NG Gemeente Venterstad

Venterstad se NG kerk.

gestig

24 Februarie 1874

ring

Ring van Burgersdorp

adres

Louis Trichardstraat, Venterstad

eerste predikant

Ds A,J, Pepler

Die NG Gemeente Venterstad is ’n gemeente in die Sinode van Oos-Kaapland. Die kernpunt van die gemeente is die dorp Venterstad, enkele kilometers van die mees suidelike punt van die Gariepdam. Die nedersetting Oviston by die dam maak ook deel uit van die gemeente. Met vyf doop- en 51 belydende lidmate is Venterstad moontlik die enigste NG gemeente wat kleiner is as die plaaslike Gereformeerde kerk, want dié se syfers was in 2017 vier en 68.

Agtergrond

Die dorp Venterstad is op 24 Februarie 1874 gestig en oorspronklik Ventersburg genoem na J.T. Venter, op wie se plaas die dorp uitgelê is. Die naam moes later verander word na Venterstad omdat intussen ook ’n dorp Ventersburg in die Vrystaat gestig is, hoewel eers in 1890. Die dorpie het in 1895 munisipale status gekry, met die Gereformeerde Kerk as die geregistreerde eienaar, maar in 1930 is die dorpsgrond aan die plaaslike owerheid oorgedra. Dit was hierdie Kerk wat in 1878 40 erwe aan die NG Kerk oorgedra het.

Die NG gemeente is deels van die NG Gemeente Colesberg en deels van die NG Gemeente Burgersdorp afgestig met ds. J.H. Krige van die NG Gemeente Hofmeyr (destyds Maraisburg, K.P.) as konsulent. Van sy begin af was die gemeente een van die kleinstes in die destydse Kaapse Kerk.

Leraars

Prop. A.J. Pepler is op 14 Junie 1883 as eerste leraar georden. Die eerste orrelis was D.J. van den Heever. Die harmonium waarop hy die gemeente gelei het, was sy eiendom en was in die jare vyftig van die vorige eeu in sy kleinseun se besit.

Tydens die eerste amper 70 jaar van bestaan het die gemeente nie minder nie as 11 leraar gehad, naamlik: A.J. Pepler, Christiaan Hendrik Stulting (1902-’05), C. Grundlingh, P.L. Louw (1915-’20), J.L. van Z. Viljoen, E.J. du Toit, J.H.P. van Rooyen (1931-’33), S.S. Weyers (1935-’38), G.C. van Schalkwyk (1939-’44), P.G.R. de Villiers (1944-’47) en D.L. Steyl. J.J. Hamman was van 1998 tot 2001 die laaste leraar. Sy voorganger was ds. Anton van Jaarsveld van 1991 tot 1996. Sedert ds. Hamman se vertrek is die gemeente vakant.

Ds. Pepler het die uiters moeilike taak van aanvoorwerk gehad. Hy het die gemeente van 1883 tot 1899 gelei. Gedurende sy dienstyd is die eerste kerk en pastorie voltooi. Vir die onderwys van Afrikaanssprekende kinders was ds. Pepler ’n ware kampvegter.

Die kerkie soos dit gelyk het in 1916.

Vergrote kerk, nuwe orrel

Tydens die Tweede Vryheidsoorlog van 1899 tot 1902 was die gemeente vakant, maar ná dié tydperk van stilstand en agteruitgang het die ywerige jong predikant C.H. Stulting die drade opgeneem en die gemeentelike sake spoedig weer in gang gebring. Terwyl ds. Grundlingh hier gestaan het, is ’n behoorlike skoolgebou opgerig, waarvan hy die hoeksteen op 21 September 1912 gelê het. Met die aanwas van die lidmate in die tyd van ds. Viljoen is ’n Kerkvergrotingsfonds in die lewe geroep, maar eers op 9 Maart 1929 het die inwyding van die vergrote kerk onder leiding van ds. E.J. du Toit plaasgevind.

Op 23 April 1929 is ’n Apollo-kerkorrel ingewy toe prof. John du Plessis van die Kweekskool op Stellenbosch die wydingsrede gehou en mnr. A.C. van Velden van die Paarl as orrelis opgetree het. Blykbaar was die gemeente nie tevrede met die orrel nie, want enige jare daarna het ds. De Villiers vir die aankoop van ’n pyporrel beywer. Op 20 Mei 1950 is ’n waardevolle Walker-orrel in gebruik geneem en ds. De Villiers het as oudleraar en gas van die gemeente die wydingsrede kom lewer nadat hy reeds in 1947 na Umtata vertrek het. Mev. M.C. Kruger, die gemeente se orrelis, het die eer gehad om die instrument feestelik te bespeel. Dit het plaasgevind onder leiding van ds. D.L. Steyl wat aan die begin van 1949 die herderstaf in die gemeente opgeneem het.

Predikant

  • Abraham Johannes Pepler, 1883 – 1899
  • Christiaan Hendrik Stulting, 1902 – 1905
  • Coenraad Luttig Grundlingh, 1906 – 1914
  • Paul Louis Louw, 1915 – 1920
  • Jacobus Albert van Zyl Viljoen, 1921 – 1927
  • Evert Johannes du Toit, 1928 – 1930
  • Jan Hendrik Petrus van Rooyen, 1931 – 1933
  • Stephanus Salomon Weyers, 1935 – 1938
  • Gysbert Christiaan van Schalkwyk, 1939 – 1944
  • Pieter Gideon Retief de Villiers, 1944 – 1947
  • Douw Lodewyk Steyl, 1949 – 1957
  • Christiaan van Niekerk Pretorius, 1957 –
  • Gert Frans Henning, 1963 – 1965
  • Marthinus le Roux, 1964 – 1969
  • Jacobus Barend Spies, 1977 – 1980
  • Gerrit Loots, 1981 – 1984
  • Christoffel (Christoff) Koch, 1984 – 1991
  • Johannes Jurgens Hamman, 1998 – 2001