Die kerkgebou van die NG Gemeente Vanwyksdorp, afgeneem deur John Conroy.
GESTIG
27 Januarie 1904
Ring
Riversdal
Adres
Kerkstraat, Vanwyksvlei
eerste predikant
A.L. Janse van Rensburg
Die NG Gemeente Vanwyskdorp is op 27 Januarie 1904 deur ’n kommissie die Ring van Swellendam gestig en wel op die plaas Buffelsfontein. Op 5 Februarie 1904 is ds. A.L. Janse van Rensburg, destyds hulpprediker van Ladismith, met algemene stemme tot eerste leraar van die nuwe gemeente beroep en op 27 April van dieselfde jaar bevestig en wel onder ’n ou peerboom, naby die destydse ou skoolgebou waarin die dienste by die begin waargeneem is.
Reeds op Saterdag, 6 April 1907 kon die hoeksteen van ’n nuwe kerkgebou met groot feestelikheid gelê word. Op Saterdag 15 Februarie 1908 kon hierdie gebou plegtig ingewy word met ’n feesrede deur ds. J.W. Louw, die konsulent. Van die koste van £4975 is £3981 reeds met die inwyding afbetaal. By hierdie geleentheid is ook die orrel, wat nou nog diens doen en ’n geskenk van die gemeente Riversdal was, ingewy. Dit was ook tydens ds. Van Rensburg se bediening dat die huidige skoolgebou en pastorie in gebruik geneem kon word.
Op 27 April 1913 is ds. J.H. Hugo in die gemeente bevestig. As gevolg van die plotselinge daling van die volstruisvere, het sy bediening met swaar tye op ekonomiese gebied saamgeval. Met moed en ywer het hy die drukkende kerkskuld wat in hierdie tyd op die gemeente gerus het, aangepak. Ná ’n pligsgetroue dienstyd het hy op 30 Julie 1917 na Riversdal vertrek.
Op 29 April 1918 word hy deur ds. J.H. van Rooyen opgevolg. Op 1 Januarie 1919 besluit die kerkraad tot oorname van die koshuis vir behoeftige kinders en op 17 April 1922 word besluit om met die hulp van die Algemene Armesorgkommissie, ’n nuwe gebou vir die doel op te rig. Ds. Van Rooyen sou ’n kollektereis onderneem. Op 16 Julie 1923 vertrek die leraar uit die gemeente, nadat hy ’n beroep na Du Plooysburg aangeneem het.
Met die koms (in 1925) van die nuwe leraar, ds. D.J. Gildenhuys, was die gemeente diep in die skuld, maar as gevolg van sy bekwame leiding kon daar in 1943 ’n dankdag gehou word — alle skuld, op die koshuis sowel as die gemeente, was gedelg. Tydens sy bediening is daar kalm en rustig, met behulp van sy toegewyde eggenote, voortgewerk en is die gemeente deeglik opgebou.
Op 30 Aug. 1947 is sy opvolger, ds. D. v. d. S. du Toit van Hermanus, in die gemeente bevestig. In September 1948, kon ’n nuwe gedeelte vir dogters by die Goeie Hoop-Losieshuis, Van Rooyenshof, aangebou en ingewy word.