Gestig
26 November 1862
In die middel van die 19de eeu het enkele Afrikaanse gesinne hulle op die dorpie Peddie gevestig. Die nuwe intrekkers het nog onder die gemeente Albanie (met sy setel op Riebeek-Oos en met Grahamstad as ‘n tweede kernpunt) geressorteer.
Hulle moes ver ry om hulle kerklike voorregte te geniet; daarom het die NG lidmate van die twee distrikte (Peddie en Victoria) hul kragte saamgesnoer en by die Ring van Albanie aansoek gedoen om ‘n eie gemeente.
Die gebruiklike versoekskrif is opgestel, deur lidmate uit albei distrikte onderteken en aan die Ringskommissie voorgelê. Die meeste Hollands-Afrikaanssprekende boere was in die distrik Victoria saamgetrek, maar die lidmate van Peddie het nietemin daarop aangedring dat hulle dorp ook erkenning as kerksentrum kry.
Die Ringskommissie van Albanie het op hierdie dag vergader om oor die versoekskrif te beraadslaag. Die gevolg van die besprekings was dat die nuwe gemeente met die dubbeldoor-naam Victoria en Peddie gestig is.
Die kerkgebou is in 1874 onder ds. W.A. Joubert se leiding opgerig en in 1904 vergroot.
Soos talle ander Afrikaanse gemeentes wat in of aangrensend tot die sogenaamde tuislande geleë was, het die NG Gemeente Peddie reeds jare gelede ophou bestaan. (Morne van Rooyen).