gestig
1858
RING
Ring van Caledon
ADRES
Malherbestraat, Villiersdorp
EERSTE PREDIKANT
–
Die NG Gemeente Villiersdorp is ’n gemeente in die Sinode van Wes-Kaapland met sy setel op die dorp Villiersdorp. Met sy stigting in 1858 was dit die 75ste gemeente in die hele NG Kerk, maar dis nou die 72ste oudste bestaande gemeente.
In 1844 het P.H. de Villiers, die destydse eienaar van die plaas Radyn waarop Villiersdorp aangelê is, hom beywer vir ’n kerkgebou in die wyk Riviersonderend van die gemeente Caledon. Die hoeksteen is in November 1844 deur P.H. de Villiers gelê en die plegtige inwyding het in Januarie 1846 plaasgevind. By albei hierdie feestelikhede was ds. P.N. Ham, leraar van die gemeente Franschhoek, die feesredenaar.
In Oktober 1855 het die Ring van Kaapstad toestemming verleen tot die afstigting van Villiersdorp as selfstandige gemeente, met dien verstande dat ’n gedeelte van die voorste Bosjesveld, wat in die ressort van die gemeente Worcester geval het, by Villiersdorp gevoeg word. Die kerkraad van Worcester het egter beswaar gemaak en die afstigting is toe op die lange baan geskuif. Hierdie saak is by die Sinode van 1857 aanhangig gemaak en ’n kommissie is benoem om die afstigting van Villiersdorp af te handel.
In Januarie 1858 is oorgegaan tot afstigting, die grensskeiding bepaal, die kerkraadslede gekies en ds. Ham tot konsulent benoem. Eers ná nog 12 jaar het die eerste predikant, in die persoon van ds. J.J.P. Jordaan (1870–’75), gekom. Nadat hy tot 1878 leraar was van die NG Gemeente Philipstown, het thy ot sy dood op 2 Julie 1883 in die NG Gemeente Victoria-Wes gestaan. Hy was die man van die regte stempel vir die omstandighede en deeglike en goeie werk is gedoen.
Die opvolgers van ds. Jordaan was ds. F.L. Cachet (1876–’80), wat tydens sy verblyf op Villiersdorp as sendingvriend probeer het om iets vir die bruin mense te doen, ds. H.C. de Wet (1881–’93), ds. F.X. Roome (1893–’95) en ds. P.T. Retief (1895–1903).
Ds. E.G. Malherbe (1904–’37) was byna 34 jaar lank predikant van Villiersdorp toe hy in 1937 sy emeritaat aanvaar het. Die kerk is met twee vleuels vergroot; ’n nuwe en sierlike pastorie en ’n kerkorrel is ingewy; deur sy invloed en bemiddeling ontstaan die alombekende Hoërskool De Villiers Graaff; en ’n geestelike herlewing vind in die gemeente plaas. Hy is op 26 April 1956 oorlede en op die kerkterrein begrawe.
Ds. Malherbe is opgevolg deur ds. F.J.B. Malan (1938–’41), in wie se bediening van drie jaar die sierlike en ruime Eureka-saal opgerig is, dr. Jac. J. Müller (1941–’45), later professor aan die Kweekskool, Stellenbosch, en ds. J.W. Snyman, wat aan die begin van 1946 gekom het en in Julie dieselfde jaar oorlede is.
Ds. C.J. du Raan het die hoeksteen van ’n nuwe kerk in Januarie 1950 gelê en die nuwe kerk met ’n herboude orrel is op 25 en 26 November ingewy. By hierdie groot feesgeleentheid het dr. Jac. Müller die feesrede uitgespreek en seuns van die gemeente wat in die bediening staan, die dienste gelei. Ds. Du Raan het in die gemeente gestaan tot sy aftrede op 15 Februarie 1975.
Predikante
- Jacobus Johannes Petrus Jordaan, 1870 – 1875
- F.L. Cachet, 1876 – 1880
- Hendrik Christoffel de Wet, 1881 – 1893
- Francis Xavier Roome, 1893 – 1895
- Pieter Taillefer Retief, 1895 – 1903
- Ernst Gideon Malherbe, 1904 – 1937
- F.J.B. Malan, 1938 – 1941
- Dr. Jacobus Johannes Müller, 1941 – 1945
- Jacobus Wilhelmus Snyman, begin 1946 – 13 Julie 1946 (oorlede in die amp)
- Christoffel Jacobus du Raan, 25 Januarie 1947 – 15 Februarie 1976
- Barend Jacobus Bester Roux, 20 Januarie 1961 – 22 Mei 1965 (oorlede in die amp aan ‘n hartaanval)