannes Perold, 4 Jul. 1903 Vryburg – 1925
  • Andries Johannes Olivier, 10 Apr. 1926 – 1931
  • Frank William Liebenberg, 1 Aug. 1931 – 1947
  • Marmeduke Visser, 4 Mrt. 1942 – 1943
  • Christoffel Johannes Petrus Bornman, 14 Feb. 1953 – 1959
  • Abraham Carel Viljoen, 11 Feb. 1949 – 1953
  • Jacobus George Louw, 10 Jun. 1950 – 24 Feb. 1951 (waarna eerste predikant van dogtergemeente Mispa [nou Louwna] tot 1957)
  • Gideon Reyneke, 26 Jan. 1952 – 20 Apr. 1952 (toe bevestig as eerste predikant van dogtergemeente Vryburg-Wes; tot 1957)