gestig
30 Maart 1939
Adres
H.v. Merriman- en Oxfordstraat, Vrijzee
Vroeer bekend as
NG Gemeente Elsiesriver
vroeer bekend as
NG Gemeente Noordweg
Die NG Gemeente Vrijzee is geleë in die Kaapstadse voorstad met dieselfde naam.
Die gemeente is in April 1939 as Elsiesrivier van die gemeentes Goodwood en Parow (hoofsaaklik eersgenoemde) afgestig. Die gemeente lê tussen hierdie twee plekke langs die voorstad wat bekendstaan as Vasco, en wie se NG kerk soos die kraai vlieg sowat 750 wes van dié van Vrijzee is. Gedurende Oktobermaand van dieselfde jaar het die gemeente sy eerste leraar verwelkom.
Die gemeente is afgestig met nagenoeg 450 lede, wat binne die twee jaar tot oor 1 000 lede aangegroei het. Teemn 1952 was dit 1 620. Die gemeente het destyds bestaan uit Afrikaners getrek uit feitlik al die vertakkings van die samelewing, met al die soorte werk. Vir so ‘n gemeente was dit voorwaar ‘n prestasie om binne nege jaar, op 5 Junie 1948, ‘n sierlike kerk met 850 sitplekke in te wy, veral as in gedagte gehou word dat hierdie mense salaristrekkende mense is, wat nie groot somme geld kon bydra nie.
Dit was egter nie al nie. Die inkomste van die gemeente was binne vyf jaar met ses vermenigvuldig. Terwyl die kerk in aanbou was, het daar ook ‘n gebeurtenis plaasgevind waarvan al die koerante geskryf het, selfs in Transvaal en die O.V.S. Dit was nl. die bou van die Vryetydsaal. Dit was in die jaar toe alle soort boumateriaal feitlik onverkrygbaar was, dat die bouliede van die gemeente saamgestaan het en in hulle vrye tyd, saans as hulle van werk af kom en Saterdae, gebou het. Die klein saaltjie wat ongeveer 180 mense kon bevat, en ook die enigste eiendom waarmee die gemeente begin het, is geheel en al omgeskep in een van die sierlikste gemeentesale in die Skiereiland om 400 mense te bevat. Alles is deur gemeentelede self gedoen. Dit was ‘n geloofsdaad wat voorwaar met seën bekroon is, want die gemeente kon ook die saal inwy met die gelukkige gedagte dat daar langs dié weg £3 500 bespaar was. Die pastorie van die gemeente is in Mei 1940 ingewy en is binne anderhalf jaar betaal.
In 1940 was die enigste teken van die gemeente, as ‘n mens van Voortrekkerweg kyk, ‘n verdieping waarvan net ’n derde uitgesteek het agter die sandbulte. Daar was geen strate in die omgewing nie. Op dieselfde plek wys die swart spits van die kerktoring na omhoog. In 1952 skryf die korrespondent van Ons gemeentelike feesalbum: “In die lang rye nuwe huise woon ook hier in die poort van die stad Afrikaners wat hulle Kerk liefhet.”